Читать книгу Stille waters - Juanita Aggenbach - Страница 13

7

Оглавление

Katrien se selfoon maak haar vroegoggend wakker. Sy voel-voel met toe oë daarna. Eendag as sy haar eie geld verdien, sal sy ’n foon met face recognition of ’n fingerprint kry, dink sy vir die soveelste keer toe sy haar oë moet oopmaak om die PIN in te tik.

Sy skuif regop teen haar kussings om te kyk wat op die whatsapp-groepe aangaan. Sy behoort aan net drie groepe (nie iets waarop sy trots is nie): die klasgroep, die orkesgroep en die hokkiegroep. Dis veral die orkesgroep wat maak dat sy vroeg al moet weet wat aangaan, want die juffrou chop and change soos sy wil. As sy nie die groep dophou nie, kom sy dalk seweuur by die skool aangejaag vir orkesoefening en dan is dit afgestel. Dan moet sy soos ’n pôpô vir ’n halfuur rondloop voor Daniëlle daar aankom.

Die orkesgroep het reeds vyf whatsapps op. Die eerste boodskap het net voor twaalf al deurgekom.

Divan se pa het my ma nou net gebel. Hy het nie detail gegee nie, net gesê Divan is skielik oorlede. Wou julle net laat weet.

Gisteraand se naarheid is dadelik terug. Sy gaan badkamer toe, trek aan, maak haar bed op en vat haar boeksak.

Haar ma wag al by die voordeur om te sluit. Sy gee haar een kyk en vra: “Hoekom is jy so bleek?”

“Haar boyfriend het haar seker gelos,” snip Heleen.

Katrien strip haar net daar. “Vir wat wag jy nie vanoggend in die kar nie?”

“Watse boyfriend?” vra haar ma ’n paar trappe voor haar uit.

Katrien storm ondertoe en ruk die blou Golf se deur hardhandig oop. “Klim, Driekie. Moenie net daar staan nie.”

“Van wanneer af het jy ’n boyfriend, Katrien?”

Sy staar by die venster uit. Haar ma is nes ’n bulldog met ’n been as dit by seuns kom. Hulle pa het sweerlik ’n royal job met haar gedoen. Wat presies die detail daarvan is, weet geen mens nie, want daaroor is haar ma soos ’n tablet met ’n unknown password. Self was sy te klein om so ver terug te onthou. Maar een ding weet sy vir seker: deur haar pa se toedoen dink haar ma alle mans is van die hel af. Insluitende skoolseuns.

“Ek het nie ’n boyfriend nie, Ma. ’n Seun in my klas het gister selfmoord gepleeg.”

Driekie klap haar hand oor haar mond. “Selfmoord?”

“Jitte, Katrien.” Haar ma stop by ’n rooi verkeerslig en kyk na haar. “Was dit ’n vriend van jou?”

Heleen druk haar kop tussen die voorste sitplekke in. “Ons juffrou het ons geleer jy noem dit selfdóód.”

“Whatever, Heleen. Ja, hy was. Sy naam was Divan Klopper.” Tot haar skaamte is dit die eerste keer dat sy na Divan verwys as haar vriend.

“Ek het gister ’n Klopper-vrou by die winkel gehelp.” Haar ma tik met haar duim op die stuurwiel. “Hanna Klopper. Dalk was dit haar seun? Sy was baie haastig.”

“Ek dink nie sy sou in die winkel gewees het ná haar seun …”

“Seker nie.” Haar ma sit die motor in rat en trek weg.

“Hoe het hy dit gedoen?” vra Heleen gretig.

“Ek weet nie.”

“Julle moet asseblief nooit so iets aan my doen nie.” Haar ma skakel die flikkerlig aan om voor die skool te parkeer. “My hart sal dit nie hou nie.”

Katrien maak haar veiligheidsgordel los. “Dis nie die plan nie.”

Met die uitklim sien sy Daniëlle wag haar by die skoolhek in. Soos in bý die hek.

“Dis so sad,” sê Daniëlle. “Almal huil.”

Katrien gee haar ’n drukkie. Sy bekyk die speelgrond waar nie sy, Daniëlle óf Divan ooit hulle voete wou sit nie. Daar is actually meisies wat trane afvee. Die ouens staan ongemaklik rond, hande in die sakke.

Kort ná die skoolklok gelui het, kondig die graadhoof ’n saalbyeenkoms aan.

Daar heers ’n vreemde stilte toe die hoof begin praat.

“Ons het gisteraand met groot hartseer verneem dat Divan Klopper in graad 11C oorlede is. Ons besef dis ’n geweldige skok vir julle almal, en ons wil vir julle sê dat ons as onderwysers vandag saam met julle treur. As enige van julle nodig het om te praat, ons twee beraders, juffrou Nell en juffrou Van Aarde, is tot julle beskikking. En die departement het vir ons nog twee beraders gestuur.”

Toe hulle uitstap, haak Katrien by Daniëlle in. Sy gaan eers saam met haar kunsklas toe loop voor sy haar eie klas trotseer.

Daar aangekom, sit Eugene en A.J. stom op hulle plekke.

Divan se leë bank wat net deur die paadjie van hare geskei word, laat Katrien in trane uitbars. Sy laat sak haar kop op haar arms. Sy moes hom gered het. Gister moes sy hom gehelp het.

Meneer Snyman maak keel skoon. “Ons gaan sommer nou die begripstoets van gister merk.”

Stefan se hand skiet op. “Weet meneer hoe Divan dit gedoen het?”

“Ek dink nie dis gepas dat ons oor hierdie sake praat nie.”

“Asseblief, meneer,” spring Hayley in. “Almal wonder en niemand sê ons niks.”

Katrien sit regop en vee haar gesig af. As iemand iets uit ’n onderwyser kan trek, is dit Hayley.

“Klink my hy het homself gehang,” sê meneer Snyman.

Katrien se oë skiet weer vol trane.

“Het hy ’n brief gelos?” vra Francois uit die agterste bank.

“Ek weet nie.” Meneer Snyman vryf oor sy baard. “Kom ons merk nou daardie begripstoets.”

Pouse gee Daniëlle vir Katrien die helfte van haar gedroogde perskes. “Meneer het vir Albert gevra of hy en ’n paar kinders vanmiddag namens die skool ’n draai by Divan se huis sal maak, toe sê ek ons is ook in. Wat dink jy?”

“Sure. Wie gaan almal?”

“So ver is dit Albert, Neil, Sean, Alyssa, ek en jy.”

“Hoekom sal hulle saam met ons wil gaan?”

Daniëlle trek haar skouers op. “Ons kry mekaar halfvier daar.”

“Sy ma-hulle gaan dink ons is plain nuuskierig.”

“Nonsens. Ek dink sy ma-hulle sal bly wees om sy vriende te sien.”

“Daai klomp het nooit eers met hom gepraat nie!”

“Ek weet. Maar dis ook nie asof ons beste vriende met hom was nie.”

Katrien sluk swaar aan die perske in haar mond. “Ons het ten minste met mekaar gepraat.”

Stille waters

Подняться наверх