Читать книгу Sewe-en-veertig - Irma Venter - Страница 21

JAAP 1.

Оглавление

Maandag 6 Julie, 19:53

Die Blue Room se voordeur gaan oop en ’n jong blonde vrou kom uitgeloop. Sy lyk bekend.

Eers toe sy onder die naaste straatlig gaan staan, besef ek wie dit is. Dis die kelnerin van vanmiddag. Wat is haar naam nou weer? Isolde.

Die wind waai deur haar hare. Sy draai haar gesig in die wind in, giet haar hare in haar hande en maak dit in ’n poniestert vas. Trek haar trui stywer om haar skouers en kruis haar arms voor haar lyf. Sy wag twee minute tot ’n ou wit Fiat Uno langs haar stilhou. Sy spring in die passasiersitplek, maar groet nie die bestuurder met ’n soen nie.

Seker ’n vriend of familielid.

My foon biep. Sy’s op pad, laat weet Sarah.

Oomblikke later kom Tatoevrou uitgeloop. Ek het die Audi skuins oorkant die pad geparkeer, agter ’n paneelwa en weg van die straatligte, sodat niemand kan sien ek wag in die motor nie.

Sy stap na ’n wit BMW ongeveer twintig meter weg van die restaurant. Haar treë is dié van ’n atleet, sterk en seker, nie die elegante bymekaarhou van ’n vrou wat loop om dopgehou te word nie.

Sy trek weg asof sy haastig is.

Ek skakel die Audi aan. Dis net voor agt en die paaie is nog redelik besig.

Tatoevrou ry see se kant toe. Ek laat twee motors verbykom voor ek in die stroom verkeer klim. Ek volg haar af met Kloofstraat, tot in die middestad.

Waarheen is sy op pad? Die hotel?

Nee.

Sy draai links, Seepunt se kant toe. Ry om Seinheuwel.

Sarah bel tien minute later. “Waar’s jy?”

“Seepunt.”

“Wat soek die vrou daar?”

“Weet nie. Bel jou later.”

“Wees versigtig.”

“Maak so.”

Die BMW draai regs uit Hoofweg, tot in ’n systraat vol woonstelblokke. Parkeer in ’n oop ruimte aan die linkerkant van die pad, tussen ’n hoë wit woonstelblok en ’n ouerige drieverdiepinggebou.

Ek ry verby. Lyk my sy bly sit in die motor.

Ek draai links en ry om die blok. Doof my ligte en parkeer vyftig meter agter haar aan die ander kant van die straat, sodat ek ook die Seepunt-promenade kan sien.

Waarna kyk sy? Die see, of die woonstelgeboue?

Die promenade is verlig, amper leeg, die weer het almal huis toe gejaag. ’n Enkele drawwer en ’n Labrador skarrel verby. Die hond kyk verwytend na sy baas.

Ek maak die venster oop. Die lug ruik sout, klam. Heerlik.

Om te lewe is heerlik.

Regs voor my, in die string motors wat langs die straat geparkeer staan, gaan ’n motordeur oop. Dis ’n wit Fiat Uno. ’n Vrou klim uit.

Dis Isolde, die kelnerin van die Blue Room. Sy beduie heftig, asof sy met die bestuurder baklei.

Ek bel vir Sarah. “Lyk my Tatoevrou is by Isolde se blyplek.”

“Die kelnerin? Is sy daar?”

“Ja. Rook jy?” Dit klink asof Sarah buite in die wind staan.

’n Huiwering. “Nee.” Dan haastig: “Wat doen sy?”

Ek laat die leuen verbyglip. “Sy baklei met iemand voor ’n woonstelgebou.”

“Is dit toeval? Dat Isolde en Tatoevrou albei daar is?”

“Sou daai vriendin van jou sê dis toeval?”

“Nee,” gee sy toe.

“Ek dink ook nie so nie. Sit Isolde se naam by dié van die slagoffers en kyk of daar ’n verband is. Dalk kan ons Mosi se 59% opjaag en die polisie bel.”

“Ons maak so. Wat gaan jy doen?”

“Kyk wat gebeur.”

“Moet net nie iets stupids aanvang nie.” Haar stem is bekommerd.

“Natuurlik nie.”

“Bel die polisie as jy moet. Of ten minste daai man wat vir jou die pistool gebring het.”

Dís nou die tyd om slim te raak. “Barend. Ek hoor jou.”

Ek groet en lui af. Kyk hoe Isolde haar hande in die lug gooi, omdraai en na die voetgangerhek van die hoë woonstelblok loop.

Die Uno brul weg, rubber wat brand. Kan net ’n laaitie wees wat so ry.

Isolde maak die sekuriteitshek met ’n elektroniese kaart oop. Manor Place het tien verdiepings. Die woonstelle het elkeen ’n balkon wat see toe wys – nie dat hulle noodwendig verby die gebou voor hulle kan sien nie.

Die hek slaan toe dat die groen palissadeheining bewe.

Ek voel na die Parabellum in die holster onder my arm, bly dis daar.

Die BMW en Tatoevrou beweeg nie.

Ek stel die Audi se rugleuning agtertoe sodat ek gemakliker kan sit. Haal ’n pakkie wegsteekbiltong uit my baadjiesak.

Die onkoloog raas, en Sarah sal seker ook, maar wie sal nou weet?

Sewe-en-veertig

Подняться наверх