Читать книгу Stille waters - Juanita Aggenbach - Страница 5

1

Оглавление

Wat jy met jou vrye tyd doen, verklap baie van jouself, dink Hanna terwyl sy deur die mieliepap op die stoof roer. Sy sal vanoggend die nuwe kandidate daaroor uitvra as sy onderhoude met hulle voer. As jy eers dít van die kandidate weet, weet jy watter soort mense hulle is en hoe hulle by die maatskappy se kultuur sal inskakel.

Sy glimlag vir haarself toe sy die lepel neersit. Om die regte persoon in die regte pos te plaas, dís haar passie. En al moet sy dit self sê, sy is al ’n meester daarin.

Sy kry die Nespresso-masjien aan die gang voor sy die kinders gaan wakker maak. Die gang is donker. Dis nog net middel herfs, maar die oggende swig klaar voor die Kaapse winter. ’n Strepie lig spoel onder Divan se kamerdeur op die gangteëls uit en sy klop saggies voor sy ingaan.

Hy sit vooroor gevou in sy skoolklere op sy reeds opgemaakte bed, besig om sy boeke in sy skoolsak te pak.

Kamma kwaai kruis sy haar arms voor haar bors. “Wie is jy en wat het jy met my seun gedoen?”

Sy oë is blou poele toe hy opkyk. ’n Glimlag pluk aan sy mondhoeke. “Ek was vroeg wakker.”

“So wonderwerke gebeur nog?”

Die sluimerende lag vou oop oor sy gesig. “Lyk so.”

“Kan jy nou meer!” Sy strek haar hand uit om sy hare deurmekaar te krap, maar hy koes weg.

“Die pap is amper reg,” sê sy en trek die deur toe.

Nadia lê diep onder haar duvet ingekruip.

Hanna vee saggies met haar vingerpunte oor die ronde wangetjie. “Opstaantyd.”

“Nog bietjie lê.”

“Boetie is al op én aangetrek. Maar jy kan nog vyf minute lê.”

Terug in die kombuis skink Hanna haar koffie en leun daarmee teen die kombuiskas. Wat sou Divan so vroeg uit die vere hê? Dalk is dit ’n meisie. Sy hoop met haar hele hart so. Dis hoog tyd dat hy hom soos ’n tiener vol hormone gedra.

Sy haal papbakkies uit die kas en dek drie plekke op die toonbank. Dalk het hy twee naweke terug by die partytjie ’n meisie ontmoet. Sal dit nou nie wonderlik wees nie? Ná al haar aanmoedigings dat hy meer sosiaal moet verkeer, sal ’n meisie beslis help om hom uit sy kamer te lok. Genadiglik kom agteros ook in die kraal. Nes sy pa. Met Carl moes sy destyds omtrent neonligte om haar nek hang sodat hy haar kon raaksien.

Sy stap weer na Nadia se kamer en skakel die lig aan. “Opstaantyd nou.”

“Nog ’n bietjie.”

“Kom, die pap is reg. Môre is dit Vrydag en dan is dit naweek en dan kan jy laat slaap.”

’n Kreun klink op van onder die duvet.

“Toe, toe, toe, jy kan dit doen.”

Hanna onderdruk ’n sug. Die vet weet, buiten vanoggend se wonderwerk is haar kinders daagliks in ’n kompetisie oor wie die swaarste opstaan. Al word Divan sewentien en is Nadia nog net in graad een, is hulle wat slaap betref presies dieselfde. Die groot ouderdomsverskil was nie beplan nie – sy en Carl het lankal moed opgegee teen die tyd dat Nadia opgedaag het.

Hanna wag tot die lyfie regop sit voor sy kamer toe stap. Carl is darem al in die stort, sien sy. Sy moet gou haar grimering en hare doen, want agtuur moet sy by haar kliënt wees. Dan ontmoet sy die eerste van tien kandidate vir ’n keuringsonderhoud.

Ondervinding het haar geleer om hulle direk ná mekaar te sien. Van agtuur tot halftwee moet sy namens haar kliënt vasstel wie die regte werksetiek, interpersoonlike verhoudings en vryetydsbesteding het om by die pos te pas. En sy hoop regtig daar is minstens een ligstraaltjie tussen die lot. Anders moet sy die hele proses van voor af begin: adverteer, CV’s deurwerk en ’n kortlys opstel.

