Читать книгу Sewe-en-veertig - Irma Venter - Страница 8

JAAP 1.

Оглавление

Maandag 6 Julie, 10:26

Dit pla my nie dat die meisiekind my vanoggend kom wakker klop het nie. Sarah is soos familie. Ons is al deur ’n paar moeilike dinge saam. Meer nog, sy het mý gehelp toe ek laas gevra het. En sy’s reg, ek is nie tans besig met ’n ondersoek nie.

Wat my wel pla, is waar sy nou weer infoeter. Moord? Klink soos moeilikheid.

By The Library se hysbak druk sy die knoppie vir die sestiende vloer. Haar Converse-tekkies raas op die teëls toe sy na my draai. Sy vee die rooi hare – mooi so lank, maar ek weet om niks te sê nie – agter haar ore in. Stamp haar voete, duidelik nie beïndruk met die wind en weer nie.

Sy beduie na die trappe langs die hysbak. “Sien jou bo,” sê sy met daai diep, hees stem van haar wat soveel groter as haar lyf is.

Nie gedink sy gaan die hysbak vat nie. Ek is verbaas dat sy vanoggend gevlieg het, en dit in hierdie weer. Sy moet diep in die skuld wees by hierdie Mosela-vrou.

“Dis sestien vloere,” waarsku ek.

Sy haal bloot haar skouers op onder die swart leerbaadjie en druk haar ken dieper in die geruite serp toe die wind deur die parkeergarage swiep. Haar kort figuur verdwyn teen die trappe op, rugsak oor die skouer.

Op die sestiende vloer wag ek vir haar waar die hysbak my aflewer, in ’n witgeverfde portaal met ’n glaskoffietafel, swart banke, ’n swart mat en swart blindings.

As Sarah op die bank gaan sit, gaan sy verdwyn.

The Library. Data Scientists. Die naam staan in outydse tikmasjienskrif op die wit muur langs ’n deur met ’n swart ysterhek en ’n syferpaneel wat vir ’n toegangskode wag. ’n Kamera loer vir my vanuit die een hoek.

Iewers hoor ek ’n dowwe dreuning. Kragtige lugversorging, as ek moet raai. Hoekom weet ek nie, dis seker ses grade Celsius daar buite.

Tensy dit nodig is om die gebou se temperatuur konstant te hou.

Ek steek my hande in my baadjiesakke, kyk na die kamera regs teen die dak. Roer ongemaklik in my skoene. Wat is hierdie plek? Daar is geen horlosie teen die muur, geen koerante of tydskrifte op die koffietafel en geen ontvangsdame nie. Dis amper asof jy net hier mag inkom as jy ’n afspraak het.

Sarah kom uitasem in die gang afgestoom, duidelik nie gewoond aan die hoeveelheid trappe nie.

“Wakker?”

Haar oë sê sy maak my dood. Lieflike persoonlikheid so vroeg in die oggend.

Sy loop verby my en gaan staan voor die syferpaneel. Sê niks, doen niks.

Ek beduie met ’n hand steeds in my baadjiesak. “Ek staan al ’n rukkie hier, maar niks gebeur nie.”

“Wees net geduldig.”

Ons wag nog ’n paar minute.

Sarah se foon lui. Sy antwoord.

“Ja … ja. Okay.”

Sy lui af.

“Jy moet reguit na die kamera kyk.” Sy beduie na die hoek waar die swart oog blink.

Ek maak so.

Die sekondes tik verby.

“Ek weet ek’s nie Sean Connery nie, maar ek’s darem mooi genoeg om saam met jou in te gaan,” sê ek.

Sy draai om. “Onthou wat ek in die kar gesê het?”

“Moet aan niks raak nie? Moenie eet nie?”

“Moet ook nie simpel grappies maak nie.”

Die veiligheidshek biep en die deur agter die hek skuif oop.

“Kom,” beduie Sarah.

Ons loop ’n wit vertrek binne. Die deur skuif toe. Ek klop daaraan, hand steeds in my baadjiesak. Staal. Vreemde plek dié.

Ons is in ’n lang, smal, vensterlose vertrek met wit rusbanke en stoele teen twee van drie wasige glasmure. ’n Staalrak met klerehangers staan langs ’n glasdeur aan die verste kant van die vertrek. Die vloer is ’n grys industriële sementoppervlak.

