Читать книгу Stille waters - Juanita Aggenbach - Страница 9

4

Оглавление

Hanna parkeer die Mercedes só vinnig in die huis se oprit dat haar lyf teen die veiligheidsgordel beur. Dis byna vyfuur. Sy het minder as ’n halfuur om kos te maak voor sy weer vir Nadia by die ballet moet kry.

Sy frons toe sy die swaar voordeur oopstoot. As Divan nie die oond aangeskakel het soos sy hom twintig minute gelede oor die foon gevra het nie, slag sy hom af. Muisneste ofte nie.

Sy haas haar kombuis toe. Die oond is wraggies af.

Sy draai die skakelaar na honderd-en-tagtig grade en stap na Divan se kamer. Hy is nie daar nie.

Waar is die kind tog? Later, besluit sy. Sy sal dit later uitpluis. Nou moet sy die pampoen en boontjies op die stoof kry.

Haar hande werk haastig. Water in die pot vir die boontjies, aartappels en uie. ’n Wit laag suiker oor die pampoen. Deksels op. Sy sug tevrede toe sy die bak met tjops in die warm oond instoot. So ja, nou moet dit net gaar kom.

Waar ís Divan? Sy stap deur die huis. Hoekom het hy nie vir haar gesê hy gaan ’n koers inskiet nie?

Die kamers en badkamers is almal leeg.

Sy loop motorhuis toe om te kyk of sy fiets daar is. As hy gery het, sal hy eenvoudig moet terugkom. Iemand moet die kos dophou terwyl sy vir Nadia gaan haal.

Toe sy die binnedeur oopmaak, skok ’n golf elektrisiteit deur haar.

“Nee! Divan!”

Sy slap liggaam hang aan die dakbalk, All Stars steeds aan sy voete. Op die teëls kring ’n nat kol.

Sy omarm sy bene en lig dit op. Die lyf knak vorentoe. Sy gryp na die stoel wat skeef op die vloer lê en druk dit onder sy voete in. Die bene wil nie saamwerk nie.

“Staan, Divan! Jy moet staan!”

Die lyf bly lam.

Sy hardloop uit, voordeur toe. Haar rukkende hande sukkel met die sleutel in die slot.

“Help my! Iemand, help my!” gil sy op pad voorhek toe.

’n Man verskyn uit die oorkantste huis, ’n vraende uitdrukking op sy gesig.

“Kom!” skree Hanna.

Sy storm terug motorhuis toe, die man agterna.

“Ons moet hom afkry!” roep sy oor haar skouer. “Hy kry nie asem nie!”

Die man se oë rek geskok toe hy Divan sien.

Sy gryp weer die slap bene vas. “Help my!”

Die man gee ’n tree vorentoe. “Kry ’n mes of ’n skêr, om die tou mee te sny?”

“Hou sy bene.” Sy hardloop kombuis toe, haal die skêr uit die laai en storm terug. “Hierso.”

“Nee, sny jy eerder. Ek sal hom vang.”

Sy klim op die stoel en begin saag aan die tou bokant Divan se kop. Sy sukkel; die tou is dik.

Eindelik gee dit mee.

Sy duik ondertoe, help die man om Divan neer te lê. Sy dwing sy mond oop, blaas lug in terwyl sy sy neus toedruk. Masseer die hart, onthou sy jare gelede se noodhulpklas. Sy plaas haar volle gewig op haar hande wat op sy bors rus. Een, twee, drie, pols sy en buig oor na sy gesig om asem in te blaas.

Een, twee, drie, blaas. Een, twee, drie, blaas. Een, twee, drie …

’n Hand druk aan haar skouer. “Mevrou?”

Sy kyk verward om.

“Ek dink nie ons gaan hom terugkry nie.” Die man se oë is simpatiek.

Uitasem sit sy terug. Pyn en verwarring laat haar hortend na lug snak. Dit kan nie wees nie. Nie só nie.

“Nee.” Sy buig weer oor Divan. Hy sál weer asemhaal. Hy moet net.

“Ek gaan die ambulans bel.” Die man se voetstappe verdwyn.

Haal asem, Divan, smeek sy stom terwyl sy lug in sy slap mond inforseer. Doen dit vir my. Moenie opgee nie.

“Hulle is op pad, mevrou. Ek dink regtig …”

“Nee.” Een, twee, drie, blaas.

“Ek gaan wag solank buite.”

Een, twee, drie, blaas. Een, twee, drie … Haal asem, Divan!

“Mevrou?”

Dis ’n ander stem, dring dit vaagweg tot haar deur.

“Mevrou, ek is inspekteur Lourens.”

Sy sit terug. “Waar’s die ambulans se mense?”

“Hulle is hier,” beduie hy.

Sy draai na die paramedikus. “Moenie net daar staan nie, help hom!”

Die jong man skuif langs haar in, voel aan Divan se pols. Hy skeur sy hemp oop en plaas die elektrodes van die defibrillator in posisie.

