Читать книгу Stukkies van die hemel op aarde - Dirkie Smit - Страница 8

Heilig?

Оглавление

Die kuns van die lewe is om die buitengewone in die gewone te ontdek, die ewige in die alledaagse. Die geheim van menswees is om genade in die gewone te gewaar, verrukking in die vanselfsprekende. Om grootsheid in die kleine, majesteit in die eenvoudige, vreugde in die vertroude te leer vind, ja, om God in ons naaste raak te sien, naby ons, onder ons. Om ware heiligheid te leer herken.

Dis ook die geheimenis van die Christelike evangelie – en die aanstoot daarvan. Die Woord het vlees geword en onder ons kom woon, bely Johannes verstom (1:14). God het onder ons kom huis opsit, in ons tyd, sodat ons sy heerlikheid kan aanskou.

Natuurlik was dit vir mense tot aanstoot, van tóé af al. God se gestaltes onder ons beïndruk ons nie regtig nie. Ons sou sy teenwoordigheid eintlik so anders verwag. Johannes die Doper is skoon besete, kla hulle in die tye van die Evangelies al, totaal vreemd aan die werklikheid. En Jesus is weer te wêrelds, sommer ’n gewone vraat en wynsuiper (Matt 11:16-19).

Nee, God behoort darem ánders te lyk, ánders te kom, meen ons, meer herkenbaar, Goddeliker, heiliger. Hy moet wees soos óns sou verwag Hy moet wees.

Eeue lank sou die vroeë kerk met dié wonder en dié aanstoot worstel. Uiteindelik sou hulle dit stamelend bloot bely, sonder om dit te begryp: Die ewige God woon só onder ons. Só vind ons sy troos, hiér, onder ons, in ons huise, en rondom ons elke dag. Ons leef van die genade in die gewone. En só dien ons Hom, in die heiligheid van die hede.

As ons Christus wil dien, sê Luther, moet ons nie hemelwaarts hunker nie, maar rondom ons kyk. Hom nie dáár gaan soek nie, want Hy is hiér te vinde.

Maar dis vir ons tot teleurstelling en aanstoot. Hoeveel keer nie juis die rug op die evangelie vanweë sy alte menslike, brose gestaltes en getuies nie? Hoeveel vind dit nie moeilik omdat hulle Christenmense en die kerk te goed ken, te van naby, te veel onder die indruk is van die menslikheid van dié draers van die evangelie nie, ja, dikwels erger as vrate en wynsuipers!

Predikers, profete, pastore, priesters, pouse lyk, van naby bekyk, maar presies nes ons almal.

Hoeveel verlang nie ’n ánder belewenis van God nie? ’n Ander soort heiligheid, minder alledaags, meer Goddelik? Al moet hulle ver soek, hoog styg, lank wag, baie deurmaak?

Soos in die storie van ene mevrou Shapiro van Brookline, Massachusetts. In die Himalajas gaan sy op soek na die heilige wat bly op een van die mees ontoeganklike pieke. Ná talle weke van oneindige ontberings bereik sy einde ten laaste die plek. Maar ’n jong dissipel van die heilige sê hy is baie besig en sy kan hom eers vier dae later sien, om drie-uur die oggend. Intussen kan sy in ’n grot bly wag. Wat sy doen. Ondanks die geweldige koue, al moet sy op die klipgrond slaap, en al het sy slegs wilde bessies en koue jak-melk om te drink.

Ná ’n paar nagte kom haal die dissipel haar uiteindelik soos belowe na ’n ander grot. En daar sit die heilige inderdaad. Mevrou Shapiro stap summier nader, en sê: “Marvin, kom nou ’n slag huis toe!”

Nou, dáár is nou vir jou ’n regte soort heilige, of hoe?

Dié mevrou Shapiro?

Stukkies van die hemel op aarde

Подняться наверх