Читать книгу Flenters - Paulina Carolina du Plessis - Страница 10

Om werklik te gee

Оглавление

Die laaste dag van die konferensie besluit ek om koekies te koop vir die sowat veertig kinders wat ook die konferensie bygewoon het. Toe ek die koekies begin uitdeel, is daar skielik baie meer kinders. Ek weet nie waar hulle vandaan gekom het nie. Toe besef ek daar is hopeloos te min koekies en dat dit baie sleg gaan wees as van die kinders met leë handjies moet omdraai. Ek bid en smeek die Here om ter wille van die kindertjies asseblief die koekies te vermeerder. Ek kyk na die koekies, maar dit word nie sigbaar meer nie. Jesus, sê-bid ek benoud, hoe het dit gewerk toe U die vissies en brode vermeerder het? Het dit sigbaar meer geword?

Ek hou aan uitdeel. Ek kyk weer na die sakkie koekies wat ál minder word, en die kinders wat ál meer word, en ek bid aanhoudend. Maar toe ek die laaste koekie uit die sakkie haal en dit in ’n klein handjie sit, kyk ek op … Dit was die laaste koekie en die laaste handjie! Jesus het ’n wonderwerk gedoen vir sy kindertjies.

Op pad terug vra ek Jesus wat gebeur het met die koekies en die storie van die weduwee se oliekruik kom duidelik by my op. Die olie het nie opgeraak nie, die koekies ook nie, die vis en die brood ook nie, want God voorsien.

Toe ons later daardie dag afsluit, vra die pastoor die konferensiegangers om ’n offering vir my te bring om vir die Here dankie te sê vir dit wat hulle tydens die konferensie ontvang het. Ek moet voor gaan staan en terwyl hulle die Here loof en prys, kom die mense een-een vorentoe en sit iets by my voete neer. Dit was so aangrypend! Die trane het vryelik oor my wange geloop, want ek het geweet hoe ontsettend arm hulle is. “Dit is nie nodig nie,” probeer ek hom oortuig, maar nee.

’n Bejaarde vroutjie het ’n paar verslete geldstukkies neergesit (soos in die Bybelverhaal), ’n ander ’n baie vuil, opgefrommelde kwacha-noot, ’n ou waslappie, ’n pen. Ek maak my oë toe en huil. Toe ek weer tussen die trane deur afkyk, sien ek iemand het ’n polshorlosie neergesit. Dit was vir my te veel, ek het dadelik vir die Here gesê ek kan dit nie neem nie. Dis iemand se horlosie en die mense is so arm! Ek wou dit teruggee, maar ek hoor klinkhelder: “Jy moet dit vat, want die persoon wat dit neergesit het, was gehoorsaam. Sy het haar alles gegee.”

Ek het daardie dag geleer wat gee werklik beteken. Dis nie om iets weg te gee waarvan jy ontslae wil raak, of waarvan jy nog ’n paar in die kas het nie; dis om jou laaste bietjie te gee, ál wat jy het te gee, jou enigste te gee, jou beste, jou alles.

Ek is betrokke by verskeie projekte en werk baie met donateurs. Dis vir my opvallend hoe mense graag hul tweedehandse goed weggee; dit wat opgebruik, uitgedien en soms onherstelbaar stukkend is. Wanneer ons geld ontvang, dring die donateur daarop aan om ’n sertifikaat te ontvang sodat die donasie vir hulle ’n belastingvoordeel kan gee.

Wat het geword van onvoorwaardelik gee, jou beste en nie jou opgebruikte T-hemp nie? Ek is self skuldig hieraan. Aan die begin van ’n nuwe seisoen gee ek graag my “ou” klere weg omdat ek kan bekostig om nuwes te koop. Die blote feit dat ek kan bekostig om nuwes te koop, sê al klaar hoe geseënd en “ryk” ek is. Per slot van sake seën die Here ons om ’n seën te wees, nie waar nie? Hy seën my nie ómdat ek gee nie, Hy seën my sódat ek kan gee. Dalk moet ons die goed weggee wat ons koop en die oues nog ’n seisoen of twee dra totdat dit flenters is.

Toe die mense Johannes die Doper vra wat hulle moet doen om in die regte verhouding met God te wees, het hy gesê: “As julle twee stelle klere het, gee dan een vir iemand wat niks het om aan te trek nie” (Luk 3:11).

Gee ’n slag onvoorwaardelik. Jesus het sy alles gegee.

Flenters

Подняться наверх