Читать книгу Sewe-en-veertig - Irma Venter - Страница 15

Оглавление

SARAH

2.

Maandag 6 Julie, 13:51

Ek draf oor die parkeerterrein in die hotel se rigting. So ons is agter ’n vrou aan, nie ’n man nie. Toegegee, die naam Jordan Moore kan by al twee pas.

Ek maak my foon oop en lees die boodskappe wat vroeër deurgekom het. Dis van Jaap. Ecstasy? Waar de hel is dit?

Ek steek die pad oor, skel die bestuurder wat op my vloek omdat ek voor sy vragmotor insny. “Ja, ja, whatever!”

My foon lui. Dis Mosi.

“Lyk my Jordan Moore is ’n vrou,” sê sy.

“Nou net uitgefigure.”

“Hoe?”

“Lang storie. Praat later. Ek moet by Jaap uitkom.”

Ek lui af, begin draf. Vier blokke weg. Twee. Een. Ek storm by die koffiewinkel in.

Nice plek, kak naam. Klink asof dit porn verkoop.

Jaap sit by ’n man in ’n blou hemp en kyk hom aan asof hy nie sy ore kan glo nie. Ek kan die irritasie in sy stem hoor toe ek nader loop.

“En die geld wat jy haar gegee het?”

“Dude, kleingeld. Hoeveel keer moet ek dit nog sê? Ek vat net cash. Dit hou die taxman uit my besigheid. En jy sal verbaas wees hoeveel vrouens dit like as jy nee sê vir ’n tip, so asof jy regtig daarvan gehou het om by hulle te slaap. Hulle kom amper altyd terug.”

Die man is so Afrikaans soos ek en Jaap. Ek stap tot by hulle tafel.

Die man gluur my eers aan, maar sit dan stadig terug in sy stoel. Glimlag. Daar is iets glads en geoefend aan die gebaar. “Haai. Is jy sy dogter? Kleindogter?”

Ek gaan sit langs Jaap. “Hy’s ’n sekswerker.”

“Hey!” stry die man. “Ek hou vroue geselskap. Dis al.”

Ek hou my hand op. “Wil nie hoor nie. Stel nie belang nie. Ons is nie van die polisie nie.”

Ek kyk na Jaap. “Het jy ’n vrou by hom gesien? Sý is die een wat van venik-masserings hou, nie hy nie.”

Jaap beduie van die man na homself. “Dis wat ek en Jason hier so pas uitgewerk het. Dit sou baie tyd gespaar het as daai vriendin van jou ons dit vroeër laat weet het.”

Ek is nie lus vir nog ’n gesprek oor Mosi se foute nie. Ek kyk na die man – Jason. “Vertel ons van jou kliënt.”

Hy stoot sy leë teekoppie eenkant toe. “Julle mors my tyd. Ek moet my volgende date oor tien minute hier kry.” ’n Wysvinger beduie in Jaap se rigting. “En jy lyk alte veel na ’n cop. Ek glo nie daai storie oor afgetree wees nie.”

“Hoe vinniger jy praat, hoe vinniger loop ons.” Jaap stoot sy bene onder die tafel in. “So nie, gaan ek hier bly sit.” Sy stem word harder. “En jy weet, ek kan nie meer so mooi hoor nie. Ek dog nog altyd ware mans betaal nie vir seks …”

“Whoa, dude!” Jason beduie Jaap moet sagter praat. “Really.”

’n Paar mense kyk gesteurd na ons, gee dan weer aandag aan hulle koffie.

“Praat,” sê Jaap.

“Wat wil jy weet?”

“Waar kom die vrou vandaan?”

“Hoe bedoel jy?”

“Land. Watter land?”

“Ek weet nie.”

“Raai. Het sy ’n vreemde aksent? Is sy van Asië? Rusland? Beskryf haar. Ek het haar net so skuinsweg in die hotel gesien.”

Ek haal my rekenaar en my foon uit my rugsak. Maak weer Jaap se boodskappe van vroeër oop. Dalk kan ek uitvind waarheen die vrou gery het. Hopelik is hy reg oor die feit dat sy ’n Uber bestel het. Ek kan nie glo hy het die nommerplaat onthou nie. Dit beteken ek kan die kar trace en die bestuurder opspoor.

