Читать книгу Sewe-en-veertig - Irma Venter - Страница 19

JAAP 1.

Оглавление

Maandag 6 Julie, 19:10

Die Audi is klein. Ek kan verstaan hoekom Sarah dit gekies het, maar geen mens van meer as normale lengte kan die ding bestuur nie, wat nog te sê lank daarin sit en wag.

Ek het al hier kom parkeer nog voor Sarah en Mosi by die Blue Room aangekom het. Die sitplek is so ver as moontlik teruggestoot, maar ek kan steeds nie my bene strek nie.

My foon biep. Dis ’n boodskap van Sarah. Tatoevrou is by die restaurant. Minute later is daar ’n foto ook.

Dis sy, bevestig ek. Jy lyk mooi, tik ek dan. Neem ’n foto vir jou ma.

Ek kry wragtig ’n emoji terug. ’n Ongeskikte een, alhoewel jy fyn moet kyk om te sien watter vinger daai geel mannetjie hys.

My foon biep weer. Sorrie.

Jy lyk nog steeds mooi, antwoord ek.

Ek wikkel die serp om my nek los wat sy vanmiddag vir my saam met haar rok gekoop het, ingeval ek Tatoevrou vanaand te voet in die koue moet volg. Dalk – hopelik – is hierdie hele storie ’n moerse fout. Bloot net ’n spul aannames wat verkeerd opeengestapel is.

Ten minste het ek ’n wapen. Die Parabellum is seker twintig jaar oud, maar Barend het my verseker dit werk nog soos dit moet. Hy het dit vanmiddag vir my hotel toe gebring. Ons was kollegas in Pretoria, waarna hy en sy vrou Strand toe getrek het ná sy aftrede. Die naaste wat hy nou aan polisiewerk kom is deeltydse sekuriteitskontrakte.

Hy het geen vrae oor die wapen gehad nie, net gesê ek moet hom nie in die moeilikheid kry nie. Ek sou ook senuweeagtig wees as ek hy was. Wie weet watse nonsens hierdie besigheid met Mosi gaan oplewer?

Ek strek weer. Skiet my een hand se vingerpunte teen die palm van my ander hand. Die koue help niks met die dooie gevoel in my vingers nie.

Die kanker het my laat skrik. Ek het altyd gedink ek is reg vir doodgaan, maar lyk my ek is nie. Nog bietjie, dis al wat ek daai dag toe ek gehoor het by die Meester gebedel het. Nog bietjie tyd. Sarah word nou eers weer mens ná haar pa se dood. Haar ma ook.

Oulike vrou daai. Sarah se ma.

Die wind ruk aan die motor. Ek verskuif my gewig na die middel van die Audi, asof dit gaan help. Ek is sewe kilogram ligter as twee maande gelede. Ook die kanker se skuld. Eetlus is moer toe. Biltong is omtrent die enigste ding wat nog lekker proe. Ek het vanmiddag se ete saam met Sarah hier by die Blue Room afgewurg. Maag is lankal nie meer honderd ná die operasie nie.

Ek ril vir die koue wind wat deur die motor se venster inwaai. Ek hoop hierdie Tatoevrou ry en loop nie. Wie wil nou in hierdie weer op straat wees?

Sewe-en-veertig

Подняться наверх