Читать книгу Sewe-en-veertig - Irma Venter - Страница 17

Оглавление

SARAH

4.

Maandag 6 Julie, 16:45

“Wat van hierdie een?” Mosi hou ’n knielengte rok in die lug.

“Ek haat wit.”

Ons staan voor haar klerekas op soek na ’n rok vir vanaand. Sy het vir ’n hele paar jaar internasionale modelwerk gedoen om genoeg geld te verdien om die Library en die woonstel bokant dit te koop.

Dis net jammer sy is omtrent dertig sentimeter langer as ek. Geen van haar klere pas nie. Die bors- en heupmate werk, maar dis ook al.

“Wat gaan jý dra?” vra ek.

“Weet nie.”

Sy klink bekommerd en ek weet dit het niks met klere te make nie.

Ek draai na haar. “Wat pla?”

Sy hang die deursigtige plastiekstofjas terug oor die rok en druk dit terug in die kas tussen die ander, elkeen met sy eie beskerming. “Wat presies gaan jou polisieman vanaand aanvang?”

Ek kon gedink het dis Jaap wat haar so omkrap. “Moenie worry nie, hy weet wat hy doen. Hy’s nou by die 33 om te sien of Tatoevrou teruggegaan het soontoe. En dan gaan hy ook regmaak vir vanaand.” Ek bly stil oor die pistool wat hy gaan optel.

“Ek kon mos gehelp het. Wat sê die hotel se sekuriteitstelsel?”

“Ek het klaar gecheck. Dit lyk nie asof sy vanmiddag al terug was in haar kamer nie.” Ek beduie na een van die swart rokke. “Wat van daai kort ene links?”

Mosi haal die stofjas af en gee die rok vir my. “Wat moet Jaap regkry vir vanaand?”

Ek meet die sagte materiaal teen my lyf. Steeds te lank. Ek gaan soos ’n rob lyk.

“Ons twee gaan eet by die Blue Room en hou Tatoevrou dop. Jaap sal buite in die kar wag en haar volg wanneer sy uitgaan. Ons kyk watter inligting ons kan kry. Dalk gebruik sy die wi-fi in die restaurant, of miskien het sy ’n selfoonnommer gegee om haar booking te maak. En Smittie staan mos reg met die Stingray, of hoe?”

“Ja.”

“Het julle dit al getoets? Werk dit?”

Mosi het die Stingray laas jaar eers gekry. Dis een van haar datainsamelingsmetodes waaroor ek eerder niks vir Jaap wou sê nie.

“Ons het dit nog net een keer gebruik, maar dit lyk so, ja. Amper al die fone op Muizenbergstrand het gedink ons paneelwa is ’n selfoontoring en het hulle oproepe en data daardeur gestuur.”

“En die regte torings?”

“Glad nie ingemeng nie. Nie eers besef daar’s ’n mimic nie.”

“Nice. Miskien sal ons dan vanaand kan uitwerk of hierdie vrou hier is om moord te pleeg of vakansie te hou.” Ek hang die rok terug, staar na Mosi se oorvol kas. Ek gaan wragtig iets moet koop. Ek haat klerewinkels en snobberige winkelassistente. “Is jy okay om vanaand saam te kom? As jy onveilig voel, kan jy regtig eerder hier bly.”

“Ek gaan jou nie alleen los nie. Soos jou polisieman heeltyd sê, dis mý datapatroon.” Sy staan hande in die sye, betrag my lyf. “Jy lyk goed. Draf jy nog?”

“So drie, vier keer ’n week.” Ek is nie lus om mooimensdinge te gesels nie. “Kry jy dit baie? Datapatrone wat jou laat wonder?”

