Читать книгу Stille waters - Juanita Aggenbach - Страница 11

5

Оглавление

Katrien skuif haar boeke weg. Dis al donker buite en haar maag gor van die honger, maar sy tel eers haar selfoon op. Dit het die afgelope vyf minute kort-kort vibreer van nuwe whatsapps wat inkom. Net Daniëlle spam haar só as sy haar aandag wil trek.

Dis nie Daniëlle nie, sien sy teleurgesteld, maar die klasgroep. Met twaalf nuwe whatsapps. Sy klik daarop, al weet sy dit sal tog net iemand wees wat gevra het watse huiswerk hulle moet doen.

Divan het vanmiddag selfmoord gepleeg.

Haar wange slaan aan die brand. Sy lees verder.

No ways.

Hoe het hy dit gedun?

Weenie, seker geskiet.

Nope, my ma se die bure het geen skote gehoor nie. Hy het seke pille geslik.

Hyt hom gehang.

Wat is dit nou?

Ja, gehang.

Daar is heavy baie polisie by sy huis. Hy moes homself geskiet het.

Johhh!

But why???

Ek kan dittii glo nie!

Die whatsapps bly inrol terwyl sy sit en kyk.

Wie het laaste met hom gepraat?

Daai dude was nooit lekke ni.

Katrien mute die groep. Sy moes nie na hom geluister het nie, sy moes vir meneer Snyman gesê het. Hoekom het Divan haar gekeer? Hy’t gesê hy het ’n plan.

Was dít sy plan?

Het jy gehoor van Divan? tik sy vir Daniëlle.

Nou net, dis legit die ergste ding wat ek nog gehoor het. Dink jy dit gaan oor vanoggend

Sy trek haar knieë teen haar lyf vas. Weti. Hyt gesê dit was niks. Maar as dit nie dit was nie, wat anders?

Beats me

Die kamerdeur vlieg oop. “Kos is reg,” sê haar ma.

Sy laat haar foon uit haar hand op die bed gly. “Lekker, wat eet ons?”

Haar ma se wenkbroue skiet dak toe. “Ek dog jy doen huiswerk?”

“Ek hét huiswerk gedoen, Ma. Ek vat ’n breek.”

“Oukei, kom. Die kos raak koud.”

Sy loop op die uitgetrapte mat agter haar ma aan en skuif tussen Driekie en Heleen in. Daar wag vis op haar bord, saam met patats en ’n kwart tamatie. Die laaste ding wat sy nou wil doen, is eet.

“Vertel nou eers vir my.” Haar ma kou klaar voor sy verder praat. “Ken julle Instagram?”

Heleen glimlag. “Almal ken Instagram, Ma.”

“Hoe kry mens dit?”

“Jy laai dit op jou foon.” Heleen roer met haar vurk deur die kos op haar bord. “Dis ’n app.”

“Kan ek tamatiesous kry?” vra Driekie.

“Ja, gaan kry maar ’n bietjie.” Haar ma draai na haar. “Het jý dit op jou foon, Katrien?”

Vir die eerste keer ooit is sy spyt dat sy die enigste kind in die huis is wat ’n selfoon het. Haar ma sê doodeenvoudig niemand kry ’n foon voor hulle hoërskool toe gaan nie. Heleen moet nog tot volgende jaar wag, en Driekie nóg langer.

“Ja, Ma.”

“Dan moet jy dit asseblief afhaal.”

“Hoekom?”

“Tannie Noxy het my vandag daarvan vertel en sy sê dis baie gevaarlik. Enige vreemdeling kan jou daarop in die hande kry.”

“Ek het ’n private account, Ma. Niemand kan my daarop kry voor hulle nie vra of hulle my vriend kan wees nie.”

“Blykbaar kan enigiemand vir jou ’n boodskap daarop stuur.”

“Ja, maar ek kan besluit of ek dit wil antwoord of nie.”

“Ek hoor jou, Katrien. Maar ek wil nog steeds hê jy moet dit afhaal. Tannie Noxy sê Instagram is goed vir niks en sy sal weet, sy het al twee dogters deur die skool.”

