Читать книгу Flenters - Paulina Carolina du Plessis - Страница 16

Emmanuel

Оглавление

Saam met al die vreugde kom daar ook soms baie hartseer. Drie jaar gelede was daar ’n babaseun in ons pleegsorghuis. Sy naam was Emmanuel. Hy was die jongste van agt kinders wat wie weet waar oral by ander mense moes bly. Sy sussie, Rezaan, wat die oudste was, is ook by ons geplaas. In ’n stadium het hy baie siek geword en ons moes hospitaal toe jaag.

Later daardie nag sit ek langs sy bedjie en smeek: Vader, God, maak hom asseblief gesond. En soos Jesus bid ek ook: Nie soos ek wil nie, maar soos U wil, Vader. Sy borsie het vinnig op en af beweeg soos hy asemhaal. Hy was dodelik siek. Jesus, sit asseblief net u hand op hierdie kindjie se borsie sodat hy u naby-wees fisiek kan ervaar? vra ek. Hy is so klein en so alleen en ek weet nie waar sy mamma en pappa is nie, praat ek in trane met die Here. “Jy is mos my hande en voete,” hoor ek klokhelder. “Sit jou hand op sy borsie, dan sal hy weet Ek is hier.”

Toe ek my hand saggies op hom sit, gaan sy ogies effens oop, net vir ’n paar sekondes. Toe weet ek dis Jesus wat aan hom raak. Sy en Jesus se naam is mos Emmanuel, God by ons (vgl Matt 1:23).

Hoeveel keer het ek nie al in die kerk gesing dat ek Jesus se hande en voete wil wees nie? Ek het nooit kon dink dat daardie woorde op so ’n manier ’n werklikheid sou word nie. “[J]ulle [moet]. Dit is maar ’n ander manier om te sê julle moet mense wees wat die Here elke oomblik van julle lewe dien. So kan God sy hande deur julle na ander uitsteek en kan ander sy hand deur julle voel” (1 Pet 2:5).

Dit was vir my verskriklik erg dat ons nie sy ouers kon laat weet dat hul kindjie baie siek is nie. Hulle is swerwers en hy is iewers op ’n stoep in ’n naamlose straat gebore. Hulle weet nie eens van hom hier in die wit hospitaalbedjie nie. Ek vryf oor sy krulkoppie. Vir daardie paar oomblikke is ek sy mamma. Hy is die mooiste klein mensie; hy lag altyd wanneer ’n mens net na hom kyk. Die dierbaarste klein babatjie, maar daardie aand was hy stil.

Teen middernag gaan ek huis toe om te rus. Ek was skaars by die huis toe die foon lui en die suster sê die klein babatjie wat ons gebring het, het gesterf. Ek ry in die pikdonker terug hospitaal toe. Toe ek langs hom staan, het ek nie woorde nie. Jesus, kyk asseblief mooi na hom, is al wat ek kan sê.

Ek verstaan nie. Al wat ek weet, is dat God God is omdat Hy God is en dat Hy gevra het dat hulle sy enigste Seun Emmanuel moes noem, God by ons, God met ons, God in ons, om ons, vir altyd en altyd en altyd …

Dankie, Jesus, dat U by ons is.

Flenters

Подняться наверх