’n Termostaat teen die muur sê dis 16 grade Celsius hier binne.

Sarah gaan sit op ’n stoel en begin haar tekkies se veters losmaak. Sy beduie na die stoel langs haar. “Trek jou skoene uit.”

“Ek dog ek mag aan niks raak nie.”

“Baie snaaks.”

Ek gaan sit, skop my skoene een vir een uit. Onthou te laat my linkersokkie het ’n gat by die kleintoon danksy ’n verveelde Labrador. Ek maak soos Sarah en hou my sokkies aan. Sy haal twee stelle dun, wit aanglippantoffels in geseëlde, deursigtige plastieksakke onder die bank uit en ons trek dit oor ons voete. Ek bêre my skoene teen die muur en hang my baadjie oor ’n hanger.

Die glasdeur skuif oop net toe ons klaar is, asof iemand ons nog die hele tyd dophou. Ons loop af in ’n lang gang, deur nog twee skuifdeure.

Anderkant die tweede deur, en net voor ’n derde deur, gaan staan ons een ná die ander op ’n stel voetmerke op die vloer. ’n Sterk wind blaas op ons neer.

Die lug is koeler en skoner in die volgende vertrek, asof ons ’n stofvrye omgewing binnegaan.

Die gang loop dood in ’n raadskamer met sagte blou lig en wit mure. Geen vensters nie. Behalwe vir die lang wit tafel en stoele is daar niks in die vertrek nie. Nie ’n enkele skildery, kussing of projektor in sig nie. Ek vee vinnig, ongesiens, met my vinger oor die tafel. Nie eers ’n stoffie nie. Ook geen boek in sig nie.

Die Library se gat.

Sarah trek ’n stoel uit en gaan sit.

Ek gaan sit langs haar, luister na die gedreun van die lugversorging. ’n Ander geluid het bygekom soos ons in die hart van die gebou in beweeg het – die klank van meer gesofistikeerde masjinerie. ’n Wit gesuis.

Die glasdeur aan die oorkant van die kamer skuif oop.

’n Langbeenvrou stap in asof sy op ’n New Yorkse loopplank paradeer, haar vel ’n pragtige, diep swart. Sy is meer as mooi. Prominente wangbene, kaalgeskeerde kop, ’n slanke, elegante nek met ’n breë swart halssnoer wat styf teen haar vel sit. Sagte wit langbroek, swart sybloes, laag oopgeknoop. Geen bra. Swart sokkies aan haar voete.

Dis moeilik om haar ouderdom te skat. Dertig? Veertig? Dit maak in elk geval nie saak nie, sy sal op sestig nog beeldskoon wees.

Sy gaan sit.

Daar is niks in haar hande nie, geen emosie op haar gesig nie. Nie eers nuuskierigheid oor my nie. Trouens, sy kyk nie eers na my nie.

“Vanoggend was die derde keer dat die patroon opgeduik het.”

Haar Afrikaans is perfek.

“En drie keer is ’n patroon?” vra Sarah, blykbaar min gepla deur die gebrek aan ’n groet of ’n dankie dat ons vroegdag Kaap toe gevlieg het.

“Ek wil nie vir ’n vierde keer wag om uit te vind nie. Wat as die patroon reg is?”

“Watse patroon?” vra ek.

Die vrou se oë swenk na my, terug na Sarah.

“Ek vertrou hom,” sê Sarah.

Sy kyk kwaai na my oor ek my mond oopgemaak het.

“Hy’s ’n afgetrede speurder. Kolonel.” Die vrou se stem is toonloos en afgemete, so steriel soos hierdie plek. “Jakobus Johannes Reyneke. Een-en-sestig jaar oud. Ma Johanna Frederika, pa Jakobus Johannes. Sy susterskind is in die Karoo vermoor. Sy was die rede hoekom julle die eerste keer saamgewerk het.”

“Wag ’n bietjie,” stry ek. “Ek weet wie ek is. Wie de hel is jy?”

Steeds kyk die vrou nie na my nie.

Sarah beduie ek moet stilbly. “Ek weet dit alles. Het jy op iets afgekom wat jou laat worry?”

Die vrou antwoord nie dadelik nie.

“Mosela?” vra Sarah weer.

