Читать книгу Sewe-en-veertig - Irma Venter - Страница 12

Оглавление

JAAP

2.

Maandag 6 Julie, 13:36

Ek wag tot Sarah en die vrou by die hotel se foyer uit verdwyn.

By die hysbakke duik die eerste probleem op. Fênsie hotelle het fênsie hysbakke. Ek moet die kamer se sleutelkaart indruk en dan die vloer aandui waarheen ek wil gaan. Sal my kaart vir kamer 5001 my op die derde vloer toelaat?

Darem seker. Hier moet tog gaste bly wat oor en weer kuier.

Die nommer 3 verlig.

Fantasties.

Beethoven ruk en rol al die pad boontoe in die hysbak.

Ek klim uit toe die deure oopgaan. Staan vir ’n oomblik rond terwyl ek die ruimte inneem. Die lug is koel en vars. ’n Vaas met geel rose staan op ’n stinkhouttafel tussen die twee stelle hysbakke. ’n Bronsbordjie sê kamers 3001 tot 3005 is links af in die gang en kamers 3006 tot 3008 regs.

Ek loop na die linkerkant, sleutelkaart in die hand, asof ek op soek is na my kamer. Ek beweeg stadig, versigtig, my ore gespits, die dik matte wat my voetstappe insluk.

3001 baklei. Twee mans.

Stilte by 3002.

Niks by 3003.

3004 staan oop, personeel is besig om die kamer skoon te maak.

Ek hou aan loop, gaan staan by 3005 se toe deur. Hopelik is die kamer leeg tussen gaste wat reeds die hotel verlaat het en nuwes wat nog moet opdaag.

Ek staan vir omtrent vyf minute rond. Kyk nou en dan op my horlosie, asof ek vir iemand wag, net ingeval ek die skoonmakers se aandag trek.

Voetstappe uit die rigting van die hysbak.

Ek gaan staan voor 3005 se deur. Kyk vlugtig na links. ’n Man en vrou staan by 3002.

Mosi het niks gesê oor twee mense nie?

Ek druk my kaart in die kamer se deurslot, asof ek hier bly. Die liggie flits rooi. Ek vroetel met die kaart asof dit probleme gee. Ek hoop wragtig die plek is leeg.

Die man en vrou loop by 3002 in.

Drie, vier minute gaan verby.

Die deur gaan weer oop.

Ek haal my foon uit, maak asof ek met ontvangs oor die sleutelkaart praat.

Die man is lank en aantreklik. Donker hare, agtertoe gekam, keep in die ken, fikse lyf. Ek skat hom in die dertig. ’n Maori-tatoe steek onder die opgerolde mou van die ligblou linnehemp uit. Die goue horlosie aan sy arm lyk duur.

Ek druk weer die kaart in. Vloek onderlangs asof ek nie kan uitmaak wat aangaan nie. Ek raas kamtig oor die foon en dring aan die hotelbestuurder moet iemand hierheen stuur, dis die derde keer dat dit gebeur en ek gaan nie weer terugloop na ontvangs nie.

Nog ’n kyk na links. Die man druk ’n paar geldnote in die voorste sak van die vrou se jeans. Sy’s ’n brunet, ook in haar dertigs, raai ek. Goed gedefinieerde lyf, langer as meeste vroue. Moulose rooi bloes met ’n lae hals. Mooi, volronde borste. Sy dra ’n swart donsbaadjie oor haar arm.

Sy vat die geld, lag, soen hom. Haar glimlag is wyd, geoefend. Koud.

Is sy ’n prostituut? Was dit ’n betaalde plesier en toe die massering vir hulle al twee? Dis seker moontlik.

Die kamer se deur slaan toe en die man en vrou loop na die hysbak. Ek wag vir die pieng van die hysbakdeure. Hardloop toe ek dit hoor.

Ek soek om my rond. Die hotel het geen trappe nie. Of eerder, dis als gesluit. Dit word net oopgemaak in geval van ’n brand.

Ek druk die knoppie vir die hysbak. Komaan, komaan!

Uiteindelik.

Ek jaag die hysbak aan al die pad grondvloer toe. Hopelik is die twee nog in die foyer.

Ek klim uit en kyk rond. Rooi bloes, blou hemp … waar is hulle?

Daar, net buite die breë glasdeur van die hotel.

Hy buk af, soen haar vlugtig en stap weg. Sy klim in ’n wit taxi. Nee … Uber. Onmoontlik om haar te volg.

Ek loop by die glasdeur uit, reg tot in die gure wind, die man in die blou hemp omtrent vyftig meter voor my.

Sewe-en-veertig

Подняться наверх