Читать книгу Sewe-en-veertig - Irma Venter - Страница 5

SARAH 1.

Оглавление

Maandag 6 Julie, 03:31

Die klank draf deur my onderbewussyn. Dring deur die swart wolk van slaap. Kom staan voor my en skree, skril en aanhoudend, soos daai kaalvoet natneuskinders in Checkers wie se ma’s nie vir hulle lekkergoed wil koop nie.

Ek gryp na die foon. Dit val onder die bed in, vibreer ontevrede op die dik bruin mat. Die lyf langs my roer onrustig, brom geïrriteerd. Hoe laat is dit?

Die foon gaan dood. Moet ’n verkeerde nommer wees. Ek lê terug in die bed.

“Jy okay?” mompel die donker stem.

“Ja. Slaap verder.”

Ek probeer onthou hoe ons hier beland het, in my bed, in my woonstel in Pretoria-Wes.

Dom.

Die foon lui weer.

Hy draai om, druk die kussing oor sy kop. Mooi, harde lyf. Ruggraat wat diep tussen soliede spiere inkeep en jou uitnooi om die kurwe daarvan met jou handpalms te soek.

Ek swaai my voete van die bed af, buk, soek met ’n lang arm na die helder lig van die foon.

Beter die bleddie queen wees.

Julie se nagkoue byt aan my kaal lyf. In die badkamer tjank die Dobermanns, ook die moer in. Oor dáár slaap. Oor die geraas hierdie tyd van die oggend.

03:33, sê die horlosie op die bedkassie. Drie ure se slaap. Dis al.

Ek vat uiteindelik die foon raak. Unknown number. Dis nie goeie nuus nie. Net ’n handvol mense ken hierdie nommer, en hulle weet almal om my nie voor elfuur in die môre te pla nie.

Ek maak die badkamerdeur oop, die foon wat vibreer in my hand. Mega en Byte hardloop uit.

“Whoa,” keer ek toe hulle bed toe wil storm. “Los hom uit.”

Ek gryp Byte aan haar rooi halsband. Sy is die kwaai een wat alles en almal wil opvreet, wat vreemdelinge haat. Mega is die cheap ene wat by almal flirt, man of vrou.

Die foon gaan dood, begin weer lui. Wie ook al bel, gaan duidelik nie opgee nie.

Mega snuffel aan die klere op die vloer.

Polisieuniform. Taakmag.

Dom. Dommer. Domste.

Hackers date nie polisiemanne nie. Moenie polisiemanne date nie.

Ek en die honde loop uit, na die yskoue leefarea met sy teëlvloer. Ek maak die deur toe, vee oor my hare wat deesdae lank in my nek lê. Ek het lanklaas by sny uitgekom.

Steeds neul die foon.

“Yes, wat’s dit?” skel ek op wie ook al aan die ander kant van die verbinding is.

“Jy moet Kaap toe kom.”

Ek herken die stem onmiddellik. Maak nog steeds seker. “Mosela?”

Ek loop na die rusbank, soek na my jeans en die T-hemp wat iewers lê.

“Daar’s ’n sesuurvlug. Ek het vir jou ’n kaartjie geboek.”

“Wat moet ek in die Kaap kom doen?” Ek kry die jeans, pluk dit aan terwyl ek die foon met my skouer teen my oor druk.

“Hier’s ’n datapatroon wat my bekommer. Ek wil hê jy moet daarna kyk.”

“Hoekom? Daar’s niks wat jy nie met data kan doen nie. Jy’s die Einstein van data. Die freaking Stephen Hawking van dirty little secrets.” Ek trek die T-hemp oor my kop.

Haar stilte laat my vries. “Mosi? Wat’s fout?”

“Ek dink iemand gaan binne die volgende 24 uur vermoor word.”

Dit sou beter gewees het as die queen gebel het.

Ek sug. Weet Mosi kan nie die polisie kontak nie.

“Is jy seker?” Ek soek oor my skouer na die kamerdeur. Dis steeds toe.

Megabyte kla om uit te gaan. Ek loop na die staaldeur wat na die trappe lei. Ek gaan bars in hierdie koue met my kaal voete, maar hel weet waar my tekkies is.

“Ek is 59% seker,” antwoord Mosi.

Ek weet dis nie ’n skatting nie, eerder ’n fyn berekende som. “Dis ’n amper twee uit drie kans.”

“Presies. En dis genoeg om my bekommerd te maak.”

“Ek sal ry. Ek kan vanaand daar wees.”

“Ons het nie tyd nie.”

Ek haat dit om te vlieg. Haat enige klein spasie. “Hoekom kyk jy na hierdie goed as jy niks kan doen nie?”

“Ek weet. Maar dis 59%.”

Ek gee in. “Maak die vlug seweuur. Twee kaartjies. Ek gaan iemand saambring.”

“Wie?”

“Ek moet op ’n blerrie vliegtuig klim, so jy beter orraait wees daarmee as iemand saamkom.”

“Wie, Sarah?” Haar stem styg ontsteld.

“Iemand wat ek vertrou. ’n Ekstra paar oë en hande, dis al.”

Sewe-en-veertig

Подняться наверх