Читать книгу Sewe-en-veertig - Irma Venter - Страница 14

SARAH 1.

Оглавление

Maandag 6 Julie, 13:36

Die masseuse gesels op Frans met die hotel se deurwag. Dit klink asof sy hom ken. Hy is ’n seningrige swart man, gesuit en getie, wat gereeld en hardop lag. Hy lyk asof hy van die Kongo of daar iewers kom.

Haar Frans is krom en skeef en sy stop kort-kort om na die regte woord te soek. Selfs ek kan hoor sy leer nog.

Ek loop uit, bedel ’n sigaret by ’n groep Spaanse toeriste wat vir ’n lughawebus staan en wag. Ek weet ek moenie rook nie, maar wat anders moet ek doen terwyl ek hier staan? Maak asof ek ook lughawe toe gaan, al het ek geen bagasie nie?

Amper twee jaar sonder ’n sigaret. My pa draai in sy graf om.

Die nikotien tref my sisteem soos ’n happy pil, trek reguit kop toe, die tevredenheid wat grimmig deur my lyf skitter. Fok weet, ek mis dit om te rook.

Ek verstel die bande van my rugsak sodat dit styf teen my lyf sit en bietjie meer van die wind blok. Druk my ken in my serp in, ril van die koue.

Die masseuse praat en praat.

Ek wens die bus wil kom dat die deurwag weer werk het en die vrou kan loop.

My wens word bewaarheid. ’n Swart Mercedes-minibus gemerk The 33 daag op. Die deurwag staan nader om te help.

Die vrou groet, loop. Ek kyk op my horlosie. Dit het meer as ’n kwartier geneem.

Ek volg haar om die hotel, na die personeel se parkeerterrein en die goedkoop motors wat daar staan, weggesteek agter netjies gesnoeide struike wat teen die wind stoei. My foon vibreer in my rugsak, maar ek kan nie nou daarna kyk nie. Dis ’n boodskap, nie ’n oproep nie. Jaap sal vir my of Mosi bel as iets skeefgeloop het. Ek kan nou nog nie glo sy het haar selnommer vir hom gegee nie.

Die masseuse maak ’n silwer Toyota Etios se agterdeur oop en sit haar sportsak en die takke op die sitplek neer. Slaan die deur toe.

“Shit.” Sy vries halfmas, trek aan haar blonde hare wat in die deur vasgevang is en maak dit weer oop. “Eina.”

Ek staan versigtig nader. Suid-Afrikaners vertrou nie vreemdelinge wat hulle lastig val nie, veral nie by hulle motors nie. “Haai. Hallo.”

Sy kom orent, gee outomaties die geoefende glimlag van iemand wat in die dienssektor werk, maar steeds slaan die agterdog deur.

“Jammer ek pla,” praat ek vinnig. “Dis oor die man by wie jy nou net was. Ek wil meer oor hom weet.”

Die glimlag verdwyn. “Orlando? Die deurwag?”

In my rugsak vibreer my foon weer. “Nee. Die man in die hotel. Die massering?”

Sy frons agterdogtig, verskuif die bos sleutels in haar hand sodat dit deur haar vingers steek, soos vroue in selfverdedigingsklasse geleer word. Sy is langer as ek, en fisiek sekerlik taaier. Jy moet sterk wees om heeldag ander mense te masseer.

“Hoekom wil jy oor hom weet?” vra sy.

Goeie vraag. Ek dink vinnig.

“Dis my boyfriend. Ek vermoed hy verneuk my.” Dalk help die gewaande solidariteit van susters in verdrukking.

Sy lag, laat sak die hand met die sleutels. “Hy? Jou ou?”

“Hy hou van venik-masserings,” mompel ek.

“Nie regtig nie.”

“Wat bedoel jy?”

“Die vróú hou van venik-masserings.”

“Die vrou?”

Sy kyk na my asof ek mal is. “Die vrou by hom? As daai man jou kêrel is, is ek jammer vir jou. Hy’s ’n gigolo. Nothing more, nothing less.”

Sewe-en-veertig

Подняться наверх