Читать книгу Sewe-en-veertig - Irma Venter - Страница 23

JAAP 1.

Оглавление

Maandag 6 Julie, 20:32

Die naglug koel nog ’n paar grade af, maar ek wil nie die Audi se venster toemaak nie. Ek slaan my baadjie se kraag op en kruis my arms teen die kil wind wat darem al bietjie van sy woede verloor het. Die see raas dat ek dit kan hoor. Kom die gety in?

Die onthou oorrompel my uit die bloute. Visvang saam met my pa op Struisbaai, voor al die blink strandhuise en groot bakkies die plek oorgeneem het.

My eerste vangs was ’n verdwaalde diepseevis, seker desperaat vir iets om te eet. Tot vandag toe weet ek nie wat vir ’n ding dit was nie. My pa ook nie, al het hy gemaak asof hy weet. “Sponsvis,” het hy die groterige, blokkerige vis met die twee klein vinne genoem.

Hy is veertien jaar terug aan keelkanker dood. Bogger.

Af in die pad gaan die BMW se deur oop. Die kajuitlig word vinnig afgesit. Ek skuif regop agter die stuur. Dis seker amper ’n kwartier ná ons hier aangekom het.

Ek hoor Manor Place se hek oopgaan. ’n Figuur in ’n sweetpak verskyn op die sypaadjie met ’n hond aan ’n leiband. Lyk soos ’n vrou, skraal, maar met kurwes. Die baadjie se kappie verberg haar gesig.

Tatoevrou klim uit die BMW. Sy trek die swart donsbaadjie se kappie oor haar kop en steek haar hande in haar sakke. Ek is slimmer as sy, skakel eers die Audi se binnelig af en maak dan die deur sagkens oop en toe.

Wat nou? Volg ek haar?

Sy loop haastig in die rigting van die woonstelblok, haar treë sag en afgemete.

Die vrou en die hond begin see se kant toe stap, onbewus van Tatoevrou wat reguit op hulle afpyl. Daar is niemand anders op straat nie.

Ek haal die pistool uit en rek my treë. Ek is skaars twintig meter agter Tatoevrou.

Die hond stop om sy been teen ’n lamppaal te lig. Die vrou haal haar selfoon uit en tuur na die skerm terwyl sy wag. Sy stoot haar kappie effe terug. Ek herken haar in die lig van die selfoon. Dis Isolde van die restaurant.

Tatoevrou haal iets onder haar baadjie uit, laat sak dit tot langs haar been. ’n Mes?

Ek is tien meter weg, my voetstappe geluidloos in die rubbersoolskoene. Tatoevrou is ’n paar treë agter Isolde.

Die jong vrou, steeds verdiep in haar foon, staan eenkant toe dat Tatoevrou kan verbykom.

Die hond pluk aan sy leiband. Grom.

Ek span die pistool, hardloop voluit.

Tatoevrou kyk terug asof sy die klikgeluid van die Parabellum herken. Sy sien my, spring om na Isolde.

“Isolde!” brul ek. “Hardloop!”

Haar kop ruk op, skok en verbasing op haar gesig. Tatoevrou trek haar arm terug, mes in die hand.

Ek duik haar om, gebruik my volle liggaamsgewig. Gryp na die mes.

Die lem tref Isolde in die arm. Sy gil en spring weg. Bloed spat op my baadjie, my gesig. Die hond begin blaf, hoog en skel. Gryp my aan die enkel.

Tatoevrou sak op haar hande en knieë neer, maar bly hardnekkig staande. Hoe sterk is hierdie vrou?

Ek druk die pistool teen haar nek. “Don’t move!”

Sy lig haar linkerhand, asof sy oorgee. Val dan skielik plat op die grond. Ek soek vervaard na balans, my linkerhand wat tas na die sypaadjie.

Sy gryp oor haar skouer na die pistool se loop en trek dit hard vorentoe. Draai dit dat my vinger in die snellerbalk vasgevang word.

My hand sper oop. Die pistool val uit. Sy skop links vas, skiet regs onder my uit. Ek gryp na haar baadjie. Sy ruk haar skouers uit die kledingstuk, skop die pistool in die hardloop weg. Vat die pad soos ’n vlakhaas, BMW toe.

Ek kom orent, duik om die Parabellum op te tel. Hol agterna.

Sy spring in die BMW, maak ’n U-draai en jaag met skreeuende bande weg.

Ek gaan staan in die middel van die straat. Deur die gesuis in my ore en ’n skielike pyn in my bors hoor ek Isolde nog steeds histeries skree.

Moet ek die BMW agternasit?

Nee, Isolde het my hulp nodig.

Ek draai om, skakel Sarah se nommer. Praat met asem wat vassteek in my bors.

“Twee dinge. Mosi moet Tatoevrou se BMW soek, en jy beter na Isolde se woonstel toe kom. Hier’s groot moeilikheid. Sê vir Mosi haar 59% is 100%.”

Sewe-en-veertig

Подняться наверх