Jason kyk op sy horlosie.

“Ek sal jou betaal,” bied ek aan. “Twee maal jou gewone prys. ’n Halfuur van jou tyd.”

“Ja, maar môre is jy weg, en as ek nie betyds is vir my volgende kliënt nie, gaan sy iemand anders soek. Die helfte van my besigheid is returns.”

“Drie maal jou rate,” sê ek.

Hy dink. “Vier maal.”

“Drie. Niks meer nie.”

“Okay, okay. Die vrou is Europees, sou ek sê. Spaans? Of dalk Israel of Sirië. Een van daai Mediterreense of Midde-Oosterse plekke. Sy’t die simmering complexion van daai deel van die wêreld. Ek het gebackpack ná ek klaar was met universiteit.”

“Universiteit?” Jaap klink verbaas.

“Mikrobiologie. Boring se moses. Ek het in my derde jaar opgeskop.”

Hy lag vir Jaap se gesig, bestel nog ’n koppie tee by die kelnerin. “En voor jy weer vra oor aksente. Sy’t Engels gepraat, maar baie neutraal, jy weet. Nie posh soos die Britte of plat soos die Amerikaners nie.”

“Dink jy dis haar eerste taal?” vra ek.

“Nee. As Engels jou eerste taal is, praat jy ’n sekere tipe Engels. Teen dié tyd weet ek dit al. Jy sal verbaas wees hoeveel toeriste seks soek as hulle Kaap toe kom.”

“En kon jy glad nie uitwerk waar sy vandaan kom nie? Dink. Jy’t nie dalk haar paspoort gesien nie?”

“Nee. Ek kon nie ’n handsak sien nie, noudat jy daarvan praat.”

“Hoe het sy jou dan betaal?”

“Die cash het op die bedtafel gelê.”

Jaap haal sy leesbril en ’n notaboek uit sy baadjiesak. Hy sit die bril op en slaan die boek oop, maak ’n aantekening.

Hy kyk op. “So daar was niks wat sê sy’s Russies nie?”

“Russies?” vra Jason verbaas. “O, oor die weird massage? Ek het nogal gevra hoekom sy dit bo ’n Swedish verkies. Sy’t gesê dat sy ’n paar keer in Moskou was en mal is oor hierdie venik-goed.”

“So julle het gesels? Het sy gesê hoekom sy in Kaapstad is?”

“Nee. Dit was seks, en toe is ons spa toe vir die massage, en terug kamer toe vir die betaling. Ek word per uur betaal, so ek het goeie bucks gemaak. Sy wou hê ek moes bly vir die venik, want sy wou meer oor die Kaap weet. Sy’t my ’n klomp vrae gevra terwyl die massage aan die gang was.”

“Watse vrae?”

“Wat toeriste gewoonlik eerste doen as hulle hier aankom. Oor die sekuriteit as mens in flats en huise bly hier. Hoekom ons so baie sekuriteit het orals. En sy wou weet oor bekende mense in die stad.”

“Watter mense?”

“Ryk mense. Niemand wat ek ken nie.”

“Was dit al wat sy wou weet?”

Jason frons soos hy dink. “Daar was iets oor toere townships toe. Hoe die gangs werk. En film sets. Waar hulle gewoonlik skiet, wie nou besig is om hier te skiet. Of mens op so ’n film set verby sekuriteit kan sluip en iemand famous van naby kan sien.”

Jaap teken twee vraagtekens in die notaboek. “Was dit nie vreemd dat sy al hierdie goed wou weet nie?”

“Nie regtig nie. Toeriste het my al die weirdste goed gevra.”

“Okay dan.” Jaap blaai na ’n nuwe bladsy. “Vertel my hoe sy lyk. Begin by lengte. Hoe lank is sy?”

Jason mik na my, Jaap. “So halfpad tussen julle. Seker 1.7 iewers?”

“Enige uitstaande kenmerke? Littekens? Tatoes?”

“O ja, awesome tatoe. ’n Boom op haar rug. Altans, dit begin op haar rug en krul dan so om haar ribbes tot tussen haar boobs.”

Jaap maak ’n nota, onderstreep dit. “’n Boom?”

