Читать книгу Sewe-en-veertig - Irma Venter - Страница 20

SARAH 1.

Оглавление

Maandag 6 Julie, 19:39

Isolde bedank Tatoevrou met ’n breë glimlag. Hulle gesels nog ’n bietjie voor hulle groet en Isolde terugloop kombuis toe.

Die vrou het kontant betaal. Geen kredietkaart om te trace nie.

Sy sit terug in haar stoel, drink aan die laaste rooiwyn in haar glas.

Ek eet my salm klaar, probeer om nie te staar nie. Mosi blaai lusteloos deur haar kerrie.

“Wanneer kan ons deur die slagoffers gaan?” vra ek. “Die toeriste?”

Mosi stoot haar bord eenkant toe. “Vanaand nog. Smittie het reeds hulle inligting getrek.”

Ek beduie na haar bord. “Nie honger nie, of nie lekker nie?”

“Heerlik. Maar ek’s bekommerd oor wie hierdie vrou is en wat sy gaan aanvang. Het jy nog niks op die tattoo chatrooms gekry nie?”

“Nee. Wie ook al die boom op haar rug gesit het, is morsdood.”

Isolde verskyn uit die kombuis, besig om haar voorskoot af te haal. Sy maak haar hare los. “Mooi bly!” roep sy oor haar skouer. “Dankie vir die toesluit.”

“Baai. Geniet jou aand,” groet ’n manstem. Klink soos ons kelner.

Isolde druk die voorskoot onder die toonbank in en haal ’n trui saam met ’n handsak uit. Sy trek die trui aan. Dis redelik dik, maar beslis nie warm genoeg vir die weer daar buite nie. Beteken seker sy gaan ry, nie loop nie.

Sy kyk op haar horlosie voor sy deur toe draf.

Ek loer na myne. Tien voor agt. Dis ’n vreemde tyd vir ’n skof om te eindig. Dalk is dit omdat die restaurant so stil is. Daar is net drie tafels met gaste en almal het klaar geëet.

Tatoevrou se oë volg haar toe sy uitgaan.

Mosi beduie haar dank aan die kelner wat haar bord wegneem. Sy sit terug, trek die gestyfde wit servet oor haar skoot reg. “Nagereg?” vra sy hoopvol.

Sy is mal oor enige iets met sjokolade. Ek vrek vir ’n sigaret. Ek moes nooit vanmiddag gerook het nie. Nou gaan ek weer nikotiensproei moet koop om van die lus ontslae te raak.

Tatoevrou staan op. Ek stuur vir Jaap ’n boodskap onder die tafel.

Toe sy uit is, wink ek ons kelner nader.

“Daar’s ’n lekker witsjokolade-en-framboosmousse op die spyskaart,” sê-vra Mosi.

“Ons het nie tyd nie. Dalk het Jaap ons nodig. Ons moet reg wees vir ingeval hy bel.”

Ek kry die rekening en betaal. “Kan ons ’n tafel vir môreaand bespreek?” vra ek die kelner toe ons opstaan.

Hy beduie ek moet saam met hom loop. “Sekerlik.”

Mosi kyk vraend na my.

Ek volg die kelner na die besprekingsboek. Gelukkig is môre se bladsy langs vandag s’n. Ek gee vir hom dieselfde vals naam en selnommer as vanmiddag. Neem dan ’n foto van die twee bladsye. “Anders vergeet ek.”

Die kelner groet vriendelik toe ons uitstap.

Sewe-en-veertig

Подняться наверх