Читать книгу Sewe-en-veertig - Irma Venter - Страница 11
JAAP 1.
ОглавлениеMaandag 6 Julie, 13:07
The 33 het drie-en-dertig kamers. Dis waar die naam vandaan kom. Die glansbrosjure in my hand sê die hotel is “waarlik uniek in dekor en styl”. Lyk vir my meer soos sinonieme vir volksvreemd, of weird, soos Sarah sou sê.
Die hoofkleure in retro-avant-garde styl – wat dit ook al mag beteken – is silwer, goud en blou. En moenie die drie blink, swaar kandelare vergeet wat in die oop ruimte by die voordeur hang nie. Hulle skitter oordadig in die rye spieëls wat die plafon versier.
Agter ontvangs is groot vensters waardeur ek die V&A Waterfront en die Zeitz-museum vir kontemporêre Afrika-kuns kan sien. Na links staan ’n vistreiler in die droogdok, twee mans in oorpakke wat aan die romp werk. ’n Seiljag vaar in die hawe verby, vae figure wat op die dek skarrel.
Ek mag nie veel van die 33 dink nie, maar die toeriste stem nie saam nie. Die oorvol hotelrestaurant klink soos Babel. Ek kan Duits, Nederlands en Spaans uitmaak waar ons by een van die ronde tafels sit.
Sarah kon ’n kamer kry, die heel duurste een, twee vloere bo Jordan Moore se kamer. Ook maar goed sy betaal, want ek kan hierdie plek nie bekostig nie.
Die vierkantige sesverdiepinggebou doen niks om weg te steek dat dit bedoel is vir mense met geld nie. Die personeel ook nie. Ek en Sarah is soos straatmense behandel tot sy die Afrikaans gelos en ’n kamer bespreek het.
Ons het klaar afgespreek dat ek hier gaan bly. Sarah sal oorkant die pad in ’n goedkoop backpacker-hotel slaap. Ek gaan haar nie naby hierdie verdagte toelaat nie, al twyfel ek sterk oor Mosi se datapatroon.
Ek hoop Sarah se hotel het vinnige wi-fi, om hulle eie onthalwe.
Sarah stoot haar teekoppie eenkant toe. “Wanneer maak daai masseuse nou eendag klaar? Dalk het ons haar gemis.”
“Ontspan. Ek het die agentskap gebel om kamtig ook een van hierdie venik-masserings te boek, en volgens hulle bring sy altyd haar eie takke saam sodat die kliënt tussen die verskillende tipes kan kies. Dit beteken ons behoort haar maklik uit te ken. En die sauna is op die boonste vloer, langs die Sunset Bar – ek het gevra. Die personeel se hysbak benodig ID-kaarte en sy sal nie een hê nie, want haar agentskap sê sy werk nie gereeld hier nie. Sy kan ook nie die brandtrap gebruik nie, want dis gesluit. Dit beteken sy gaan die hoofhysbakke gebruik wanneer sy klaar is, so ons sal haar sien.”
Ek sit die brosjure neer, drink van my koffie. My toebroodjie en Sarah se Benedict-eiers is op pad.
“Vertel my van Mosela … Mosi,” sê ek.
“Vertel jou wat?” Sarah kruis haar bene. Die stywe swart jeans protesteer.
“Jy vertrou haar. Jy vertrou niemand nie.”
“Jy is dan hier.”
Ek oorweeg haar woorde, besluit om dit as ’n kompliment te sien. Beduie sy moet begin praat.
“Ek het mos al verduidelik. Mosi samel data in …”
“Nee,” stry ek. “Van die begin af.”
“Soos by haar pedigree? Of waar ons vriende geword het?”
“Stamboom.”
“Ek weet nie.”
Aan haar frons kan ek sien die gedagte grief haar.
“Hoe kan jý, van alle mense, nie weet nie?”
“Mosi is nie op die Net nie. Niks van haar nie. Ek weet nie eers of sy ’n geboortesertifikaat het nie. Ek kon niks by Binnelandse Sake opspoor nie.”
“Wat dan van die tronk? Hoekom was sy daar?”
“Diefstal.”
“Detail, Sarah Fourie, detail.”
“Kos, klere. Kredietkaartbedrog.”
“Hoe lank was sy daar?”
“Net meer as drie jaar.”
“En sy’t na jou gekyk?”
“Ja,” sê sy. “Sy het inligting oor mense gehad, goed wat sy gebruik het by die bewaarders en die hard-core gevangenes. Moenie dink als is wet dreams en happiness in ’n vrouetronk nie.”
“So dis hoekom ons hier is? Want jy’s in die rooi by haar?”
“Ek doen nie skuld nie, Jaap, jy weet dit. Ek hou van Mosi. Sy is nie vol k … nonsens nie en sy weet wat sy wil hê. Sy het nie in daai plek begin wat jy vandag gesien het nie. Sy het in Khayelitsha in ’n shack gebly. Sy het haar self tot hier gekry.”
Ek skud my kop. “Dit mag waar wees, maar iets is nie lekker aan jou vriendin nie.”