“Sy cholesterol is te hoog. Hy kan enige oomblik omkap. En hy’s lank terug vir spanning behandel, net nadat hy in KwaZulu-Natal op die lyke van elf mense afgekom het. Drie kinders. Een baba. Met pangas vermoor. Massagraf in 1991. IVP teen die ANC – volgens die polisie, en ons almal weet hoe hulle lieg.”

Die bloed druis in my ore. “Dis vertroulike inligting! Jy kan nie sommer net …”

Sarah draai na my. “Jy drink jou cholesterolpille, nè?”

“Waar kry jy …”

Sarah sit haar hand op my arm. “Jaap? Asseblief.”

Ek haal diep asem, sukkel om die ergernis eenkant toe te stoot.

“Drink jy jou pille?” sê Sarah weer.

“Elke dag. Maar dit het niks met haar uit te waai nie.”

“Wat van die kanker?” vra Mosela.

Ek staan op.

“Jaap?”

Sarah moenie nou só klink nie, so omgekrap en bekommerd.

“Ek gaan huis toe.” Dis nie hoe ek vir Sarah wou sê nie. Ek wou saam met haar Kaap toe kom en iewers oor ’n lekker glasie rooiwyn sit en gesels.

“Dis my privaat besigheid,” sê ek vir Mosela. “Dit het niks met jou uit te waai nie.”

Sy maak uiteindelik oogkontak, die flikkering van ’n onpeilbare emosie in haar oë, maar dan verdwyn dit weer. Sy kruis haar bene, haak haar linkervoet agter haar regterkuit in ’n lyfvleg wat ek nog net by lang, maer vroue gesien het. Kyk na Sarah, na my. Tel af op haar vingers: “Marlboro’s, Halls en Coke. Voor vanaand. Onthou dit.”

“En wat beteken dit nou?” byt ek. “Dit maak nie eers sin nie.”

“Wat gaan aan, Jaap?” Sarah staan op, haar stem dringend.

Ek draai na haar. “Ek wou jou sê. Ek sál jou sê. Maar buite.” Ek beduie met my kop na die deur.

Sy volg my terug na die glaskas waar ons skoene is. Ons gaan sit op een van die banke.

“So dis Mosela?” vra ek.

“Ja.”

“Aangename vrou.”

“Los die sarkasme. Vertel my van die kanker.”

“Dis niks nie. Dis vroeg gevang. Kolonkanker. Ek het ’n operasie gehad, en toe bestraling en chemo. Nie eers baie nie, meer net om seker te maak als is weg ná die operasie. My hare het nie eers uitgeval nie.”

“En jy sê my niks?”

“Jy was besig met daai Van Zyl-saak in Brooklyn. Ek wou nie pla nie. Buitendien, dit was vinnig en pynloos.”

“Bullshit.”

“Ek sê mos ek’s okay. Belowe. Ek wou nie hê mense moes dit groter maak as wat dit is nie. Ek sou nie kon asemhaal en fokus as almal so kloek nie. Dis al. Net my suster het geweet, en dis hoe ek dit wou gehad het.”

Ek kan haar bekommernis tot hier voel.

Ek breek al die reëls en sit my hand op hare, druk dit vinnig. “Ek’s nie jou pa nie. Dis nie soos sy longe nie. Dit kan genees word.”

Sy sit terug, hou my fyn dop. “Wanneer moet jy weer behandeling kry?”

“Ek’s skoon. Dis nou net … ja … ek moet wag.”

“Om te weet of dit weg is?”

“Ja.”

“En die side effects van die chemo? Hoe voel jy?”

“Bietjie moeg. En my vingerpunte voel soms dood.”

’n Frons keep oor haar voorkop.

“Ek is okay. Belowe. Niks fout met my brein nie. En dis mos wat jy nodig het, en my oë en ore.”

“Ek sou jou nooit hiernatoe gesleep het as ek geweet het nie.” Haar stem klink skielik donkerder.

“Presies. Sien.”

“Shit, Jaap.”

Ek ken haar goed genoeg om die ontsteltenis agter die woede te sien. Haar groen oë skiet vuur, maar die mond wat in haar linkerkies optrek, is bang.

“Wat moet ek doen? By die huis sit en bekommerd wees?” Ek speel my troefkaart. “Buitendien, ek het na jou verlang. Hoekom nie saam met my gunstelingkuberkraker Kaap toe kom nie?”

