Читать книгу Sewe-en-veertig - Irma Venter - Страница 16
ОглавлениеSARAH
3.
Maandag 6 Julie, 14:59
Jaap klim uit ons Uber en drentel by die Blue Room in asof ons gereeld by plekke soos dié uithang. ’n Jong blonde kelnerin begelei ons na ’n tafel op ’n toegeboude stoep met skuifvensters en welige potplante. Ons kan Tafelberg sien van hier, grou en grimmig onder grys wolke.
Dis onmiddellik duidelik dat die vrou met die boomtatoe nie in die restaurant is nie. Dis ’n duur plek, maar gelukkig nie vol nie. Help seker dat dit ’n Maandag is.
Ek vrek vir ’n sigaret. “Wat nou?” wil ek weet toe ek gaan sit.
“Nou moet ons hoop Mosi is verkeerd.”
“Wat’s die odds?”
“Ek dink Jason se storie maak haar 59%-waarsêery nader aan 65%.” Hy lag sardonies. “Maar ek raai, jy weet. Ek is nie ’n masjien nie.”
Die kelnerin kom weer nader. Ek sien Jaap se oë flikker belangstellend. Sy is mooi. Vol mond, helder ligbruin oë, lank en skraal in ’n swart langbroek en dun wit bloes ten spyte van die koue. Vlekkelose bleekwit vel.
“My naam is Isolde. Ek is julle kelner vir die middag,” sê sy. Haar stem is lig en geoefen in gasvryheid. “Wat wil julle drink?”
“Castle vir my,” sê Jaap. “In die bottel, asseblief.”
“Rooibostee,” vra ek. “Suurlemoen en heuning.”
Sy verdwyn.
“Dalk het hierdie plek sekuriteitskameras,” sê ek. “Dan kan ons sien of die vrou wel hier was. Of jy kan met die personeel gesels. Dalk het iemand haar gesien.”
Hy knik. “Ons kan seker. Maar ek gaan eers iets eet.”
“Is jy okay?” Hy lyk effe bleek.
“Net moeg.”
Hy sluk twee geel pille saam met die Castle toe Isolde dit voor hom neersit.
“Wil jy teruggaan hotel toe?” vra ek.
“Nee.”
“Jaap, jy …”
“Sarah. Niks skort nie. Ek sal sê, belowe.”
“Okay.”
Ek text vir Mosi om haar te laat weet wat ons uitgevind het. Geen reaksie nie. Sy haat selfone en dra hare bitter selde by haar.
Op aanbeveling van Isolde eet ons die beef short rib in een of ander sitrussous.
Jaap dring aan om die rekening te betaal.
“Jy’t nie dalk ’n vrou hier gesien nie?” vra hy vir Isolde. Hy haal sy kredietkaart uit en sit ’n 20% tip by die rekening. “Vroeër, net voor ons ingeloop het? Sy’t langerige ligbruin hare, olyfkleurige vel. Swart donsbaadjie. Sy sou Engels gepraat het. Donker oë. Seker so middel-dertigs.” Hy meet haar lyf. “So lank soos jy.”
Isolde huiwer, die kredietkaart in haar hand. “Hoekom wil julle weet?”
Jaap gee sy warmste glimlag en trek sy skouers op asof hy aangejaag het. “Dis my susterskind. Ek moes haar hier kry vir middagete, maar ek was bietjie laat en nou antwoord sy nie haar foon nie. Sy’s seker baie kwaad vir my.”
“Daar was ’n Engelse vrou hier, ja,” sê Isolde. “Bruin hare tot op haar skouers. Baie fiks? Sy het koffie gedrink en toe geloop.”
“Ag nee,” sê Jaap gemaak teleurgesteld. “Jy weet nie dalk waarheen sy is nie? Dalk kan ons haar nog inhaal.”
Isolde skud haar kop. “Geen idee nie. Maar sy kom vanaand terug. Sy het ’n afspraak vir aandete gemaak. Seweuur. Sy wou eers later kom, maar dis stil vandag, so ons het net een seating.”
“Het sy vir drie mense bespreek?” Hy beduie na ons twee.
“Een.” Isolde rek haar oë. “Jammer.”
Sy draai om en loop kombuis toe. Ons staan op en trek ons baadjies aan.
Toe ons in die Uber klim, beduie Jaap vir die bestuurder om te wag, asof hy skielik aan iets dink.
“Ons moet dalk ook vir vanaand plek bespreek,” sê hy.
“Is jy laf? Isolde gaan mos nou wonder wat aangaan as ons nie by die tatoevrou sit nie.”
“Ons bespreek net vir jou plek. En ons trek jou mooi aan dat jy anders lyk. Ek sal buite in die Audi wag, ingeval ons vinnig moet beweeg.”
Ek kyk na hom. Wat bedoel hy met mooi aantrek? “Mense dress nie meer op vir aandete nie.”
“Jy moet anders lyk, ek sê mos. Ons vra vir Mosi om te help. Dalk het sy iets in haar kas wat jou sal pas. Buitendien, ek het jou nog nooit in ’n rok gesien nie.” Sy moeë oë blink skielik.
“Ek het jóú ook nog nooit in ’n rok gesien nie.”
Hy lag. “Het jy ’n ander plan? Ons het geen idee waar Tatoevrou is nie.”
“By die hotel?”
“Ja, en ek sal kyk of ek haar spoor daar kan optel, maar wat as sy nie terug is soontoe nie? Dis nie waar sy die moord gaan pleeg nie – nie as sy elke keer daar oornag nie.”
Hy is seker reg. “Wat as sy teen seweuur reeds … jy weet … klaar is?”
“Reeds die moord gepleeg het? Dan is daar niks wat ek of jy daaraan kon doen nie.”
Ek is nog steeds nie baie gelukkig met sy plan nie. “Ek kan nie alleen daar sit en eet nie. Dit gaan aandag trek.”
“Ons kan een van Jason se kollegas vra om jou geselskap te hou.”
“Die gigolo? Is jy ernstig?”
“Dodelik.”
“Dan vat ek eerder vir Mosi saam.”
Op pad na die 33 vra Jaap die Uber-bestuurder om by ’n kafee te stop. Hy klim haastig uit terwyl ek in die Corolla wag.
“Kry vir my sigarette,” roep ek agterna. “Marlboro.”
“Vergeet dit,” sê hy oor sy skouer. “Hoekom op dees aarde het jy nou weer begin rook?”
Want ek is swak. Skiet my.
Vyf minute later kom hy terug, klim in en gee vir my ’n Coke aan. Maak sy eie oop en dop twee Halls in sy handpalm uit.
Hy kyk verstom na die rooi suiglekkers in sy hand. “Wragtig.”
“Wat?”
Hy hou aan staar na die Halls in sy hande.
“Jaap? Is jy okay? Voel jy sleg? Moet ek …”
“Nee,” keer hy. “Jammer. Dis iets wat Mosi vanoggend gesê het. Oor Halls, Marlboro en Coke. Dis al.”
Hy kyk na my, ’n suur trek om sy mond. “Dalk is jou vriendin se 59% nader aan 80%.”