Читать книгу Sewe-en-veertig - Irma Venter - Страница 18

Оглавление

SARAH

5.

Maandag 6 Julie, 18:58

Ons klim uit die Uber. Mosi se lang swart jas swiep op in die wind. Sy gryp dit voor haar bors vas en loop met lang treë na die ingang van die Blue Room.

Ek is kort op haar hakke. Gelukkig is ek nie in stiletto’s soos sy nie. Swart kniehoogte Dr Martens-stewels met ’n effense hak by ’n kort swart rok wat my ma sou laat bloos. My hare is agtertoe gejel tot in my nek – lank genoeg om dit deesdae te kan doen. Die grimering is swaarder as wat ek nog ooit gedra het, maar dalk sal dit help dat die kelnerin van vroeër my nie herken nie.

Sy is wragtig nog aan diens.

Isolde, as ek reg onthou.

Mosi vra vir ons tafel, en ’n kelner met ’n baard neem ons soontoe. Ek loop agter Mosi se geel skoene en stywe swart jeans aan.

Isolde staan en gesels met ’n vrou wat alleen by ’n tafel sit wat op die berg uitkyk. Sy pas by die beskrywing wat Jaap en die gigolo gegee het: ligbruin hare, fiks, breë skouers. Sterk kakebeen. Elke keer as sy beweeg, is dit met vertroue, vinnig en akkuraat. Wys na die spyskaart. Stoot die sout en peper weg. Drink uit die glas water links van haar. Rustelose oë wat van plek tot plek spring, van mens tot mens, asof sy alles en almal weeg, ons inkluis.

Ek en Mosi gaan sit by die venster, ses tafels weg van die vrou. Ek sit met my rug na die muur, Mosi aan my regterkant. Sy vee die tafeloppervlak met ’n alkohollap skoon.

“Ons gaan moet vinnig wees,” sê ek vir haar. Die vrou het reeds ’n glas wyn voor haar. Lyk my sy was vroeg. Dis twee minute oor sewe.

Ons kyk vlugtig na die spyskaarte. Toe die kelner terugkom, bestel ons ’n bottel wyn, lamskerrie vir Mosi en Noorweegse salm vir my.

Isolde loop verby, frons toe sy my sien, draai terug na ons tafel.

Great.

“Is jy terug?” vra sy en kyk dan na Mosi.

Sy wonder seker waar Jaap is.

“Ja, ek het so lekker geëet dat ek ’n vriendin wou bring om julle kos te proe.”

Hoe skep ek nou afstand tussen my en Jaap dat sy nie wonder hoekom ek nie by Tatoevrou sit nie?

“My kollega moes inderhaas terug werk toe.” Ek hoes, maak verskoning. “Hy sit al van vanmiddag af in ’n noodvergadering.”

Isolde glimlag. “Ah, ek sien. Dan hoop ek julle kuier lekker by ons.”

“Dankie,” sê ek met ’n droë keel.

Toe die kelnerin wegloop, hoef ek nie eers te kyk om te weet Mosi lag vir my nie.

Tatoevrou se kos daag ’n paar minute later op. ’n Stewige steak, lyk dit my.

“Wat maak sy?” Mosi kan haar net uit die hoek van haar oog sien.

“Sy eet.”

Ek kyk na die vrou wat doelgerig haar kos pak, soort vir soort. Sy eet soos iemand wat moet eet, nie iemand wat daarvan hou nie. Sy dra jeans en ’n wit T-hemp. ’n Warm swart baadjie hang oor haar stoel. Daar is draftekkies aan haar voete, asof sy moet kan beweeg as dit nodig is.

Sy kyk op, betrap my oë op haar.

Ek verstar. Maak asof ek na die toneel agter haar kyk, die straatligte wat teen die berg op kronkel, die bome wat in die wind ruk.

Sy draai haar kop skuins, glimlag effens, eet dan verder.

Ek haal my foon uit, maak asof ek iemand bel. Neem ’n foto van haar en stuur dit vir Jaap. Dan haal ek my laptop uit.

Mosi kruis haar bene, die Christian Louboutin se rooi sool nou en dan sigbaar soos haar voet op en af swaai.

“Ontspan.” Sy gee ’n modelglimlag. “Jy’s soos ’n kleuter op Red Bull.”

Makliker gesê as gedaan. “Maak asof jy na iets op my laptop kyk,” sê ek.

Sy leun vorentoe, beduie met ’n vinger na die regterkant van die skerm. “Wat doen jy?”

“Ek scan die wi-fi-netwerk om te sien watter selfone besig is om dit te gebruik. Dis ’n gratis netwerk, so hopelik gebruik die vrou dit.”

“En? Wat sien jy?”

“Net ’n oomblik … Daar’s drie fone. Nou moet ek net sien aan wie dit behoort.”

Mosi drink van die wyn nadat sy seker gemaak het die glas is skoon. “Wat as ek verkeerd is? Oor die vrou, die patroon?”

“Verkeerd?” Dis nie ’n woord wat Mosi gebruik nie. Verkeerd suggereer nul persent, en dit bestaan nie in haar wêreld nie.

“Jaap begin dink jy’s dalk reg.” Ek werk vinnig, kyk vlugtig op. Die vrou eet nog.

Mosi se wenkbroue lig. “Regtig?”

“Jip.”

Sy skud haar kop. “Ek sou verkies om verkeerd te wees. Ek wíl verkeerd wees.”

Een nommer verdwyn van die netwerk. Weer ’n vinnige kyk. Die vrou bêre haar foon in haar baadjiesak. Moet die foon wees wat van die wi-fi afgeklim het.

Ek soek die nommer se GPS-sein.

Bloemfontein?

Wat de …

“Dis sy,” sê ek sag.

“Dit weet ons mos.” Mosi skink vir haar nog wyn.

“Dis nie wat ek bedoel nie. Sy gebruik GPS spoofing. Dit maak dat jou foon nooit getrack kan word nie. Die foon lieg heeltyd oor waar jy is.”

“Ek weet wat spoofing is. Kon jy ten minste ’n nommer kry?”

“Ja. Maar ek weet nie of dit gaan help nie. Lyk soos ’n prepaid sel.”

Ek begin baie kriewelrig raak oor Tatoevrou. Jy gebruik nie iets soos GPS spoofing as jy onskuldig is nie. Aan die ander kant het sy ook niks onwettigs gedoen nie.

Nog nie.

“Dalk kan ons haar gehuurde motor gebruik om haar te track,” sê Mosi. “Of dalk het haar foon deur die Stingray gespring en kan ons die inhoud van haar boodskappe sien. Smittie sal ons seker netnou laat weet.”

Die kelner bring ons kos. Ek maak die rekenaar toe, al brand ek om verder te soek.

Mosi hou haar glas uit dat ek myne daarteen kan klink. “Lyk gelukkig, anders gaan ons aandag trek.”

Sewe-en-veertig

Подняться наверх