Читать книгу Flenters - Paulina Carolina du Plessis - Страница 19

Waar is daai Jesus?

Оглавление

Ons blyplek was so vyfhonderd meter van die see af. So stap ons eendag terug huis toe ná ’n oggend op die strand toe Nathi twee klein veldblommetjies raaksien wat in ’n kraak tussen die teer en die sement van die sypaadjie deur groei. Hy buk af om dit summier te pluk en vir my te gee. “Nee,” sê ek, “moet dit nie pluk nie. Die spatseltjie pienk lyk so mooi teen die hardheid van die teer en sement. Weet jy wie het dit gemaak?” vra ek hom. “Nee,” sê hy. “Jesus het dit gemaak,” sê ek. Toe begin ons gesels oor Jesus. “Wat het Jesus nog gemaak?” vra die vierjarige Zoeloeseuntjie. “Die berge, die wolke, die see en vir ons,” antwoord ek. “Waar is Jesus?” vra hy met afwagting. “Hy is oral, ook in ons harte. In jou hartjie ook!” Sy ogies blink en met groot opgewondenheid druk hy met sy vingertjies op sy bors en sê-vra: “Hier?”

Ons stap verder en gesels oor Jesus wat saam met ons stap. Later die middag kom klein Lizzy (sy was toe ook vier jaar oud) na my toe en vra baie ernstig: “Antie Lina, waar is daai Jesus?” “Wat?” vra ek ’n bietjie uit die veld geslaan. “Nathi soek hom, Antie,” sê sy. Net toe kom Nathi blinkoog aangehardloop. “Lizzy, waar is jou Jesus?” vra hy haar weer. “My Jesus is hier,” sê hy baie trots en druk op sy bors met sy vingertjies. Toe kliek ek. Nathi is besig om elke kind te vra waar hul Jesus is. Hy het seker gemaak dat hy niemand oorslaan nie; letterlik almal op die kamp moes sê waar hul Jesus is.

Dit was interessant om die reaksies te sien. Die groter kinders het hom aangekyk of hy van ’n ander planeet af kom, maar die kleintjies het dadelik verstaan en kort voor lank was almal se Jesus in hul hartjies.

Toe ek die storie oorvertel, sê iemand dis gevaarlik om dit vir ’n kind te sê, want dit maak nie vir hulle sin dat Jesus, wat groot is, in hul klein lyfies – wat nog te sê klein hartjies – kan wees nie. Ja, dog ek, dis seker so, maar dis die Heilige Gees se probleem, besluit ek.

’n Paar dae later kom klein evangelis Nathi op pad see toe weer langs my stap en sê opgewonde: “Weet antie Lina wat? Daar bly net so ’n klein Jesus in Lizzy se hartjie (en hy wys met sy duim en voorvinger skaars ’n paar millimeter uitmekaar) en sóóóó ’n groot Jesus in antie Lina se hart.” (Hy staan op sy tone en wys so hoog soos sy klein armpie kan.)

Ek gryp hom en druk hom vas. Wow, dit is amazing! Hy het dit uitgefigure.

Waar is jou Jesus? Lê Hy dalk iewers in ’n stoorkamer saam met die Kersboom en stof vergader, of kan jy ook soos Nathi sê “my Jesus is h-i-e-r in my hart”?

Jesus is steeds hier. Waar is jy?

Flenters

Подняться наверх