“Sy mag dalk bietjie obsessief wees oor stof naby haar masjiene, ja.”
“Mense is gewoonlik oor meer as een ding obsessief. Dis deel van hulle DNS.”
“Okay. Sy’t seker ’n ding oor data ook. Om te weet. Maar dit kom al van voor die tronk en die rekenaars af.”
“En jy weet nie hoekom nie?”
“Nee.”
“Jy jok.”
Sy skink vir haar nog tee, kyk nie na my nie. “Natuurlik jok ek. Ek respekteer haar privaatheid. Nes ek joune respekteer.”
“Onsin. Jy’t als oor my probeer uitvind voor jy destyds ingestem het om my te help. Jy’t dit netnou so ewe erken.”
“Maar ek het dit met niemand geshare nie. Daar’s ’n verskil.”
Ek drink my koffie klaar, lag effens. “Dis baie relatief.”
“Nes die goed wat tot aanranding lei.” Sy kyk op, stoot haar ken vorentoe, asof sy lus is vir baklei.
“Sarah, moenie nou nonsens soek nie.”
Ek wens die meisiekind kan gaan slaap. Dit gaan ’n lang dag wees. “Vertel my van Mosi se ding met tyd. Daar’s nie ’n horlosie in die Library nie. Behalwe seker nou op die rekenaars, maar jy weet wat ek bedoel.”
Sy meet heuning in ’n teelepel uit en roer dit by die tee in. “Mosi hou nie van die diktatorskap van tyd nie. Haar woorde, nie myne nie.”
“Hoekom?”
Sarah kyk stip na die teelepel wat al in die rondte beweeg. “In die tronk was als buite mens se beheer. Als het op ’n presiese tyd gebeur, of jy nou wil of nie. En jy kon nooit net verdwyn en alleen wees nie. Dit maak mens mal.”
Sy kyk dankbaar op toe die kelner ons kos voor ons neersit, stoot die tee eenkant toe.
Ek gooi weer ’n ogie oor die hysbakke. Hap aan die toebroodjie. Krakerige gerookte spek, tamatie en blaarslaai. Die 33 het nie styl nie, maar hulle weet van kos.
Ek vee my mond met die wit linneservet af. Ek gaan ’n prys vir hierdie middagete betaal. Gelukkig het ek vanoggend die pynpille onthou.
Ek gee Sarah kans om iets in haar lyf te kry, vra dan weer: “Vertel my van die Library. Ek verstaan nie hoekom Mosi sekere data het, maar jy die res moet soek nie.”
Sarah kyk op van haar bord, beduie met die mes na my. “As ek geweet het jy gaan so aanhou, het ek jou by die huis gelos.”
“Dis nou te laat.” Ek beduie sy moet antwoord.
Haar eetgerei maak vraagtekens. “Wat bedoel jy met ek ‘moet die res soek’?”
“Mosi weet wie by die hotelle ingeboek het, maar jy moet deur die kredietkaarte werk. Hoe so?”
“O. Dis maklik. Mosi hack nie. Sy werk net met die databasisse waartoe sy toegang het, soos hotelverblyf en motorhuur. Sy werk al jare lank op kontrak vir die toerismebedryf.”
“Okay, dit maak sin, maar hoe maak sy dan haar geld?”
“Sy verkoop verwerkte data. Maatskappye betaal baie vir die inligting wat sy voorsien.”
“Soos wat?”
Sarah hap die eier op haar vurk, kou, sluk. “Sy help byvoorbeeld die toerisme-ouens om te kyk hoeveel tyd oorsese besoekers in die stad spandeer, waarheen hulle gaan, watter motors hulle huur en by watter tipe hotelle hulle oorslaap. En sy werk nie net vir die toerismebedryf nie. Ek weet sy het ook al die stadsraad gehelp om verkeerspatrone te plot om te sien waar hulle nuwe paaie moet bou. Daarvoor sal sy tipies mense se fone en die stad se CCTV-stelsels track. En sy het al ’n ooreenkoms met ’n vehicle tracking-maatskappy geteken om te kyk waarheen hulle kliënte orals ry. Sy anonymise die data – meeste van die tyd – wat beteken dis als wettig.”
“Wat beteken dit?”
“Sy maak seker die data word nie aan ’n spesifieke persoon gekoppel nie. Met die tracking company se data sien jy wie die voertuie besit – ras, ouderdom, geslag – maar jy sien nooit die naam nie. Jy het dit anyway ook nie nodig nie. Jy kan sien hoe duur die voertuie is en waar hulle stop, by watter kantore en winkelsentrums. Jy kan sien waar brandstof ingegooi word en waar hulle slaap. Met daai info kan jy weer plot hoe duur die huise is waar hulle parkeer en hoeveel geld die mense verdien wat daar bly. Ensovoorts, ensovoorts. Daardie demografiese data is baie werd as jy byvoorbeeld ’n nuwe winkelsentrum wil bou, of ’n advertensiebord wil opsit wat die regte oë moet trek.” Sy vat ’n sluk van haar rooibostee. “En dis omtrent dit.”
