Читать книгу Stille waters - Juanita Aggenbach - Страница 20

11

Оглавление

Hanna kyk om haar rond waar sy en Carl by die ry ingeval het. Die polisiestasie is ’n miernes van bedrywigheid en daar is net twee beamptes agter die toonbank.

Nadia staar oopmond na al die foto’s van mense wat as vermis aangemeld is. “Waarheen is hulle dan?”

“Dis juis die probleem.” Carl vryf oor haar kop. “Niemand weet nie.”

Hanna draai eenkant toe. Hulle moes nie vir Nadia saamgebring het nie.

“Ons is op soek na inspekteur Lourens?” sê Carl toe hulle by die toonbank kom, sy hand op Nadia se skouer.

“Net ’n oomblik.” Die man in uniform verdwyn by ’n deur in.

Toe die inspekteur opdaag, is hy groter as wat Hanna hom onthou.

“Ek is bly julle kon kom. Stap saam met my.” Hy lei hulle na ’n vertrek met ’n lessenaar vol opgestapelde lêers en haal een tussen die ander uit. “Die nadoodse ondersoek is afgehandel, maar ons is nog besig om deur die selfoon te gaan. Ek reken julle sal dit so oor ’n week terugkry.”

“Kon julle enige inligting op sy selfoon kry?” Carl tel Nadia op sy skoot.

Die inspekteur knik. “Daar is ’n paar mense wat ons sal vra om ook ’n verklaring te kom aflê.”

Hanna se kop ruk op. “Soos wie?”

“Het jou seun ’n meisie gehad?”

“Nie waarvan ek weet nie.”

Haar gedagtes flits na ’n aand toe Divan so einde van graad nege was. Toe hy in die studeerkamer se deur verskyn, het dit haar nog gevang dat sy skielik moes opkyk na hom. Die kind wat sy later geglo het klein sou bly, het omtrent oornag ’n halwe kop langer as sy geword.

“Ek mag nie laat wees vir orkes vanaand nie.” Hy het arms gevou teen die kosyn geleun.

“Jy’s nooit laat vir orkes nie.”

“Waar is my Levi T-shirt?”

“Seker in jou kas?” Sy het ongeduldig begin raak. ’n Nuwe rekenmeesterspraktyk het haar pas aangestel om hulle werwing te doen, die CV’s het ingestroom en sy wou beïndruk met vinnige resultate.

“Ek kry dit nie, Ma.”

“Trek ’n ander een aan.”

“Ek wil daardie een aantrek.”

Sy was op die punt om haar te vererg toe die lig vir haar aangaan. “Is daar iemand wat jy met jou Levi-hemp wil beïndruk?”

Hy het hom weggestoot van die kosyn af. “Toemaar, los dit.”

Die idee dat hy dalk vir die eerste keer ’n meisie se oog wil vang, was veels te lekker om dit te los. “Nee, ek kom help soek. Wat is haar naam?”

“Sy het nie ’n naam nie, want daar is niemand nie.”

Sy het die T-hemp onder ’n hopie kortbroeke in sy kas gekry.

Op pad deur toe het sy omgedraai. “Spuit van Pa se deodorant aan. Dit ruik baie lekker.”

Sy het nooit uitgevind wat die meisie se naam was nie. Hy het nooit weer iets daaroor gesê nie.

“Hanna?” bring Carl se stem haar terug na die werklikheid.

“Daar is moontlik ’n meisie in wie hy belanggestel het,” sê inspekteur Lourens. “Haar naam is Alyssa. Dan is daar ook ’n Albert wat genoem word.”

Die blonde meisie, onthou Hanna. Die een aan Albert se sy.

Carl maak keel skoon. “Hulle was gister by ons huis.”

“Het hulle iets vir julle gesê?”

“Nee, niks. Die meisie het baie gehuil.” Sy brand nou om haar hande op Divan se selfoon te kry.

“Ons sal wel met hulle gesels,” sê die inspekteur. “In hierdie stadium probeer ons al die legkaartstukkies bymekaarsit.”

Sy leun vorentoe. “En die brief? Wat sê dit?”

Inspekteur Lourens strek vir ’n skryfblok. “Ek het ’n kopie daarvan gemaak. Ek wil net eers vra dat julle julle verklarings aflê voor ek dit oorhandig.”

“Praat jy maar eerste, Carl.” Sy staan op en hou haar hand na Nadia uit. Daar is geen manier wat sy gaan toelaat dat enige kind hierna sit en luister nie.

Toe hy klaar is, kom roep Carl haar waar sy buite op die bankie sit en wag. Sy los Nadia by hom en stap binnetoe met ’n hart wat wild klop.

Met moeite herleef sy die toneel waarop sy afgekom het. Nie een van haar woorde voel asof dit enigsins bydra tot wat sy reeds vir die inspekteur gesê het nie.

“Dankie, mevrou. Ek besef dit was vir jou moeilik.” Hy sit sy pen neer en hou ’n toegevoude papier na haar uit. “Die brief.”

Angstig begin sy lees.

Hallo Ma en Pa

Haar hande ruk te veel. Sy sit die papier plat op die lessenaar neer.

Ek is lief vir julle, en ek weet julle is lief vir my.

Sy sluk swaar aan die pyn in haar keel.

Ek kan net nie meer so aangaan nie. Ek weet almal sal oukei wees sonder my. Liefde, Divan

Hanna knyp haar oë toe om haarself te laat bedaar.

Dan kyk sy na die inspekteur. “Is ons klaar hier?”

Hy knik simpatiek. “Jou rekenaar is gereed. Neem net hierdie brief na die klerk by ontvangs om dit af te haal.”

Met die laptop onder haar arm loop sy met onvaste treë tot by Carl en Nadia. “Kom ons ry.”

“Het jy alles?” Die brief, sien sy in sy oë.

“Ja.” Haar stem is hees.

Ek kan nie meer so aangaan nie, eggo die woorde in die verstikkende stilte in die kar. Almal sal oukei wees sonder my.

Dis alles haar skuld.

As sy meer oplettend was, sou sy gesien het hy kry swaar. Sy moes nooit begin werk het nie. Sy was selfsugtig. Sy moes hom so lank as moontlik by die huis gehou het, hom self grootgemaak het. Maar toe hy vier word, reken sy mos dit sal goed wees as hy meer sosiaal kan wees. Sy het hom kleuterskool toe gestuur om sy selfvertroue te bou, want hy was tog so skaam en aan haar rokspante vas.

Sy vee oor haar gesig, asem rukkerig in. Was dit nie bloot haar eie selfsugtige begeerte wat haar gedryf het nie? Om weer tussen grootmense te wees en op ’n volwasse vlak te funksioneer? Sy is nie die huisvrou-soort nie, dit erken sy ruiterlik. En in plaas daarvan om aandag aan haar seun te gee, wou sy haar werwingsagentskap op die been bring.

Is dit wat Divan nog heeltyd gevoel het, vandat hy klein was? Is dit die sein wat hy as vierjarige opgetel het: dat hulle oukei sal wees sonder hom?

En later in die skool, toe hy nie meer hokkie wou speel nie en sy hom gedwing het, omdat sy wou hê hy moes deel wees van ’n span? Het hy dit ook gesien as haar manier om hom eerder onder haar voete uit te kry?

Stille waters

Подняться наверх