Читать книгу Flenters - Paulina Carolina du Plessis - Страница 5

Engele baklei ook

Оглавление

Toe ons kinders was, het ons elke Desember die Kersverhaal opgevoer. Dit was groot pret en terselfdertyd ’n baie ernstige saak.

So besluit ek eendag om ’n regte Kerskonsert te hou by die Roomse skool vir bruin dogters waar ek onderwys gegee het. Dit was ’n buitelugkonsert, let wel. Die skool is op terrasse gebou en die “konsertsaal” was op die terras waar die netbalbaan is. Die onderste terras was backstage, waar die engele aangetrek het. Maria, Josef, die herders en die wyse manne (en Jesus!) het ná elke toneel agter die motors wat langs die verhoog parkeer was van kostuum verwissel. Die wardrobe het bestaan uit handdoekhooftooisels en lakens vir klere. Daar was nie ’n begroting vir die projek nie; ons moes kreatief dink!

Die “saal” was gepak. Ouers, kinders en nonne – priester inkluis – het met groot afwagting na die verhoog gekyk. Dié het bestaan uit ’n paar hooibale en ’n groot blink ster wat aan die skewe, geroeste doelpaal geskitter het.

Net voor die konsert begin, hardloop ek af om te kyk of die sowat vyftig engele gereed is om hul verskyning te maak. Tot my skok en verbasing was ’n klompie van die engele in ’n hewige geveg betrokke. Met woorde wat ek nie kan herhaal nie, het hulle mekaar geskel dat die spoeg spat. Hulle het mekaar letterlik aan die hare beetgehad.

Die rede vir die geveg? Van die kinders het vir een van die engele, ’n meisie met ’n baie ligte gelaatskleur, gesê sy is ’n boer. Onthou, dit was 1986. Die arme kind se tinsel-stralekransie het skuins oor haar gesig gehang en haar engelgewaad was byna aan flarde geskeur soos sy terugbaklei het. “Liewe genade! Wat gaan met julle aan? Dis ’n Kerskonsert ter herdenking van Jesus se koms en als,” probeer ek by die politiek verby die vrede herstel. Die konsert moes begin.

Hulle het so gegil, ek dink nie hulle het my gehoor nie. Ek het dit sterk oorweeg om die aartsengel Migael in te roep om te kom help, maar net Gabriël was daar … Dit gaan mos oor Jesus se geboorte.

’n Rukkie later stap die vegtende groepie engele, nog redelik dikbek, met hul brandende kerse deur die gehoor na die verhoog se kant toe. Party lyk darem soos engeltjies. Maar op pad na die verhoog toe kom ’n lastige wind op en waai feitlik al die kerse dood. Ag nee! Wat gaan nou nog verkeerd loop? Die hele scene van lig wat die donker uitdryf, was daarmee heen.

Gelukkig hou ’n paar van die engele kop. Toe hulle in ’n halfmaan voor die staltoneel staan, begin hulle mekaar se kerse aansteek terwyl Boney M se “Joy to the World” die someraand en ons harte vol maak. Die gehoor was doodstil; dit was aangrypend. Die Lig van die wêreld het gekom om aangegee te word en om te bly, ook vir vegtende engele wat daardie aand verby die landspolitiek vir Jesus gesien het.

Dit neem my terug na die begin. Terug na Genesis 1:2-4 waar daar staan: “Voor die skepping was alles eensaam en verlate. ’n Angswekkende donkerte het oor die bodemlose dieptes gehang. En ’n ongelooflike sterk wind het heeltyd oor die waters gewaai. God was egter daar en Hy het gesê: ‘Laat daar Lig wees. Skielik was daar oral lig.’ ”

Wees lig, al baklei jy soms jou stralekransie skeef op jou kop.

Flenters

Подняться наверх