Читать книгу Stukkies van die hemel op aarde - Dirkie Smit - Страница 18
Die geur van koffie
ОглавлениеOns kan nie eens die geur van koffie beskryf nie, sê die uitsonderlik kreatiewe en invloedryke wysgeer Ludwig Wittgenstein. En hy behoort te weet: van die geur van koffie én van hoe om te beskryf!
As boorling van Wene kén hy koffie, en al die wonderbare assosiasies wat dié geur by ons kan oproep. Assosiasies van kafees en koerantlees, van gesellige vriendskap, van rustige ure, van polsende straattonele, van warm-wasem-teen-wit-winterkoue.
As baanbreker-taalfilosoof van die 20ste eeu weet hy ook beter as enigeen wat woorde kán en nié kan beskryf nie.
Trouens, hy word juis aanvanklik beroemd vir sy teorie dat ons met taal die werklikheid én die waarheid akkuraat kan ken en verwoord; dat ons presies, eksak die wêreld van feite daarbuite kan afbeeld en uitsê. En toe word hy in sy latere jare éérs beroemd deur te sê dit is nie so nie, sy vroeëre teorieë oor die vermoë van ons taal was nie reg nie! Die waarheid is eerder dat taal en woorde die geheimenis van die lewe nié volkome kan vasvang en weergee nie. Die werklikheid is eerder dat lewe en waarheid vol is van misteries, misteries wat wel wérklik is, ja, vir séker – so werklik en so waar soos die geur van koffie! – maar misteries wat ons nooit voluit kan begryp en verwoord nie.
Nee, ons kan die geur van koffie nie eens voluit beskryf nie. En tog is dit dáár, en werklik, en vol betekenis, vol assosiasies, vol herinneringe, vol waarheid. Want geure kan doen wat woorde nie kan nie. Dit roep assosiasies op, skep stemming, wek gevoel, verander ons luim deur onnoembare herinneringe. Veral digters weet dit maar alte goed. Vra maar vir [7]DJ Opperman wat sy nooi in ’n nartjie kon ruik, sy ouma in kaneel, en in die geur van anys is daar iemand misterieus, ja, sê hy, “daar’s ’n vrou in elke geur!
Geen wonder nie dat die Bybel ook dié geurmetafoor gebruik vir die góédheid van Christus.
Sy offer is ’n gawe vol lieflike geur, sê Filippense 4:18, vol wonderbare assosiasies, onmoontlik om voluit te verwoord. Dit skep stemming, vreugde, dankbaarheid – en roep gelowiges om óók so ’n lieflike geur te versprei, om onsself diensbaar te stel as welbehaaglike, aangename offers (Rom 12:1; 2 Kor 2:14-16). Sodat, al kan hulle dit nie mooi verstaan of verwoord nie, enige samelewing gelukkig behoort te voel, dankbaar, góéd, omdat daar Christene onder hulle woon en leef – en sodat hulle God sal dank vir dié teenwoordigheid, dié geur van offervaardige diens.
Maar nou ja, hoeveel mense kan die geur van koffie eintlik nie verdra nie? Dis die lot van geure, álle geure.