Читать книгу Stille waters - Juanita Aggenbach - Страница 25

15

Оглавление

Hanna trek die gordyne oop. Dis ’n helder sonskyndag. Windstil, perfek. Nes daardie Oktoberoggend van Divan se sesde verjaardag.

Sy en Carl het verskil oor sy geskenk. Volgens haar was dit tyd dat hy ’n grootseunfiets kry, terwyl Carl gevoel het hy moet ’n rugbybal of krieketstel hê wanneer hy in Januarie skool toe gaan. Maar sy het voet by stuk gehou: ’n fiets sal dit wees.

“Moet nooit met ’n vrou probeer stry nie,” het Carl vir die kassier gesê toe hulle ’n week vroeër die fiets gaan koop. “Jy sal altyd tweede kom.”

Twee dae later het hy met ’n rugbybal by die huis aangekom. “Ek kon dit nie weerstaan nie,” het hy verleë gesê.

Toe hy die aand voor Divan se verjaardag met die krieketstel by die huis aankom, het sy haar arms voor haar bors gevou. “Jy’s seker nie ernstig nie?”

“Dit was op special. Toe reken ek, ons gaan in elk geval vir hom ’n krieketstel moet koop, so hoekom nie nou nie?”

Toe hulle die oggend vir Divan wakker sing, kon hy sy oë nie van die fiets afhou nie. “Kan ek gaan ry?” het hy dadelik gevra.

Die krieketstel en rugbybal het op die bed agtergebly.

“Toemaar,” het sy vir Carl getroos. “Hy sal wel op ’n stadium daarby uitkom.”

Nou moet sy Divan op hierdie stralende dag begrawe. In ’n broek en hemp wat sy gister uit sy kas gehaal en weer gestryk het. Nie omdat dit nodig was nie, omdat sy so graag iets vir hom wou doen.

Die afgelope dae het in ’n waas verbygegaan. Vriende wat in en uit die huis stroom met kos en bemoedigende woorde. Haar suster wat laat weet hulle kan eers vanoggend van Langebaan af deurkom en hulle bring haar pa saam. Haar pa wie se hart klaar so swak is. Genadiglik het kanker gesorg dat haar ma nie hierdie hartseer dag hoef te beleef nie.

Gistermiddag het haar skoonouers uit Swellendam aangekom, saam met Carl se broer en sy vrou. Die ou mense was ontroosbaar. Almal het geweet Divan was hulle gunsteling. Nie net omdat hy so oulik was nie, maar ook as oudste kleinkind en die enigste draer van die Klopper-familienaam.

Sy sluk ’n kalmeerpil en gee vir Carl ook een aan.

In die sitkamer wag Nadia in haar nuwe wit rokkie. Sy is al heeloggend stil. Selfs in die motor op pad kerk toe sê sy niks.

Hanna sluk swaar toe sy sien die lykswa staan reeds voor die kerk. Die begrafnisondernemer kom hulle met uitgestrekte hande tegemoet. “Stap asseblief saam met my.”

Hy lei hulle na die portaal. “Ons het blomme voor by die kansel, met twee kerse en ’n foto. U het mos gesê ons bring nie die kis in nie, nè?”

Carl knik.

“Die blaadjies sal ons hier by die deur uitdeel. Neem solank vir julle elkeen een.”

Hanna staar na Divan se beeld, maar dis die inhoud van die lang swart voertuig wat by haar spook. Bly by my, Heer, volg haar oë die woorde op die begrafnisblaadjie. Sy bid dit, want alleen gaan sy dit nie deur hierdie diens maak nie.

“Julle stap laaste in, wanneer almal reeds sit,” sê die begrafnisondernemer. “Die voorste bank is vir julle gereserveer. Ek is nou weer terug.”

Carl groet die mense soos hulle by die kerk instap. Nadia staan styf teen Hanna aangedruk. Haar skoonma bly met die sakdoekie voor haar oë. Haar pa met sy seningrige lyf lyk vir haar ’n honderd jaar ouer.

Sy knik vir die skoolkinders in hulle uniforms. Sy is dankbaar vir elkeen wat die moeite gedoen het om te kom. Dat hulle omgee en dat hulle Divan belangrik genoeg ag. Sy wens hy kon dit sien. Albert loop weer saam met die blondekopmeisiekind – die een van wie Divan blykbaar gehou het.

Toe die stroom mense eindelik verby is, kom sê die begrafnisondernemer hulle kan maar instap. Dis tyd.

Carl neem haar hand. Die angs skop in haar keel vas en strek hom uit tot in haar bene. Nee, wil sy sê, nie nou al nie.

Carl lei haar in die paadjie af, Nadia aan sy ander kant. Sy wil gil, weghardloop, vir almal sê hulle is mal, haar kind is nie dood nie, dis ’n misverstand. Maar op die harde houtbank dring die orrelspel tot haar deur, en Divan se foto langs die ruiker op die tafel bevestig opnuut die realiteit waarin sy haar nou bevind.

Pyn vou soos ’n nat kombers om haar toe.

“Ek groet julle in die naam van die Here,” begin die dominee praat.

Sy vee haar trane af met een van Carl se sakdoeke. Die dominee se woorde spoel oor haar. In sy oë sien sy opregte simpatie, en sy onsekerheid oor hoe om hierdie taak reg te benader.