Haar selfoon piep. Thumeka.

Sorry Hanna. I am sick. Can’t come to work. Sorry.

Vandag van alle dae. Sy kom net Donderdae en sy het spesifiek haar afsprake so gereël dat Thumeka vandag die kos kan maak.

That is alright, laat weet sy. Hope you feel better soon. xx

Sy sit die foon op die spieëlkas neer en kyk haarself in die oë. Dit beteken sy sal moet kos maak voor vanaand se oueraand. Dít nadat sy die kinders by die skool gaan haal het, middagkos gegee het en vir Nadia by die ballet besorg het. Sy sal eenvoudig moet terugkom huis toe, die kos aan die gang kry en dan vir Nadia gaan oplaai.

’n Beweging by die badkamer laat haar opkyk.

Carl steek sy kop om die deur. “Kan jy vandag vir my skeermeslemmetjies koop?”

“Dit hang af. Kan jy vir my ’n ekstra uur in hierdie dag reël?”

“Ek sal kyk wat ek kan doen.” Sy kop verdwyn weer.

Sy staan van die spieëlkas af op. “Die pap is reg.”

“Ek’s nou daar.”

Die twee kinders sit soos Jan en die boontjierank by die toonbank in die kombuis. Divan, met ’n kies vol pap, hou sy selfoon op ooghoogte, terwyl Nadia haar nek rek om te sien wat op die skerm aangaan.

“Nadia, eet jou pap voor dit koud raak,” probeer Hanna die vrede bewaar voor ’n oorlog uitbreek.

“Hoekom mag ek nooit sien wat op Boetie se foon is nie?”

“Want die dinge hierop is evil.” Hy boots ’n diep, onheilspellende lag na en kielie sy sussie in haar sy.

Nadia lag en wriemel haar los.

Hanna hou hulle onderlangs dop. As Divan nie verlief is nie, is haar naam nie Hanna nie.

“Julle moet meer eet en minder praat.” Sy maak die vrieskas oop en haal skaaptjops en ’n pak gekerfde pampoen uit.

“Laat ek ook hoor waaroor julle so lag?” Carl neem sy bakkie wat langs Divan s’n wag en skep vir hom pap uit die kastrol.

“Boetie sê sy selfoon is evil.”

Carl vee oor Nadia se ligrooi bossiekop. “Ek dink alle selfone is direk van die hel af.”

Waar hy langs Divan sit, kan mens duidelik sien hulle is pa en seun, dink Hanna. Dieselfde lengte, dieselfde skakering witmuisblonde hare, dieselfde blou oë.

“Jy moet daardie skoene van jou politoer, Divan,” vermaan Carl. “Hulle lyk gehawend.”

“Ja, Pa.”

Hanna vervies haar dadelik. Op die eerste dag van hulle wittebrood kon sy Carl net oopmond aanstaar toe sy sien hoe hy sy hemde almal in dieselfde rigting hang, kompleet met al die hangers se koppe weggedraai.

Sy het haar eie klere in die kasrakke ingestoot en arms in die sye voor sy kas gaan staan. “Jy’s seker nie ernstig nie?”

Hy het haar nader getrek en in sy arms toegevou. “Ek hou van my kas georden.”

“As jy ’n Sleeping with the Enemy op my trek, los ek jou nou.”

“Ek’s mal oor jou nes jy is,” het hy gesê en haar in haar nek gesoen.

“Selfs met my deurmekaar kaste?”

“Met jou deurmekaar alles.”

In die negentien jaar sedertdien het sy uit liefde vir hom nog altyd die huis bolangs netjies gehou, genoeg om haar eie selfrespek te behou. En hy het haar laat begaan om met haar deurmekaar kaste te sukkel, terwyl hy een kas in die studeerkamer en al die kaste in die garage vir homself toegeëien het sodat hy sy kompulsie vir netheid met militêre presisie kan uitleef. Tog loop die kinders soms deur onder sy perfeksionisme, en dit irriteer haar grensloos.

Sy neem die bakkie dadelik voor Divan weg toe hy klaar geëet het, voor Carl met nog iets foutvind.

“Gaan borsel gou julle tande. Ons moet ry.”

Stille waters

Подняться наверх