Читать книгу Stille waters - Juanita Aggenbach - Страница 26

16

Оглавление

Katrien sit terneergedruk agter in die motor toe hulle by die begrafnis wegry.

Daniëlle se ma skud haar kop. “Dit was verreweg die hartseerste begrafnis wat ek nog ooit bygewoon het. Wil julle nog Wimpy toe gaan?”

“Ek het met Sean gereël,” fluister Daniëlle vir Katrien. “Hulle gaan ook soontoe.”

Katrien strip haar net daar. “Ek moet by die huis kom, tannie.”

“My ma stick ons, jy hoef nie oor geld te worry nie,” fluister Daniëlle weer.

“Dit gaan nie oor geld nie.” Sy haat dit dat Daniëlle altyd alles oor geld maak.

Daniëlle sit terug teen die sitplek en vou haar arms oor haar bors. “Fine, dan.”

Toe Katrien by die woonstel uitklim, groet sy die tannie. Sy kyk nie weer na Daniëlle nie.

“Waar wás jy?” vra Heleen toe sy by die deur instap. “Ma het gebel. Sy is woedend.”

“Ek was begrafnis toe. Waaroor is Ma kwaad?”

“Wie se begrafnis?”

“Divan Klopper s’n. Waaroor is sy kwaad?”

“Omdat jy nog nie by die huis is nie en omdat jy nie jou sel geantwoord het nie. Sy het gedreig om die polisie te bel.”

“Ja, sure.” Katrien haal die foon uit haar baadjiesak. Daar is vyf missed calls en een whatsapp wat deurkom toe haar foon die WiFi optel. Sy bel dadelik.

“Waar’s jy, Katrien?”

Haar ma ís woedend.

“By die huis. Ek was by Divan Klopper se begrafnis.”

“Hoekom sê jy my niks? Ek was rasend van bekommernis.”

“Chill, Ma, ek’s net ’n uur en ’n half laat.”

“Moenie vir my sê chill nie. Ons het ’n reëling.”

Alles is skielik te veel vir haar. “Ek is jammer,” sê sy tussen die trane deur. “Ek was consumed met die begrafnis en my foon was op silent en my data is op.”

“Dis oukei,” kalmeer haar ma dadelik. “Jy’s nou by die huis. Dis al wat saak maak. Is die deur gesluit?”

“Ja.” Sy vee haar gesig met die agterkant van haar hand af.

“Was die begrafnis baie hartseer?”

Die trane begin weer loop. “Ja.”

“Ai, my kind, ek is jammer oor jou vriend. Mamma moet nou gaan, maar ek sien julle later, oukei?”

“Oukei.” Katrien druk die foon dood en stap kamer toe. Maak die deur agter haar toe.

Die deur vlieg dadelik oop.

“Los my uit.”

Heleen staan vas. “Hoe was die begrafnis?”

“Hartseer. Loop nou.”

“Hoekom is jy so touchy?”

“Ek’s nie touchy nie.”

“Jy is touchy.”

Sy vat ’n kussing en slinger dit na haar suster. “Los my uit!”

Heleen klap die deur net betyds toe.

Sy gaan tel die kussing op. Hoekom kan niemand haar net ’n bietjie space gee om hartseer te wees nie?

Sy trek haar sweetpakbroek en ’n T-hemp aan en val met haar foon op die bed neer. Al die whatsapp statuses is depressing. Daniëlle is stil. Sy’s seker te besig om in Sean se oë te staar.

Katrien laat val die foon langs haar en staar na die dak. Sy is besig om Daniëlle te verloor.

Ná ’n lang ruk tel sy dit weer op en maak Instagram oop. Sy gaan direk na Kevin se profiel toe en bekyk die foto. Hy is selfs mooier as Sean.

Sy druk die follow-knoppie.

Hi, wie is jy? DM sy hom terwyl haar hart vinniger klop.

Sy wag.

’n Halfuur later het hy nog steeds nie gereageer nie.

Stille waters

Подняться наверх