Die musiek begin speel. “Nader, my God, by U”. Sy maak haar oë toe. Sy voel so leeg. So alleen, so ver van die God van wie hulle sing. Waar is Hy? Waar was Hy toe Divan nie meer wou lewe nie?

Die seer verteer die lied en elke woord wat volg.

Toe die skyfievertoning met die eerste babafoto’s begin, kan sy dit net wasig deur haar trane sien. Tot by die laaste foto wat sy van Divan het. Haar kind. Haar mooie, mooie kind. Weg.

“Divan se gesin het elkeen iets geskryf,” dring die dominee se stem tot haar deur. “Ek gaan dit nou vir julle voorlees.”

Haar hart wil nie meer nie, elke asemteug is pynlik.

“Liewe Boetie. Jy het altyd vir my op jou nek gedra. Dan was ek die langste in die huis. Nou is ek die kortste. Nou is jy die hoogste daar bo in die hemel. Ek wens jy was eerder hier. Nadia.” Die dominee hou ’n kleurvolle vetkrytskets op van ’n seun in ’n kortbroek en ’n dogtertjie op sy skouers. “Hier is ’n prentjie ook by.”

Hanna se hand reik na Nadia waar sy op Carl se skoot klim.

“Aan Divan, my seun. Jy het te kort geleef. Ek is jammer waar ek jou gefaal het. Hoop jy rus sag. Ek gaan jou verskriklik mis. Jou pa.”

Carl se arm gly om haar skouers en sy leun teen sy bors. Divan se woorde eggo deur haar: Ek weet almal sal oukei wees sonder my. Hoekom het hulle hom nie meer gewys hoe lief hulle hom het nie? Hoekom wag tot nou wat hy dit nie kan hoor nie?

“My liefste, liefste Divan. Mamma weet nie eintlik wat om te skryf nie, want ek het nooit gedink ek sal so ’n brief moet skryf nie. My hart is stukkend oor jou. Ek wens ek kan jou net nog een keer vashou en vir jou sê ek is lief vir jou. Ek kan my die lewe sonder jou nie indink nie.”

Op hierdie punt het haar hand lank net stil op die papier gerus. Sy kon nie skryf wat in haar gedagtes was nie: As jy tog maar net na my toe wou kom en met my wou praat, ek sou mos verstaan het.

“Ek is lief vir jou, my kind. Ek sal altyd wees. Liefde, jou ma.”

Sy is oneindig dankbaar toe die dominee amen sê en sy kan opstaan en uitstap.

Carl trek die Mercedes se neus eerste agter die lykswa in. Stadig ry die lang motor voor hulle uit tot by die begraafplaas.

Onder ’n koelteboom is die graf gereed, met rooi koord al om die rande en ’n groepie plastiekstoele aan die kant. Sy gaan sit saam met Nadia in die voorste ry.

“Dis ’n diep gat,” fluister Nadia.

“Dit is.”

“Hoekom kom Pappa nie?”

“Hy moet help om die kis te dra.”

Sy vestig haar oë op die ruiker bo-op die kis terwyl Carl, sy pa, broer, haar swaer en twee studenteraadseuns daarmee aangestap kom. Hulle plaas dit op die bande wat oor die graf gespan is.

Toe Carl langs haar kom sit, ruik sy sweet aan hom. Dis hoe sy swaarkry wys – ingehoue spanning laat hom altyd sweet.

Nadat die dominee ’n paar woorde gespreek het, begin die kis sak. Hanna maak haar oë toe. Asseblief, nie nou al nie. Divan hoort nie in die grond nie. Maar die kis sak al dieper, totdat dit nie meer sigbaar is nie.

Iemand hou ’n mandjie blomblare na haar uit. Sy neem ’n hand vol en volg Carl toe hy opstaan. Soos ’n verraaier voel sy toe sy haar hand oopmaak en die blomblare ondertoe tuimel. Nog voor dit die kis tref, stap sy weg. Weg van die graf af, weg van die mense af.

Sy gaan leun met haar rug teen die motor en skulp haar hande voor haar gesig.

“Mamma moenie so huil nie.” Nadia slaan haar armpies snikkend om haar lyf. “Pappa het gesê ek moet vir Mamma die kar se sleutels bring.”

Sy vee oor haar wange, trek die kind teen haar vas. “Dankie.”

Saam skuif hulle op die agtersitplek in. Sy vryf Nadia se trane met haar duim droog terwyl sy die effense wip van die neusie inneem, die lang wimpers, die ligrooi krulle wat geen poniestert kan tem nie. Sy is so pragtig.

’n Klop aan die ruit laat haar skrik. Dis haar suster.

“Ek het net kom kyk of jy oukei is.”

“Ek is. Ek sien net nie nou kans vir ’n klomp mense nie.”

“Almal beweeg nou na die lokaal vir die tee. Kan ek vir jou iets bring om te eet?”

Hanna skud haar kop. “Ek kan nie nou eet nie.”

“Hoekom gaan julle nie huis toe nie? Ons sal vir Carl bring.”

Nadia kyk op. “Ek is honger.”

Maureen hou haar hand na haar toe uit. “Nou kom jy saam met my, daar is lekker eetgoed. Dan ry jy en Pappa saam met ons terug.”

“Dankie, Maureen.”

Haar suster glimlag hartseer. “Doodreg.”

Hanna kyk hoe hulle wegstap na die gebou waar vingerhappies bedien gaan word en dink vir die eerste keer oor die woord. Doodreg. Wat kan reg wees aan die dood?

Stille waters

Подняться наверх