Читать книгу Sewe-en-veertig - Irma Venter - Страница 13

Оглавление

JAAP

3.

Maandag 6 Julie, 13:51

Die man stap haastig in die stad se rigting, die Waterfront en hawe agter hom. Hy druk sy hande in sy jeans se sakke asof hy koud kry. Laat sak sy kop teen die wind wat aan sy lyf ruk en sy swart kuif plat pleister.

Ek wens ek het self iets warmers gedra. Die wind sny deur my baadjie. Dikker sokkies sou ook gehelp het. Hierdie blerrie plek is kouer as wat ek dit onthou.

Waarheen is die man op pad? Nog plesier? Of sy volgende slagoffer?

Die ongemak kriewel in my. Dit lyk nie asof hy gewapen is nie, maar ’n mes kan maklik versteek word. En wat as die vrou eerder ons teiken moes wees? Wat as sý Mosi se huurmoordenaar is? Dis glad nie onmoontlik nie. Onwaarskynlik, maar nie onmoontlik nie.

Ek het nog nie die vuurwapen gekry wat my oudkollega beloof het om af te lewer nie. Ek wou nie met my eie Parabellum vlieg nie, maar ek het wragtig ook nie gedink ek gaan op ’n Maandagmiddag ’n moordenaar in Kaapstad agtervolg nie. Gewoonlik vermy Sarah geweld soos die pes.

Regs in Breestraat.

Ek stuur in die loop vir Sarah ’n kort boodskap, tel weer spoed op. Die strate en sypaadjies is redelik leeg. Dit lyk of almal skuiling soek teen die koue in koffiewinkels en restaurante.

Blou hemp loop stadiger, antwoord sy foon. Gaan staan stil.

Ek draai by ’n winkel in. Die klere op die rakke lyk soos dié wat my pa altyd gedra het. Bruin, geel, groen, geruit. Die vrou agter die toonbank kyk belangstellend op toe ek inloop, ignoreer my dan.

Ek blaai deur die rak naaste aan die venster, hou my oog op die straat. R900 vir ’n papierdun groen en geel T-hemp? Is die ding van goud gemaak?

Blou hemp is weer aan die beweeg. Ek loop uit. Die man lyk nie vir my baie waaksaam nie. Hy stel nie eers belang om te kyk of iemand hom volg nie.

Of dalk weet hy lankal dat ek op sy spoor is.

Twee, drie blokke verder. Af in Houtstraat, en dan loop hy links in by ’n koffiewinkel. Ecstasy, sê die bord bo die ingang. Ek wag buite tot twee ander mense ingaan, volg hulle binnetoe oor die skaakbordvloer.

’n Vrou skree, oë toe, in ’n swart-en-wit skildery bo ’n koffiemasjien wat soos ’n ruimteskip lyk. Die musiek is verbasend rustig. Jazz wat ek nie ken nie.

Sarah sou sê die plek is funky.

Ek gaan sit in die hoek sodat ek Blou hemp kan dophou. Stuur ’n boodskap vir Sarah om te sê waar ek is.

Blou hemp sit alleen by ’n tafel, maar dis duidelik hy wag vir iemand. Hy trek sy kraag reg, vee deur sy hare sodat dit reg lê ná die wind daar buite. Leun terug in sy stoel en glimlag vir die kelnerin wat ’n koppie tee voor hom neersit.

Sewe-en-veertig

Подняться наверх