Читать книгу Flenters - Paulina Carolina du Plessis - Страница 15
Operasie Tande
ОглавлениеEk is net elke keer opnuut verstom oor wat die Here by ons pleegsorghuis doen. Ek gesels met baie mense oor hul projekte en bedieninge en ek kan nie beskryf hoe swaar party van hulle kry nie. Dan buig ek net voor God en sê vir Hom so baie, baie dankie dat Hy ons huis so seën.
Een van die fokusareas van ons huis is om te voldoen aan die kinders se fisieke behoeftes. Dit sluit mediese sorg in. Die kinders se tande is in ’n haglike toestand. Uit die aard van hul agtergrond was nog nie een van hulle al ooit by ’n tandarts nie. Dis ’n luuksheid, never mind ’n vreesaanjaende uitstappie. Toe gebeur die wonderlikste ding: ’n Tandarts bied haar dienste gratis aan en ons neem die kinders die een ná die ander na haar toe. Sjoe, die Here is so oneindig goed vir ons!
Lizzy en Lensie (hulle was in daardie stadium albei vyf jaar oud) was ook daar. Hul tande is nog nie “getlek” nie, soos Lensie sal sê; die tandarts maak hulle net eers gewoond aan haar. Sy tel elke keer net hul tandjies en sit salfies aan. Dit is die wonderlikste vrou – ek is sommer lus om ook na haar toe te gaan. Daar is beslis engele onder ons.
Die tande waai andersins letterlik elke keer wanneer ons tandarts toe gaan. Nou die dag was die drie musketiers (dis nou die drie kleintjies) saam met my daar en so amper-amper het die hare ook gewaai. Ek het amper een van hulle daar gelos wat in die parkeerterrein besig was om ’n vloermoer (die mooi woord vir ’n tantrum) te gooi … Haai nee, dis ’n arme weeskindjie, dink ek skuldig, maar ’n vrek stout een!
Die kleintjies geniet die besoeke aan die tandarts. Dit verskaf hulle groot vreugde wanneer ek hulle neem. Ons neem twee van hulle op ’n keer.
So gebeur dit dat Nathi een middag hartlik aan die huil gaan omdat hy nie kan tandarts toe gaan nie. “Dis vandag Lensie en Lizzy se beurt,” probeer ek diplomaties verduidelik, maar nee. Hy huil verskriklik en sê so tussen die snikke deur vir my: “Antie Lina, al my tande is vlot en dit moet getlek word.” (Hy kon ook nog nie ’n “r” sê nie.) Dit gaan egter eintlik oor die saamry en die chippies ná die tyd.
Die chippies ná die tyd vir dié wat soet was, was ’n fout. Dis seker nie opvoedkundig korrek nie, soos die slim mense sal sê, maar dit werk elke keer. Behalwe dat almal skielik vreeslik tandpyn het en net eenvoudig móét tandarts toe gaan. Praat van ’n permanente verskil maak, dít wil gedoen wees. Ek het in my lewe nog nooit gehoor van kinders wat huil om tandarts toe te gaan nie.
God stel ons gerus deur te sê dat Hy elke haar op ons kop getel het (vgl Luk 12:7) en dat Hy elke behoefte van ons ken (vgl Matt 6:8). Hy is ’n God van detail.
Dankie, Here, dat selfs gesonde tande vir U belangrik is.