Читать книгу Stille waters - Juanita Aggenbach - Страница 22
13
ОглавлениеVroeg Sondagoggend is Hanna wakker.
Sy moet Divan se foto’s uitsorteer. Dit sal mooi wees as hulle ’n skyfievertoning tydens die begrafnis kan hou. En Carl het gesê sy moet ’n kort iets oor hom skryf wat hulle môre vir die begrafnisondernemer kan gee.
Sy haal die boks uit waarin sy al Divan se foto’s bêre. Gaan sit in die spaarkamer op die mat en lig die deksel af. Die boonste foto is geneem die dag toe sy eerste ondertand getrek is. Wyd glimlag hy terwyl hy die tand aan ’n garedraad laat afhang. Hulle het daardie dag vir hom gesê hy is nou ’n groot seun.
Sy sit die foto regs van haar neer.
Op die volgende foto is hy nog ’n baba, vas aan die slaap. Die beeld neem haar dadelik terug na die dag van sy geboorte. Sy was nog besig om een van die personeel oor die kole te haal toe die pyn kom. Skerp en só skielik dat sy haar sin stomp afgebyt het.
Sy het haar asem ingetrek, gewag. Niks.
“Besef jy dat jou kontrak sê jy is slegs geregtig op ses-en-dertig dae siekverlof vir elke drie jaar? Jy is reeds op vier-en-dertig dae en jy werk nog net elf maande,” het sy die man verder voor stok gekry. “En jou siek dae val heeltyd op Vrydae en Maandae. Besef jy dat …” Die volgende keer was die pyn so erg dat sy dubbel gevou het. “Ek dink ek is in kraam.”
“O gats.” Die man het angstig rondgekyk. “Bloed laat my val.”
Sy was heeltemal uitasem. “Kry die sekretaresse.”
Sy het bewerig die telefoon opgetel en vir Carl gebel. “Die kind is op pad.”
“Maar dis nog nie …”
“Kom net!”
Die sekretaresse het laggend ingestap. “Piet sê jy’s besig om te kraam.” Toe verdwyn haar lag. “O hel, hy was ernstig.”
“Carl sal nou hier wees.”
Met die volgende kontraksie het Hanna begin huil. “Dis drie weke te vroeg.”
Carl het haar in die motor gehelp en soos ’n maniak hospitaal toe gejaag. “Jy moet knyp! My kind word nie in ’n kar gebore nie.”
Toe hulle vyf ure later vir Divan in haar arms sit, was sy so oorstelp deur die klein lyfie dat sy weer begin huil het. “Hoe gaan ek hom aan die lewe hou?”
“Die moederinstink skop in,” het die suster goedig geglimlag. “Jy sal sien.”
Carl het soos ’n pronkperd rondgetrippel. “Ons gaan soveel dinge saam doen. Rugby kyk, krieket speel, visvang …”
Hanna sit die foto langs die ander een neer.
Die volgende foto laat haar weemoedig glimlag. Hierdie een moet sy definitief gebruik. Kiertsregop sit Divan, so ’n jaar oud, met sy handjies bymekaar. Haar drie maande kraamverlof het heeltemal te kort gevoel, en toe Carl instem, sit sy netjies haar bedanking in en gaan nie weer terug werk toe nie.
Die oggend van hierdie foto het Divan se vingertjies die papbakkie gegryp die oomblik toe sy haar rug draai om ’n lepel uit te haal. Toe sy omdraai, was die hele wêreld vol pap. “Wat maak jy?” het sy kamtig geraas. Hy het met sy plathand in die pap geslaan en toe dit teen haar gesig spat, het hy gekraai van die lag.
Sy vee ’n traan af. Die foto het sy geneem toe hulle albei weer skoon was.
“Wat maak Mamma?” Nadia vryf die slaap uit haar oë.
“Ek sorteer die foto’s uit.”
Nadia kom sit langs haar en tel ’n babafoto op. “Is dit Divan?”
“Dit is.”
“Hy was ’n klein ou babatjie.”
“Hy was amper ’n hele kilogram ligter as jy toe hy gebore is.”
“Regtig?”
“Regtig.”
Saam kyk hulle die foto’s deur. Sy pak dit op verskillende hopies: babafoto’s, kleuterfoto’s, laerskool, hoërskool. Laasgenoemde is maar ’n skamele paar omdat die meeste foto’s sedertdien op selfone geneem word.
Sy trek Nadia tot styf teen haar. “Ons moet nou die mooistes uit elke hopie haal. Kies jy een, dan kies ek een.”
Toe sy die laaste foto op die hoop sit, raai sy dis heeltemal te veel vir die skyfievertoning. Maar sy gee nie om nie. Hulle moet dit maak werk.