“Ja. ’n Groot boom met wortels en takke en voëls wat daaruit vlieg. Excellent artist.” Die man wys na die Maori-tatoe op sy arm. “Beter as die ou wat myne gedoen het.”

Ek los die Uber trace en maak ’n nuwe venster oop. Dit klink soos ’n uitsonderlike kunswerk. Dalk kan ek die vrou só opspoor.

“Watter kleur is haar oë?” vra Jaap.

“Bruin. Maar ek’s omtrent seker sy dra gekleurde kontaklense. En sy kleur haar hare. Daai ligbruin is highlights.”

“Hoe oud skat jy haar?”

“Vyf-, ses-en-dertig.”

“Fiks?”

“Moer baie. Ek kan bly wees ek oefen. Sy is sterk en vinnig.” Hy lag effens verbaas. “En haastig en rof. Die seks, jy weet.”

“Was vandag die eerste keer dat sy van jou dienste gebruik gemaak het of was julle al voorheen saam?”

“Definitely die eerste keer. Ek sou haar onthou het.”

Weer maak Jaap kriptiese notas. “Trouring? Juwele?”

“Niks.”

“Nie eers oorbelle nie? Horlosie?”

“Geen oorbelle nie. Haar horlosie was swart, so half military, jy weet.” Jason beduie oor sy gewrig. “Groot. Digital.”

“Goed. Wat kan jy my van haar kamer en bagasie vertel?”

“Hoe bedoel jy?”

“Watter tipe tasse het sy? Duur?”

“Hoe sal ek nou weet?”

Jaap kyk hom oor sy leesbril aan. “Komaan, jy ken vroue. Jy sal oombliklik weet of hulle geld het of nie.”

Jason dink ’n oomblik. “Die tas het oopgestaan, maar ek dink dit was Victorinox.”

Jaap kyk na my.

Ek vryf my duim teen my wysvinger. “Switsers. Baie geld.”

“Een tas?” vra Jaap. “Soos iemand wat nie lank gaan bly nie?”

“Ja. Seker. En dit was kleinerig.”

“Wat van haar klere? Het jy nie bietjie deur haar goed gekrap toe sy badkamer toe is nie?”

Jason verkleur effens. Die kelnerin bring sy tee.

“Twee cappuccino’s,” bestel ek en beduie na Jaap. “Skinny melk vir hom.”

Ek ignoreer sy verergde kyk. Die kelnerin verdwyn.

“Haar klere?” vra Jaap weer.

“Okay. So ek sou gewoonlik dalk bietjie kyk,” gee Jason toe. “Maar nie met hierdie chick nie. Iets het vir my gesê ek beter my hande tuis hou. Ek het wel haar baadjie van die bed geskuif en ek kan vir jou sê dat dit so effens na rook geruik het. Ek kon dit ook ruik toe sy my groet. So ek sou sê sy rook nou en dan.”

Jaap hou op skryf. “En jy het regtig nie deur haar goed gekrap nie. Dalk vir jou ’n … aandenking of iets gevat?”

“Uh-uh. Dis nie die moeite werd nie. Sy’t hierdie ding in haar oë gehad. Koud. Meganies, amper?” Hy skud sy kop. “Meeste vroue kom na my toe vir warmte en geselskap, vir tyd en aandag en seks wat hulle mans hulle nie meer wil gee nie. Hierdie vrou … sy wou seks hê asof sy oorlog toe moes gaan.”

Hy kyk op toe die deur oopgaan en ’n elegante, middeljarige vrou verskyn. Hy waai vinnig vir haar, en beduie dan vyf minute met ’n vinger op sy horlosie en ’n oopgesperde hand. Kyk vraend na my.

Ek betaal hom elektronies. Kyk hoe hy en die vrou by die koffiewinkel uitloop. Draai na Jaap. “Die vrou met die tatoe is Kloofstraat toe, na een of ander restaurant.”

“Hoe weet jy dit?” Hy bêre sy bril en notaboek. Drink sy cappuccino met twee slukke klaar.

“Ek kon die Uber trace wat haar by die hotel opgelaai het.”

Hy stoot sy stoel terug. “Nou hoekom sit ons dan nog hier?”

Sewe-en-veertig

Подняться наверх