“Gereeld. Té gereeld.” Sy blaai weer deur die string rokke. “Daar’s die geweld op Vrydae en Saterdae as die lone inkom. Vrouens en kinders wat heelnaweek ongevalle toe moet gaan. Mense wat hulle mans of vrouens verneuk. Ek het twee weke gelede ’n spesifieke motor gesien wat heeltyd by dieselfde adres staan as hulle op sosiale media sê hulle vlieg kamtig Joburg toe.” Sy kyk weg. “Daar was ook ’n man wat by ’n kind gaan neuk het as die ma saans sjebeen toe gaan. En ek en Smittie was al twee keer reg oor die uitbreek van bendegeweld, maar daar was nog niks moorde nie. Snaaks genoeg.”

My kop haak vas by die sjebeen-storie. “Die kind?”

“Ek het die polisie gebel en ’n boodskap vir die ma gestuur. Die gemeenskap het die man amper doodgeslaan, maar die ma kuier weer lekker. Niks wat ek daaraan kan doen nie.”

Ek kan hoor dit pla haar. Om te weet en niks te kan doen nie.

Dalk is dít hoekom sy my vanoggend gebel het.

Dalk is dit beter om net nooit hierdie goed te weet nie.

Ek los die rokke en gaan sit op een van die twee bruin leerstoele wat deur groot vensters na die berg kyk. Die uitsig is nie ’n verrassing nie. Mosi was nog nooit mal oor die see nie. Dalk is dit oor die omgewing waar sy vandaan kom: die Oos-Kaapse platteland, op na Lesotho en die Drakensberge se kant toe.

Mosela. Sesotho vir “die laaste een”, ’n naam wat sy self gekies het.

Twee van haar mure hang vol Afrika-maskers, elkeen gekoppel aan ’n spesifieke ritueel. Aan tyd en mense wat kom en gaan. Troumaskers. Sterfmaskers. Die skilderye is almal van Afrika-kunstenaars. My blik gly van die Buhle Hlatshwayo teen die muur agter haar na die Gerard Sekoto bo haar bed.

Ek beduie daarna. “Dis nuut.”

“Verlede jaar gekry.”

Die swart man kyk stip na my, sy een wenkbrou gelig, asof hy wonder of ek hier hoort.

“Jy lyk gelukkiger as laas,” waag ek ’n persoonlike opmerking.

Sy antwoord nie.

“Date jy?” vra ek.

“Nee. Jy?”

“Nee. Nou en dan. Soms.”

“Sarah Fourie, so reguit soos altyd.” Sy lag en maak die kas toe. Leun met een skouer teen die deur terwyl sy na my kyk.

“Jý kan nie praat nie.” Ek kyk weer berg se kant toe, na waar enkele spatsels blou lug tussen die wolke sit. “Het jy al iets gehoor?”

“Van wat?”

“Jy weet goed.”

“Miskien.”

Ek draai na haar. “Regtig? Wat?” Mosi soek al jare lank na enige oorblywende lede van haar familie.

“’n Halfbroer in Pretoria.”

“Dis goeie nuus. Ek’s bly.”

“Moenie wees nie. Dis die soveelste leidraad … dis amper al … Maak nie saak nie.” Haar vingers rus teen haar mond, hou die woorde daar.

Ek soek na iets om te sê. Luister na die wind teen die ruite, spits my ore vir die asemhaal van masjiene, die rekenaars en air-con wat hulle gelukkig hou een vloer onderkant ons.

“Doen jou besigheid goed?” retireer ek tot op neutrale gebied.

Ek kan sweer sy sug van verligting.

“Baie goed. Maatskappye is gierig vir data.” Die strak lyn van haar mond versag. “Almal wil deesdae mense se gedrag voorspel sodat hulle nog geld kan maak. Alhoewel ek vermoed hulle soek eerder die inligting om god te kan speel.”

Sy vryf oor haar nek, asof haar spiere seer is van die lang ure voor die rekenaars. Selfs dié eenvoudige gebaar lyk elegant, sensueel.

Sy buk af, trek die tweede van ’n lang ry laaie uit waarin sy haar skoene bêre, al honderd-en-vyftig pare. Kies nuwe blou Levi-tekkies uit ’n boks. Sy dra elke nuwe paar net een keer op straat. Nog iets uit haar drie jaar agter tralies, nes haar ding oor tyd.