Divan se lyf ruk. Niks. Weer ’n keer. Niks.

Die paramedikus skud sy kop. “Dis te laat.”

“Probeer weer.”

“Ons is jammer, maar dis te laat.”

Angs oorrompel haar. Verlam haar. Ruk alle woorde uit haar mond.

“Kom saam met my, mevrou.”

Sagte woorde, ’n warm hand wat haar ophelp. Op wankelrige bene word sy sitkamer toe gelei.

“Hier is ’n berader met wie u kan praat. Haar naam is Magdel.”

Naarheid stu in Hanna op. “My kos. Dit brand.”

“Ek sal dit gaan uithaal,” sê die berader. “Kom sit net eers.”

Hanna sak op die bank neer en maak haar oë toe. Haar lyf begin onbeheers ruk.

Die berader skuif langs haar in. “Is daar iemand wat ek vir jou kan bel?”

Sy skrik. Nadia.

“Hoe laat is dit? Ek moes my kind by ballet gaan optel het.”

“Dis net ná ses. Kan ek iemand bel om haar te gaan haal?”

Hanna strek na haar handsak op die koffietafel. Daar is vier oproepe van die balletjuffrou af.

Haar hande ruk te veel om iets uit te rig en sy gee die foon vir die berader. “Bel asseblief haar juffrou. Daar is die nommer.”

Die berader druk die foon teen haar oor. “Wat is jou dogter se naam?”

“Nadia.”

Hanna luister in ’n dwaal hoe die reëlings getref word. Nog polisielede het opgedaag, sommige in uniform en ander in siviele drag. Hulle beweeg tussen die voordeur en die deur wat uit die ingangsportaal na die motorhuis lei.

Divan. Die gewig in haar bors laat haar vooroor knak.

Die berader se hand probeer troos oor haar blad. “’n Vrou met die naam Sandra het saam met jou dogter gewag. Ek het gevra sy moet Nadia eers na haar huis toe neem.”

Hanna kom regop. “Het jy haar gesê van … Divan?”

“Ek het net gesê hier is ’n krisis by die huis.”

“Dankie.”

“Is daar enigiemand anders wat ek moet laat weet?”

Hanna beduie na haar selfoon. “My man. Carl. Hy moes al hier gewees het.”

Die berader staan op. “Ek bel hom, terwyl ek gou vir jou tee maak.”

Hanna neem die koppie by haar toe sy terugkom, maar die eerste sluk raak dik in haar mond.

“Mevrou?” Daar is ’n versigtigheid in die berader se stem. “Wil jy my vertel wat gebeur het?”

Hanna vryf oor haar boarms om die koue af te weer. “Ek het vir Nadia ballet toe gevat. Divan was alleen by die huis. Nie langer as ’n halfuur nie. Ek het hom op pad gebel en gevra hy moet solank die oond aansit.”

“En toe jy hier kom?”

“Toe is die oond af en hy is nie in sy kamer nie. Die winkel het my teruggehou met die verkeerde prys op skeermeslemmetjies en ek moes met die kos begin voor ek sou terugry om vir Nadia te gaan haal. Toe maak ek eers kos voor ek na Divan begin soek.” Angs druk haar keel toe. “As ek hom dadelik gesoek het, kon ek hom dalk nog gekeer het.”

Inspekteur Lourens verskyn in die deur. “Mevrou, forensies is nou hier. Ons wag nog vir die polisiefotograaf om te kom. Kan u solank vir my sê waar u seun se kamer is?”

“Af in die gang, die eerste deur aan linkerkant.” Sy kyk hom agterna. Wat gaan hy daar kry?

Die berader kug liggies. “Hoe oud was jou seun, mevrou?”

Was …

“Waar is Carl?” Sy kan nie alleen hierdeur gaan nie.

“Hy’s op pad.”

Terwyl sy nog sukkel om ’n sin agtermekaar te kry, hoor sy die bekende voetstappe.

“Hanna?”

Alles wat haar tot dusver regop gehou het, tuimel inmekaar toe sy Carl sien. Sy begin snik. “Ek het hom probeer red, maar niks het gehelp nie.”

“Ek weet jy het, my lief.” Hy kniel langs haar en druk haar teen hom vas.

“Hy was in die garage,” kry sy dit uit toe die ergste snikke bedaar.

Carl vee oor sy nat gesig en kom sit langs haar. Sy skuif onder die kromming van sy arm in.

Die berader bring vir hom ’n koppie tee. “Ek is baie jammer oor julle verlies, meneer Klopper.” Sy hou ’n pilletjie na Hanna toe uit. “’n Kalmeermiddel van die paramedikus af.” Sy kyk na Carl. “Kan ek vir jou ook een bring?”

“Nee, dankie.”

Hanna sluk die pilletjie dankbaar af.

Die berader gaan sit op die stoel oorkant hulle. “Carl, nè? Ek is Magdel. Mag ek vra wanneer laas het jy vir Divan gesien?”

