Читать книгу Stille waters - Juanita Aggenbach - Страница 8
3
ОглавлениеDorette Duvenhage het haar by die supermark opgewerk van pakker tot kassier tot bestuurder. Op daardie punt was een van die eerste dinge waarmee sy moes vrede maak dat sy haar dagbeplanning op ’n papier kan skryf en dit dan onmiddellik kan opfrommel en in die asblik gooi.
As kassier het sy by die werk opgedaag, haar geld vir die kasregister gekry en haar dan gemaklik gemaak agter die toonbank waar sy haar skofure sou deurbring. Alles het netjies en volgens plan verloop.
Nie vandat sy bestuurder is nie.
Die eerste dag het sy met haar lysie gaan sit, opgewonde oor die nuwe kantoor wat sy met Noxy deel. Haar medebestuurder het net gelag en haar kop geskud. “Don’t get too attached to that chair, hey.”
Twee ure later was Dorette oortuig sy gaan nooit by haar regte werk uitkom nie. Vir elke klein dingetjie word sy uit die kantoor geroep. As iemand ’n bottel mayonnaise breek, moet sy dit hanteer. As die kouevleis nie afgelewer is nie, is dit haar probleem en niemand anders s’n nie. As die melk suur is en die kliënt nog suurder, moet sy die vrede bewaar.
Daardie tyd was sy vas oortuig die persoon wat die liggie bo ’n kassier se kop ontwerp het, het ’n sadistiese streep. Nou is haar ingesteldheid heeltemal anders. Haar lys kom tweede; die kliënte, kassiere, pakkers en verskaffers kom almal eerste.
Dis al ná vier, sien Dorette toe sy vir die soveelste keer met daardie einste liggie na ’n kassier geroep word. Die rooikopvrou wat oorkant haar staan, is duidelik een van die my-tyd-is-belangriker-as-jou-tyd-kliënte wat so volop in die Kaap se noordelike voorstede is.
Dorette span haar professionele glimlag in. “Middag, mevrou. Waarmee help ek?”
“Die prys is foutief.” Die vrou met die sproeisel sproete oor haar neusbrug en wange hou die pakkie skeermeslemmetjies met ’n gemanikuurde hand uit.
Dorette neem die pakkie en knik vir Elaine wat sakke pak om die prys van die rak te gaan haal. “Ons kry net gou die prys, dan stel ons dit dadelik reg.”
Die kliënt kyk op haar horlosie. “Ek is baie haastig.”
“Ek verstaan. Dit sal net ’n minuut neem.”
Elaine, pas uit die skool, is honger om te beïndruk en gelukkig vlugvoetig. Sy kom oorhandig uitasem die prys aan Dorette. Daar is ’n verskil van tien rand. Elroy het weer nie sy werk gedoen nie.
“Jammer oor die ongerief, mevrou. U kan die skeermeslemmetjies verniet kry.”
Dorette tik haar magtigingskode op die sleutelbord in en skeur ’n stukkie papier van die kasregister af. Sy oorhandig dit saam met ’n pen aan die kliënt. “Skryf net asseblief vir my u naam en telefoonnommer neer.”
Die vrou, duidelik verdwaas oor die meevallertjie, gehoorsaam gedwee.
Hanna Klopper, sien Dorette toe sy die papiertjie neem. “Weereens jammer oor die ongerief, mevrou Klopper.”
Die vrou neem haar sak kruideniersware. “Dankie. En jammer. Ek is net baie gedruk vir tyd vandag.”
“Geen probleem nie. Geniet u dag verder.”
Dorette wag vir die kliënt om weg te stap voor sy na Elaine draai. “Dankie, jy was ’n ster.”
Toe kry sy koers rakke toe om vir Elroy te gaan vasvat.