Mosi het verskeie maniere gevind om die tronk te oorleef. Om met meer daar uit te stap as waarmee sy ingeloop het. Om daarna nog okay te wees.

Mosela Mosholi, die versamelaar. Die argivaris. Die bibliotekaris. Die vrou wat seker gemaak het – steeds seker maak – dat geen sondes verlore gaan nie.

Ek leun terug in die stoel, swaai my voete oor die armleuning. Wag vir die vermaning, maar soos altyd laat sy my begaan. “Date jy regtig niemand nie?”

Dit voel soos ’n verlies. Iemand soos Mosi, alleen. Altyd alleen.

“Nee. My ding oor stof, oor skoon, raak net erger soos ek ouer word.” Sy probeer lag asof dit niks is nie, maar dit steek in haar keel vas.

“Dalk moet jy iemand daaroor gaan sien.”

“Sien jy iemand oor jou pa?” Sy buk af, trek die skoene aan. “En wat van jou ding oor spasies? Vreemde mense wat sonder toestemming aan jou vat?”

“Okay, seker. Maar ten minste connect ek nou en dan met mense,” stry ek.

“Ek ook. En Smittie is amper elke dag hier, so jy kan ophou sukkel.”

“Saam werk is nie die connection waarvan ek praat nie.”

“Ek weet. Die antwoord is ja. Ek date. Soms.”

“Ek glo jou nie.”

Sy waai ’n waarskuwende vinger in my rigting.

Ek kyk terug na die berg. Wonder oor my eie lys dinge wat so lank is. “Sit jy hulle ooit deur die masjiene? Jou dates?”

Haar hande vries om die veters van die Levi’s. “Jy gaan nie ophou nie, nè?”

“Nee.”

“Ja, ek doen.”

So gedink. “Jy moenie. Jy gaan goed sien wat jy nie moet sien nie. Jy gaan niemand ooit vertrou nie.”

“Hack jy nooit jou lovers nie?”

Ek dink aan die man wat ek vanoggend uit die bed geskop het. “Net as hulle langer as een nag bly.”

“En hoe gereeld gebeur dit?”

Ek trek ’n gesig.

“Dis nie ’n antwoord nie, Sarah. Jy kan nie uitdeel wat jy nie kan vat nie.”

“Sê wie?”

Ek staan op, zip my baadjie toe. “Kom. Ons moet gaan shop voor die winkels toemaak. Ons moet seker al klaar V&A toe soos die tyd staan. Ain’t that gonna be fun.”

Jaap kom klop by die Giraffe & Elephant Backpackers net voor ek deur die stort wil spring. Ek is klaar laat. Gelukkig het ek en Mosi by die eerste winkel reggekom met klere. Dit help dat sy steeds baie mense in die modebedryf ken.

Jaap gaan sit by die plastieklessenaar.

“Enige teken van Tatoevrou by die hotel?” vra ek.

“Nee. En as sy by die restaurant sit, sien ek haar nie. Dalk is sy weer spa toe, maar ek kan nie daar inkom nie. Dis vol bespreek en mans mag blykbaar nie sommer net daar indrentel om te kyk hoe dit lyk nie.”

Hy loer nuuskierig na die winkelsakke op die bed. “Het jy ’n rok gekry? Iets moois? Iets kleurvols?”

Ek ignoreer hom en loop na my rugsak toe. Soek deur ’n spul papiere en hou ’n dokument na hom uit. “Dis vir jou. Mosi se non-disclosure-ooreenkoms. Jy moet teken.”

Hy weeg die kontrak in sy hand. “Hoeveel bladsye is hierdie ding?”

“Dis standaard. Jy sal niks oor Mosi of Smittie of die Library sê nie. Parafeer en teken. Ek het lank terug ook een geteken.”

“En as ek nie wil nie?”

“Dan vlieg jy vanaand terug Joburg toe.”

“Ek gaan jou beslis nie alleen hier los nie.”

Ek druk ’n pen in sy hand. “Dan beter jy teken, kolonel Reyneke.”

Sewe-en-veertig

Подняться наверх