Klink te veilig vir iemand wat so bang is vir die polisie. “Dit kan nie al wees nie.”
Sarah trek ’n gesig asof ek besig is om haar te martel. “Ek weet sy hou soms die elektroniese deure oop ná die kontrak verby is.”
“Dis beslis nie al nie. Nie soos julle aangaan nie.”
Haar oë takseer my. Die vurk, weer vol gelaai met eier en ham, huiwer voor haar mond. “Wat gaan jy maak as jy weet?”
“Wat bedoel jy?”
“Jy weet goed.”
“Ek gaan niks sê nie.”
“Regtig?”
“Belowe.”
Sy eet die kos van haar vurk. “Onthou jy die drones waaroor ek haar gevra het?”
“Die hommeltuie?”
“Whatever. Mosi gebruik hulle om oop wi-fi-netwerke te hijack. Jy kan baie inligting van sulke netwerke oes. Dit help dat amper almal nou gratis wi-fi aanbied.”
Sy beduie om haar. “Hierdie hotel het byvoorbeeld gratis wi-fi. Jy kan hier bly en ’n moerse spul inligting oor jouself verklap as jy dit gebruik. Die websites wat jy browse. Wat jy op Facebook like. Wat jy instagram. Met wie jy baklei. Rekeninge wat jy betaal. Vir wie jy skelm boodskappe stuur. Wat jy aanlyn koop. Dis ’n moerse lang lys.”
“Wat doen Mosi met hierdie data?”
“Sy maak dit iets sinvols – maak dit patrone, databasisse – en verkoop dit. Corporates betaal baie vir inligting soos hierdie. Hulle wil weet wat mense koop, wat hulle gaan koop, waar hulle dit koop, wanneer hulle dit koop, wat hulle graag wil koop, you name it. Veral mense met geld. En hulle vra nie altyd waar die data vandaan kom nie.”
“En verkoop is al wat sy daarmee doen?”
“Ja.”
“Wat van die regering? Is hulle ook een van haar kliënte?”
“Uh-huh. Mosi doen nie besigheid met hulle nie. Anders sou ek nie dat sy Alfred nou en dan gebruik nie.”
“Alfred?”
“My superrekenaar. Big data vra groot breinkrag.”
Dit verduidelik daai monsterrekenaar op die tweede vloer van haar woonstelblok in Pretoria.
Ek hap weer aan die toebroodjie. Kyk hoe ’n peuter verby ons tafel strompel, sy petite Chinese ma agterna. “Wat doen sy nog wat julle so senuweeagtig maak? Kan nie net hommeltuie wees nie.”
Sarah sit haar mes en vurk neer asof sy oorgee. “Ek weet nie alles van haar af nie, Jaap. Daarvoor is sy hopeloos te privaat. Wat ek wel weet, is dat sy onlangs met ander projekte ook begin het. Dis waarmee Smittie help, en dis waar Mosi se 59% heel waarskynlik vandaan kom.”
Sy hou haar hand op. “Voor jy vra. Haar naam is Olga Smit en sy’s heeltemal above board. Sy’t my ook al gehelp. Sy is besig met haar doktorsgraad in algoritmes wat menslike gedrag voorspel. Sy het ’n meestersgraad in toegepaste wiskunde.”
Algoritmes? Ek begin twyfel of ek ooit hierdie gesprek moes begin het. “Jy gaan beter moet verduidelik. Hoe help hierdie algoritmes die Library?”
Sarah se frustrasie word ’n graad erger.
“Smittie en Mosi gebruik al die data wat die Library insamel om voorspellings te maak oor mense se gedrag. As jy byvoorbeeld lojaliteitskaarte by winkels en gyms vat, en mense se Facebook posts en Twitter likes en al daai nonsens, dan gebruik Smittie AI en ML – artificial intelligence en machine learning – om te voorspel wat hulle volgende gaan doen en koop.”
Sy trek haar skouers op. “Dis hoekom ek heeltyd sê: pasop vir gratis wi-fi en vir oop netwerke. Vir GPS en slimfone. Jy weet nooit wie in jou data rondkrap nie.”
Die hysbak naaste aan ons gaan oop. Drie mense klim uit, een van hulle ’n korterige blonde vrou met sterk skouers, ’n sportsak oor haar arm en in haar hande twee bosse takke, toegedraai in deursigtige plastiek.
“Saved by the bell.” Ek beduie met my ken in die vrou se rigting. “Daarsy. Sy’s joune.”
’n Sug van verligting plof oor Sarah se lippe. Sy stoot die hotelkamer se toegangskaart tot langs my bord.
“Dankie.” Ek gaan bietjie op die derde vloer ronddrentel en my oë oophou vir kamer 3002 se inwoner. Ek sou reken mens gaan stort ná ’n venik-massering.
“Het Mosi al vir jou laat weet hoe die Jordan-knaap lyk?” vra ek.
“Nee. Sy sal sodra sy kan. Moenie worry nie.”