Читать книгу Stille waters - Juanita Aggenbach - Страница 15

8

Оглавление

Hanna sit in haar kantoor en kyk CV’s deur. Wat haar verstand te bowe gaan, is hoe enigiemand kan dink die feit dat sy in 2017 ’n toptien-bikinimodel vir FHM was, kan voordelig wees in ’n internskap-aansoek by ’n prokureursfirma. Sweerlik moet iemand met ’n LLB-graad die som kan maak dat daardie stukkie inligting meer afbrekend as opbouend vir haar toekomstige beroep kan wees?

“Hanna.” Carl kom staan arms gevou in die deur. “Tyd om te ry. Dis amper eenuur.”

Die polisielykshuis, onthou sy teësinnig. Die uitkenning.

“Weet jy waar Divan se ID is?” vra Carl. “Hulle het gesê ons moet dit saambring.”

“Ek glo dis in sy beursie. Hy bêre dit altyd in sy kas by sy sokkies.”

“Ek kry dit gou.”

“Dankie.” Self wil sy dit nie gaan soek nie.

Sy staan op van die lessenaar toe die voordeurklokkie lui. Op die eetkamertafel staan twee ruikers. Dis dan seker hoekom die klokkie vroeër gelui het – mense het blomme gestuur.

Voor die deur staan ’n man met nog ’n ruiker.

Sy bedank hom en neem die blomme, maak die deur agter haar toe.

Die ruiker is van Divan se skool. Ons innige simpatie en medelye met …

Sy wil dit nie lees nie. Sy vou die kaartjie toe en sit die ruiker by die ander neer.

“Het dit.” Carl waai die ID-kaart in sy hand. “Nog blomme?”

“Van die skool af.”

Hy staar vir ’n oomblik verdwaal na die ruikers, kyk dan terug na haar. “Ons moet gaan.”

Toe hulle by die lykshuis kom, is Hanna dankbaar dat sy Nadia skool toe gestuur het. Hierdie is nie ’n plek vir kinders nie.

Die man agter die toonbank groet vriendelik. “Waarmee kan ek help?”

“Ons is hier om …” Sy kyk na Carl. Hoe stel mens dit?

Hy neem haar hand. “Ons seun is hier.”

“Wat is u seun se naam en van?”

“Divan Klopper.”

“Het u sy ID-dokument saamgebring?”

Carl maak keel skoon. “Ons het.”

Hanna los hom om deur die berg vorms te werk. Eers toe hy die laaste een op die stapel sit, kyk die man agter die toonbank weer na hulle.

“Wie gaan hom uitken?”

Hanna lig haar ken. “Ek sal.” Sy móét haar kind sien.

Carl frons bekommerd. “Is jy seker? Jy is al deur genoeg.”

“Ek moet.”

Sy volg die man in ’n gang af, tot waar sy van agter glas na Divan moet kyk. “Ek het gehoop ek kan aan hom vat?”

“Jammer, mevrou, dis ’n gekontamineerde area. Ons laat nie die publiek daar toe nie.”

Sy staar angstig deur die glas. Divan se gesig is bleek. Sy wit wimpers rus dig opmekaar. Sy kan nie sy nek sien nie, hulle maak hom net oop tot by sy ken.

“Is dit Divan Klopper?” vra die man formeel.

Haar keel trek toe van emosie. “Ja.”

“Dan kan ons maar gaan. Volg my, asseblief.”

Terug by die toonbank vra die man vir Divan se ID-kaart. Hy stempel dit sonder omhaal: Cancelled. ’n Swaard draai dwars in haar hart.

Die man oorhandig ’n saaknommer aan Carl, asook die nommer van die patoloog indien hulle sou belangstel in die uitslag van die lykskouing.

Met die uitstap slaan Carl sy arm om haar skouers. “Sal ons die begrafnisondernemer uitstel en huis toe gaan?”

Ja! wil sy uitroep. Hulle het niks by ’n begrafnisondernemer verloor nie. Maar sy het klaar gereël dat Nadia ná skool na Sandra-hulle toe gaan sodat hulle die afspraak kan nakom.

“Nee, laat ons dit oor en verby kry.”

Die begrafnisonderneming se kantoor is klein. Dit laat Hanna benoud voel.

’n Man in ’n pak klere wat om sy maag span, groet hulle met die hand.

“Jammer vir u verlies. Het julle al die nodige dokumentasie saamgebring?”

“Ons het.” Carl oorhandig ’n pakkie goed.

Hanna se skedel voel hol terwyl die man praat oor die waar en hoe van die seremonie. Die begrafnisbrief, die liedere wat gesing moet word, die blomme … Al wat sy sien, is Divan wat op ’n vlekvryestaaltrollie agter dik glas lê.

“Goed.” Die man krap aan sy wang. “Nou is dit nog net die keuse van ’n kis. Gaan julle hom veras of begrawe?”

Sy skud hulpeloos haar kop. Divan in ’n kis in die grond of deur ’n vuuroond? Dit kan mos nie ’n keuse wees wat ’n ma moet maak nie?

