Читать книгу Flenters - Paulina Carolina du Plessis - Страница 6
Afrika is nie vir sissies nie!
ОглавлениеEk hoor so dikwels tydens konsultasiesessies en in werksessies wat ek aanbied dat mense se droom vir hul bediening is om in Afrika (en dan sommer die hele Afrika) te werk. Ek het ook so gesê … totdat ek in Junie 2006 in die village Migowi sowat negentig kilometer van Blantyre in Malawi tydens ’n konferensie letterlik en figuurlik grond toe gebring is.
Die eerste dag nadat ek daar aangekom het, besoek ons ’n weeshuis, kleuterskool en ’n gemeente in die township Bangwe in Blantyre. Die toestand van die skooltjie en die weeshuis was haglik. Dit was baie, baie vuil, maar ek het al geleer dat kos ’n groter prioriteit as Handy Andy is. Dié middag het ons saam met ’n voorbiddergroep die Here geloof en prys op die ritme van ’n trommetjie wat van beesvel gemaak is. Wat ’n belewenis! Daardie aand eet ons ’n feesmaal bestaande uit vreemde, soutlose pap, die een of ander groen blaargroente en ’n klein bietjie vleis. Ons sit om ’n koffietafeltjie saam met pastoor Patric, sy vrou, Blessing, hul baba, Favour, en twee gemeentelede in hul baie, baie klein huisie wat propvol Jesus-liefde en vreugde is. Ek het nog nooit soveel vreugde en blydskap in mense beleef nie.
Ná ete escort (soos hulle sê) die hele groep (babas en al) ons deur die donker township na die taxi-staanplek. Ons stap al laggende en geselsende deur gate en slote in die donker Afrika-nag. Ons enigste lig is ons selfone. Ek kyk op na die sterre terwyl ons vir die taxi wag en sien die Suiderkruis. Dis God se sterre wat Hy by die naam ken (vgl Ps 147:4, 1983-vertaling). Die volgende oomblik word ons letterlik by ’n taxi ingedwing. Nou verstaan ek die spreekwoord wat sê daar is altyd plek vir nog een, want sodra ons stilhou, klim nog een in, en nog een, en nog een.
’n Rukkie later, ná ’n woeste rit, word ons letterlik in die middestad van Blantyre op die sypaadjie uitgeboender, want ’n mens klim nie uit nie, jy foeter uit. Wat ’n ervaring! Here, dankie dat ek nie elke dag in ’n taxi hoef te ry nie. Dankie vir ’n motor.
’n Uur later stap ons in ’n ander township tussen rye padstalletjies, verlig deur flikkerende kersvlamme en klein vuurtjies. Almal probeer vir oulaas iets aan die verbygangers verkoop wat op pad huis toe is. Die gesigte van kinders, vroue en mans is dofweg sigbaar in die naglig. Ek verkyk my so aan die mense dat ek kort-kort struikel op die ongelyk pad.
’n Rukkie later lê ek uitgeput in ’n sagte bed met ’n potblou muskietnet wat soos ’n tent oor my gespan is. Die dag se rook, stof, vreemde geure en vrolike stemme flits deur my gedagtes. Dis Afrika, dink ek, en Afrika is nie vir sissies nie!
Dankie, Jesus, dat U ons so bederf deur ons soms ’n bietjie terug aarde toe te bring.