Читать книгу Flenters - Paulina Carolina du Plessis - Страница 12

“Get real”

Оглавление

Ek is die afgelope klompie jare betrokke by opleiding en konsultasie wat betref die beplanning, bestuur en die evaluering van die impak van koninkrykprojekte op gemeenskappe. Dit sluit in raad en leiding oor die beplanning en implementering van projekte wat God verheerlik en ’n permanente verskil maak.

So gebeur dit dat ek ’n paar jaar gelede betrokke raak by ’n projek om my hande so ’n bietjie vuil te maak en darem te kan sê ek weet waarvan ek praat. Daardie “been there, done that, got the T-shirt”-ding! Dis baie maklik om werksessies aan te bied en ander te leer hoe om dit te doen, maar dis ’n ander storie om self ’n projek te bestuur. (Terloops, ek het al ’n paar keer nie die T-shirt gekry nie!)

In Engels sê hulle “get real”; jy weet nie waarvan jy praat nie. Omdat dit vir my belangrik is om te kan sê ek weet waarvan ek praat, raak ek toe betrokke by ’n shelter vir hawelose kinders in Pretoria. Die plek was besig om letterlik en figuurlik uitmekaar te val.

Waar begin ’n mens wanneer jy tydens die evaluering van die projek ’n lys behoeftes neerskryf wat langer as lank is? En alles staan op die eerste reël van die lys, want dit is alles die hoofprioriteit. Wat doen jy eerste, waar begin jy? Jy bid en vra God om jou wysheid, insig, kennis, leiding, krag, baie geduld en hope genade direk uit die hemel te stuur. Jy stel Hom aan as die bestuurder van die projek en jy loop agter Hom aan. Al gaan dit soms rof en stamp jy jou tone teen die harde klippe van die werklikheid, en al val jy soms jou knieë en hande nerfaf, moet jy vashou aan Hom. Loop tree vir tree agter Hom aan, want Hy ken die pad.

Daar woon ses en dertig mense (meestal kinders) in ’n drieslaapkamerhuis. Party woon in die garage en ander in ’n geroeste woonwa en flentertent. Alles is vervalle. Tydens my eerste besoek kyk ek om my rond en wonder hoekom hulle nie ten minste die mure kan was nie. Dit is baie vuil; seep en water sal die ding doen. Maar ek besef dit gaan so sleg, seep is ’n luuksheid en dus nêrens op ’n inkopielys nie. Mieliemeel staan boaan die lys. Eintlik is daar nie ’n lys nie, want daar is nie veel om te onthou wanneer inkopies gedoen word nie.

Die kindertjies loer grootoog na die vreemde vrou in die sitkamer. Ek groet vriendelik, maar daar is geen reaksie nie. Een of twee waag dit om nader te sluip en styf teenaan die pleegsorgmamma te kom staan. “Wat het julle nodig?” vra ek onbeholpe en dink terselfdertyd dis nou ’n stupid vraag. Hulle het alles nodig!

Toe ek terugry, wens ek ek was baie, baie ryk. Dan sou ek sommer by die eerste winkel gestop en voorrade gekoop het. Handy Andy is steeds boaan my lysie, want die plek moet skoon kom. Maar ek is nie baie, baie ryk nie, net beskikbaar om te wys Jesus gee regtig om.

Los jou tjekboek en gaan gee net ’n bietjie om.

Flenters

Подняться наверх