“Hier is ’n brosjure van al die kiste wat ons beskikbaar het, met die pryse by elk,” gaan die man voort. “Julle sal sien dit begin by die goedkoopste en word duurder.”

“Is ’n kis nodig vir verassing?” vra Carl.

Die woorde tref Hanna soos ’n hou in die maag.

“Beslis, ja. Maar dan kyk julle na hierdie groepie kiste.” Die man blaai na die agterkant van die brosjure.

Carl draai vraend na haar.

Sy moet hier uit. Nóú. “Ek kan hom nie laat veras nie. Dit voel nie reg nie. Kies jy maar, ek gee nie om nie.”

Buite voor die gebou sak sy op haar hurke neer en snak na asem. Dis te erg. Sy is nie sterk genoeg hiervoor nie. Sy gaan dit nie maak nie.

Toe Carl uitkom, lei hy haar woordeloos motor toe.

By die huis gaan lê sy op die bed om te rus. Maar die verdriet storm soos ’n vloed deur haar en sy krul in ’n bondel op om nie daarin op te los nie.

Die deurklokkie lui. Seker weer iemand wat kos of blomme bring … Nee, dis tienerstemme wat sy hoor.

Sy staan op, spoel haar gesig af en stap sitkamer toe.

Daar sit seker sewe van hulle rondom Carl. Die meisies tranerig, die seuns somber.

Hulle kyk op toe sy inkom, groet in ’n koor: “Hallo, tannie.”

Sy kyk hulle deur. ’n Paar herken sy van lank gelede, die ander nie.

“Divan se vriende het ’n draai kom maak.” Die glimlag op Carl se gesig is pynlik.

Sy draai na die twee seuns wat vaagweg bekend lyk. “Is jy Sean? En … Jammer, ek het jou naam vergeet.”

“Ek is Neil, tannie,” sê die ander seun.

“O ja.”

Sy onthou hulle nou. Hulle was ’n paar keer hier met ’n verjaardagpartytjie. Beide het ’n ontwrigtende streep gehad. As dit tyd was om die koek te sny, het hulle bomme in die swembad gemaak. Tydens cowboys en crooks het Neil die kat só verwilder dat hy ’n week later nog steeds bang was vir die tuin. Met Divan se volgende verjaardag het sy summier geweier dat hy hulle weer nooi.

’n Donkerkopmeisiekind skuif vorentoe op haar sitplek.

“Ek is Katrien, tannie. Ek was saam met Divan in die klas en ek en hy het in die orkes gespeel.” Die bruin oë vul met trane. “Ek is baie jammer oor wat gebeur het.”

Hanna byt haar onderlip vas toe sy voel hoe dit begin bewe.

“Ek is Alyssa, tannie,” sê ’n blonde meisie met rooigehuilde oë. “Ek is ook baie jammer oor Divan.”

’n Jong man met ’n reeds harde baard drapeer sy arm om die meisie se skouers. Sy armspiere bult. “Ek is mos Albert, tannie.”

Hanna knik. “Ek onthou jou.”

Hoe kon sy hom vergeet het? Hy was die maatjie wat byna elke Vrydagmiddag hier kom speel het toe Divan nog in die laerskool was. So klein soos wat Divan was, so ’n pokkel was Albert. Nou is sy babavet bultende spiere en sy piepiepot-haarstyl ’n lang kuif.

Albert kyk ongemaklik af. “Ek is genuine jammer oor Divan, tannie.”

Die onthou van die twee seuntjies wat videospeletjies in die sitkamer speel, oorrompel haar. Hoekom het Albert verdwyn? Wanneer het hy ophou kuier by Divan? Graad ses? Graad sewe?

“Dankie dat julle gekom het. Divan sou dit baie waardeer …”

Haar sin knak stomp af voor sy kamer toe vlug.

Sy maak die deur agter haar toe en bly so staan. Luister hoe die stemme by die voordeur groet en dan straataf verdwyn. Sy is bly hulle loop. Dit maak te seer om sy skoolmaats so gesond en vol lewe te sien.

Carl lyk moeg toe hy inkom. “Die seuns het groot geraak, nè?”

Sy sak op die bed neer. “Hulle lyk soos Springbok-rugbyspelers.”

“Albert en Sean speel nou vir die eerste span, ja.”

“Dink jy dis hoekom Albert nie meer kom kuier het nie? Het hy sy rugbymaats bo Divan gekies?”

“Ek weet nie. Hy was hier vandag?”

“Dis nou bietjie laat, dink jy nie?”

Carl vryf oor sy hare. “Ons moet seker vir Nadia gaan optel.”

“Seker.” Sy het nie die krag om nou ’n ma te wees nie. “Gaan jy maar.”

Sy hoor hoe hy die voordeur sluit, hoe die motor wegtrek.

Sy moet seker iets regkry vir aandete, maar dis asof haar lyf nie weet waarheen om te gaan nie. Asof haar brein vergeet het hoe om met haar ledemate te kommunikeer.

Sy gaan lê op haar sy, maak haar oë toe, luister hoe sy asemhaal. Konsentreer op die vergroting van haar buik met die intrek van suurstof, die uitblaas van die lug.

In. Uit. In. Uit.

Stille waters

Подняться наверх