Sy deins terug vir die emosionele eerlikheid, nes ek verwag het. Spring op van die bank. “Moet jy medisyne drink?”

“Iets om met die nadraai van die chemo en bestraling te help. Pynpille wanneer ek dit nodig het. En ’n handvol vitamines wat my suster uit die Noord-Kaap gestuur het.”

“Okay. Maar as jy sleg voel, vlieg jy terug. En ek sal besluit wanneer dit is, nie jy nie.”

“Ek hoor jou.”

Sy beduie na die gang en ons volg weer dieselfde prosedure om kiemvry by Mosela uit te kom.

“Hy sal okay wees,” sê Sarah toe ons by die wit raadskamer inloop.

Mosela staar na haar hande wat roerloos op haar skoot lê. Knik uiteindelik stadig. “Dan is hy seker welkom. Maar hy gaan ’n swygooreenkoms teken. As hy oor die Library uitpraat, gaan ek sy rekords openbaar maak. Die twee aanklagte van aanranding. Een in 2006, met die Kerkstraatmoorde. Die ander in …”

Hierdie keer het ek genoeg gehad. Ek staan op. “Tot siens.”

Ek storm in die koel gang af.

“Jaap!” Sarah draf agter my aan.

“Vergeet dit. Die vrou is ’n fo … blikskottel.” Ek draai na haar. “Speel lekker in julle eie opgeneukte sandput.”

Sy gaan staan, hande in die sye. “Wie? Al ons weirdos?”

Ek steek my hande in my broeksakke, weier om te antwoord.

“Ek het jou laas gehelp, Jaap. Ek het al die pad Karoo toe gefoeter oor jou suster se kind. Help my nou, asseblief.”

“Klink nie asof julle my nodig het nie. Daai vrou weet alles. Het jy ’n ding vir haar?” wonder ek skielik.

“Nee.”

“Skuld jy haar iets?”

“Ja. Nee.”

“Wat beteken dit?”

Sy sit haar hande op haar heupe, kyk dak toe. Sug. “Ons almal het ons stories. En Mosi sou nie gebel het as dit nie ernstig was nie.”

“Hoekom my dan afdreig as ek hier is om te help?”

“Sy’s bang.”

“Lyk nie so nie.”

“Sy is.”

“Vir wat?”

“Alles. Kieme. Wanorde. Hierdie patroon. En haar werk is nie altyd wettig nie. Sy kan nie sommer net polisie toe gaan nie. Sy … Los dit.”

“Aikona,” raas ek. “Nou verduidelik jy.”

Sy loer skrams na die hoek waar ’n kamera teen die dak sit. “Dink aan Mosela as ’n digital age librarian. In plaas van boeke werk sy met data. Sy’s verslaaf aan data. Aan inligting. Aan weet.”

“En wat doen sy met die data?”

“Sy verkoop dit. Meestal.”

“Aan wie?”

“Mense.”

“Wié?”

“Soos ek sê, ons almal het ons stories. Ons dinge. Maniere om te oorleef.”

My hande word vuiste in my broeksakke. “Daai goed wat sy oor my gesê het. Die aanranding. Dis nie wie ek is nie.”

“Ek weet dit.”

Ek kyk agterdogtig na haar.

“Ek weet als van jou af, Jaap. Al van destyds toe jy gevra het ek moet help. Dink jy regtig ek het nooit my eie navorsing gedoen nie?”

Ek haal my hande uit my sakke toe ek besef dit maak Mosela seker gelukkig dat ek so kwaad is. Ek leun met ’n oop palm teen die naaste glasmuur, los ’n vetterige merk. Vra: “Is dit regtig die moeite werd om hierdie vrou te help?”

“Dit is. Sy weet wat sy doen. Ons sou nie hier gewees het as dit nie belangrik was nie. As iemand nie in die moeilikheid was nie.”

Ek weeg die erns op haar gesig. “Okay. Kom ons gaan hoor wat sy te sê het.” Ek swaai my vinger waarskuwend. “Maar as sy enigiets oor my op julle heilige web sit, gaan ek op haar rekenaars spoeg. En dis ’n belofte.”

Sewe-en-veertig

Подняться наверх