Читать книгу Stille waters - Juanita Aggenbach - Страница 23

14

Оглавление

“Het jy al iets van Kevin gehoor?” Katrien leun oor na die spieël en smeer Labello aan.

Daniëlle trek ’n gesig. “Jy klink soos ’n song op repeat. Hy’s obviously nie lus om met my te praat nie. Die dude is sosiaal gestrem, dis hoekom hy geen followers het nie.”

Katrien lag. Dis great dat iemand vir die eerste keer ooit meer in haar belangstel as in haar vriendin. “Dink jy ek moet hom DM?”

“Ja, doen dit. En dan sê jy sommer vir hom dis damn ongeskik om nie terug te DM nie.”

Die klok lui en hulle drentel vierkant toe sonder dat sy daarop antwoord. Sy kan tog nie help dat Daniëlle jaloers is nie.

“Môre, leerders.” Die graadhoof rem aan sy kraag. “Divan Klopper se roudiens vind Woensdagmiddag in skooltyd plaas. Omdat julle in sy graad was, gee ons aan julle almal die vergunning om die roudiens by te woon. Julle sal verskoon word vir die laaste twee periodes van die dag.”

Katrien kyk na Daniëlle en onderskep ’n blik tussen haar en Sean. Die lug tril soos hulle vibe. Seriously?

Hulle het skaars verdaag of Sean is langs Daniëlle.

“Hi,” groet hy.

“Hi,” eggo Daniëlle.

“Wil jy saam met my roudiens toe gaan?”

“Sure.”

“Kom,” sê Katrien en begin aanstap. Sy beter iets doen voor sy opgooi.

Haar vriendin drafstap agter haar aan. “Wat is fout?”

“Dis ’n roudiens, Daniëlle. Nie ’n bleddie date nie.”

“Ek weet.”

“Ek dog jy gaan saam met mý roudiens toe.” Sy weet sy klink freakishly kinderagtig, maar sy kan dit nie help nie.

“Natuurlik gaan ons saam. Ek gaan nie sonder jou nie.”

Nou voel sy stupid. “Ek het gedink jy’t van my vergeet.”

Daniëlle gee haar ’n drukkie. “Nooit, jy’s dan my bestie.”

Dit laat haar nog meer soos ’n loser voel. “Dink jy hy gaan daar wees?”

“Hy’t mos gesê hy gaan.”

“Nie Sean nie, Divan … in ’n oop kis.”

Daniëlle huiwer. “Ek weet nie.”

“Ek weet nie of ek hom só wil sien nie.”

“Ek ook nie.”

Stille waters

Подняться наверх