Читать книгу Sewe-en-veertig - Irma Venter - Страница 6

Оглавление

SARAH

2.

Maandag 6 Julie, 05:12

“Komaan, Jaap. Ons gaan die vlug mis.”

“Ons sal betyds wees, veral soos jy bestuur. Buitendien, ek is seker jy’t ons klaar ingeboek.”

Hy loop na sy kas, gooi ’n handvol onderbroeke in ’n sportsak, gevolg deur kouse, ’n langbroek en twee hemde. Badkamer toe, terug met ’n skeermes, tandeborsel en tandepasta. Hy loop effe mank, sy regterknie wat sukkel in die Gautengse koue.

“Die hotel gaan goed soos seep en sjampoe hê,” keer ek toe hy nog toiletware uit sy kas haal. “Vat eerder ’n dik jas en ’n serp. Die Kaap is koud.”

Hy haal ’n netjiese bruin baadjie uit sy kas, trek dit aan oor die beige chino’s en die blou hemp. Ignoreer my en pak g’n jas nie.

Sy ou bruin toerygskoene is blinkskoon, soos altyd.

“Jy hoef nie so baie geld uit te gee nie,” sê hy. “Ons kan in ’n B&B bly.”

“Jy kom help my. Jy’s ’n konsultant. Natuurlik sal ek vir ’n hotel betaal. En vir jou dienste.”

“Ek het nie die geld nodig nie.”

Mans. Ego’s. Amper net so erg soos klein spasies en vliegtuie.

“Ek weet,” sê ek. “Maar jy’s nie nou besig met enige privaat ondersoeke nie. Jy het tyd om my te help, so ek betaal.”

“Nes jy wil.” Hy trek sy benerige skouers op. Die effense maag wat laas jaar verskyn het, is weg. Sy ken en hoekige neus lyk meer prominent.

Hy vee oor sy kort grysblonde hare, dink vir ’n oomblik.

“Wat kort jy nog?” vra ek.

“Niks nie. Kom, waarvoor wag ons?”

Ek skiet my lyf weg van die kosyn, maak of ek nie die terg in sy oë sien nie.

“Wag.” Hy draai terug, verdwyn badkamer toe.

Ek hoor die geskud van pilbottels.

“Daarsy.”

Hy gooi die sportsak oor sy skouer. Glimlag. Die mooi, geduldige, warm glimlag. Die een wat sy bleekblou oë laat lewe kry, wat maak dat jy skielik twee keer na hom kyk.

“Wie’s so belangrik dat ons Kaap toe vlieg?” vra hy op pad uit die kamer uit. “Jy haat vliegtuie en lughawens. En jy’s nie altyd gewillig om mense sommer net so te help nie.”

“Iemand wat ek al lank ken. Voor jou tyd.”

“Goeie vriend?”

“Ja.”

“Hoe goed?”

“Nie wat jy dink nie.”

Hy skakel die geiser af, gryp sy huissleutels van die kombuistoonbank. “Is dit nie tyd dat jy iemand ontmoet nie? Jy’s ses-en-twintig.”

Altyd dieselfde gekarring. Hy klink al nes my ma.

“Dis halfses in die oggend. Ons het nie nou tyd vir matchmaking nie.” Ek bly stil oor die man in my bed – die een wat ek moes uitskop voor ek gery het. Jaap sal net worry. Hy’s erger as wat my pa was.

Ek vee oor die ses platinumoorbelle in my regteroor. Een vir elke lid van my gesin. Die een in my linkeroor is vir die een wat weg is.

Jaap se oog vang die gebaar. Hy maak sy mond oop asof hy iets wil sê.

“Ek was saam met Mosela in die tronk,” sê ek vinnig. Enigiets om die gesprek se rigting te verander.

Hy frons. “Wat het hy gedoe-”

“Sy.”

“Okay. Wat het sý gedoen om tronk toe te gaan?”

“Ek sal op pad verduidelik. Belowe.”

Jaap sluit die voordeur van sy meenthuis. Sy hond gaan saam met Megabyte by my ma bly tot ons terug is. Sy sal hulle later vandag kom optel.

Jaap vryf die yslike geel Labrador agter sy ore. “Soet wees, ou honne. Sien jou binnekort. Moenie dat die mense jou weer so vet voer soos laas nie.”

Hy kyk na my. “Dis Maandag. Gaan ons betyds terug wees vir die Lions se Super Rugby game?”

“Die Lions? Ek dog jy’s ’n Bulls fan?”

“Hulle is ossies hierdie seisoen. Almal van hulle. Ek kan die pyniging nie meer verduur nie.”

Sewe-en-veertig

Подняться наверх