“Oukei.”

Sy het nie lus om te stry terwyl haar gedagtes in so ’n warboel is oor Divan nie. Sy sal die app afhaal en elke keer deur Google inteken. Haar ma sal nooit weet nie.

Dis stil om die tafel, net die ou bokstelevisie wat in die agtergrond blêr. Katrien sukkel om haar kos afgesluk te kry. Daar is ’n diep frons tussen haar ma se oë en swaar lyne wat haar mondhoeke aftrek. Sy moes ’n mooi vrou gewees het toe sy jonger was. Haar blonde hare hang lank en steil teen haar rug af en haar oë is albastergroen.

Katrien hou haar onderlangs dop. As haar ma só kyk, is sy ver weg. Maar waarheen sy in haar kop gaan, het Katrien nog nooit die vrymoedigheid gehad om te vra nie. Al wat sy weet, is dat dit nie baie great daar kan wees nie.

Die laaste happie is skaars in haar mond toe sy opstaan. “Ek het nog baie huiswerk om te doen.”

“Gaan jy maar, ek sal opruim.” Haar ma maak die borde bymekaar. “Heleen en Driekie, julle moet regmaak vir die bed.”

Daar wag 134 nuwe whatsapps op Katrien se foon. Sy vluglees daardeur. Almal op dieselfde trant: skok en hoekoms.

Hoekom anders, julle fools? wil sy skree. Was julle dan die hele tyd blind én stupid?

Maar sy tik dit nie vir hulle nie, want sy was nog altyd ’n lafaard. Is nog steeds.

Hoekom het sy nie vir Divan opgestaan nie? Hoekom het sy hom nie gevra watse plan hy het nie?

Dorette sit die borde in die wasbak en maak haar oë vir ’n oomblik toe. Om haar ewewig te kry. Om Herman vir die soveelste keer uit haar kop te verban. Nes ’n houtkewer kerf hy elke keer ’n pad oop deur haar gedagtes. En dit help nie dat Katrien in sy ewebeeld ontwikkel nie.

Dis om die horries van te kry.

Wat ook aan haar krap, is dat Katrien nie haar geleenthede ernstig genoeg opneem nie. Hoekom lê sy op haar foon terwyl sy moet leer? Wil sy dan soos haar ma opeindig?

Hoe maak sy die kind rede verstaan? Die enigste manier om iets in hierdie lewe te bereik, is geleerdheid, dit weet sy uit dure ondervinding. Sodat Katrien nie ook eendag drie kinders alleen moet grootsukkel op die salaris van ’n supermarkbestuurder nie.

Dorette is dankbaar vir haar werk, sy is regtig, maar sy kon soveel beter doen. Sy sóú soveel beter gedoen het as sy nie in haar eerste jaar op universiteit in Herman vasgeloop het nie.

Sy sal nie toelaat dat haar dogters dieselfde pad stap nie. Sy sal enigiets doen om hulle deur skool en universiteit te kry, en om te sorg dat hulle nie dieselfde foute as sy maak nie.

Sy tap water in en begin die skottelgoed was. Haar weerkaatsing in die kombuisvenster trek haar aandag en sy laat onmiddellik die blinding sak. Enigiemand kan haar van die straat af sien. Herman ook.

Dis al twaalf jaar.

Sy skud haar kop. Sy moet regtig minder paranoïes raak. Herman het haar tot dusver nie opgespoor nie, en geen regdenkende mens sal ná soveel jaar nog steeds soek nie.

Maar Herman is nie regdenkend nie, dit weet sy in die diepte van haar dieptes. En sy kan nie die gevoel afskud dat hy agter hulle aan is nie. Al vandat sy vanmiddag na Elroy gaan soek het om hom oor die skeermeslemmetjies uit te trap. Dit was net ’n syaansig, maar sy het haar byna flou geskrik. Soos ’n verskrikte haas het sy met die trappe op kantoor toe gevlug.

As Herman hier is …

Haar hande bewe toe sy die laaste bord op die droograk neersit. As hy hier is, sal hulle oor moet begin. Wéér.

Stille waters

Подняться наверх