Hy lyk asof hy eers na woorde moet soek. “Vanoggend voor ek werk toe is.” Hy maak keel skoon. “Divan het sy pap sit en eet.”

Hanna maak haar oë toe.

“Ek het vir hom gesê hy moet sy skoene politoer.” Carl se lyf begin saggies ruk.

Hanna vee haar trane af en vat Carl se hand.

“En jy, Hanna?” vra die berader. “Wanneer het jy hom laas gesien?”

“Ek het hom ná skool huis toe gebring. Vir hom ’n toebroodjie gemaak.” Haar keel kramp toe.

“Jammer om te pla.” Inspekteur Lourens hou sy hand na Carl uit. “Sal u omgee as ons net ’n voorlopige verklaring afneem? Ons is amper klaar hier.”

Carl vryf oor sy gesig. “Kan dit nie bietjie wag nie?”

“Ons kan môre of oormôre ’n volledige verklaring by julle kry.” Die inspekteur haal ’n pen uit sy sak en slaan ’n boekie oop. “Hierdie is net sodat ons solank die saaknommer kan registreer. Was daar enigiets wat volgens julle opinie aanleiding kon gee tot julle seun se selfdood?”

Carl vou sy arm om Hanna se skouers. “Nie waarvan ek bewus was nie.”

Sy skud net haar kop toe die vraende blik na haar draai.

“En julle verhouding met hom, was dit goed?”

Carl knik. “Ons het maar ons haakplekke gehad. Niks buitengewoon sleg nie.”

“Het hy die afgelope tyd probleme by die skool gehad? Soos met vriende, of skoolwerk, dalk ’n meisie wat hom gelos het?”

“Nie waarvan ons weet nie,” antwoord Carl. “In die laerskool was hy geboelie, maar dit het in die hoërskool opgehou.”

“Het hy depressief voorgekom?”

“Nee. Hy was soms buierig, hormone is mos maar ’n probleem op hierdie ouderdom, maar hy het ons gerespekteer. Hy was oor die algemeen nie ’n rebel of ’n moeilike kind nie.”

“Was hy ooit by ’n berader vir depressie?”

“Nee, Divan was ’n gelukkige kind.”

Hanna sit vorentoe. “Hy het maklik in sy dop gekruip, maar vanoggend was hy in ’n goeie bui.”

“Wanneer was die laaste keer wat elkeen van julle met hom in kontak was?”

Carl laat rus sy elmboë op sy knieë. “Ek het hom vanoggend voor werk gesien.”

“Twintig minute voor ek huis toe gekom het,” sê Hanna. “Oor die telefoon.”

“Het hy toe iets laat blyk van sy plan?”

Sy sluk. “Nee, niks.”

Die inspekteur maak sy boekie toe. “Goed, dis eers al vir nou. Ons het in sy kamer rondgekyk, ons gaan sy selfoon saamneem vir verdere ondersoek. Het hy ’n rekenaar gehad?”

Hanna skud haar kop. Hieroor het sy altyd sterk gevoel. “Nee, Divan doen sy take op my laptop.”

“Ek sal dit tog wil saamneem, asseblief. Ek sal dit so gou moontlik aan u terugbesorg.” Die inspekteur huiwer ’n oomblik. “Ons het ’n brief in sy boonste lessenaarlaai gevind.”

Hanna se hart trek saam. “Ek wil dit sien.”

“Ek kan dit ongelukkig nie nou vir julle gee nie, dis ’n bewysstuk wat eers geprosesseer moet word. Maar ons sal vir julle ’n kopie maak. Die oorspronklike moet ons uit die aard van die saak hou.”

Twee mans stap by die oop voordeur in. “Goeienaand,” groet hulle.

Die voorste een draai na inspekteur Lourens. “Julle het laat weet dat ons die liggaam kan kom haal?”

Die inspekteur knik. “Laat ek net doodseker maak almal is klaar.”

Hanna skrik op uit haar dwaal. “Waarheen vat julle hom?”

“Na die polisielykshuis in Tygerberg, mevrou,” sê die ander man.

“Wat gaan nou met hom gebeur?” vra sy, alhoewel sy nie regtig wil weet nie.

“Hulle gaan ’n geregtelike doodsondersoek doen, vir die post mortem-verslag. Môremiddag eenuur moet julle asseblief daarheen kom om die liggaam uit te ken. Bring ook sy ID saam, dis baie belangrik.”

“Ons is klaar,” inspekteur Lourens kom staan weer langs die man. “Julle kan hom maar neem.”

Hanna probeer genoeg lug in haar longe trek om haar staande te hou. Sy stap agter Carl aan tot in die motorhuis. Sy staan versteen en kyk hoe hulle Divan in ’n wit sak toerits.

Los ’n opening, hy gaan sukkel om asem te kry! wil haar hart skree, maar haar tong is stom.

Stille waters

Подняться наверх