Читать книгу Flenters - Paulina Carolina du Plessis - Страница 11

Op ’n missie met God

Оглавление

Die Sondagmiddag pak ons die tog terug Blantyre toe aan met Tom se blou motor. Dit word donker en begin misreën. Dit is koud, want die wind suis letterlik deur al die gate in die motor. My hart is seer maar warm vir die mense daar in die village. Ek bid dat die Here daardie mense wat so alles gegee het, sal seën met die keur van sy seëninge. My voete vries, want daar is ’n gat in die vloer wat nie deel van die oorspronklike ontwerp van die motor was nie. Kort-kort maak Tom sy venster oop om die voorruit met ’n stuk lap by te kom, want die ruitveërs werk ook nie. Hy is beslis ’n man met ’n plan.

Die volgende twee dae het ek in die township Bangwe naby Blantyre dieselfde lesings aangebied. Die Here lê my dit toe op die hart om my briewetas en sakrekenaartjie vir ’n tienderjarige weeskind te gee wie se droom dit is om eendag sy eie onderneming te hê. Ek sal die uitdrukking op sy gesig nooit vergeet nie! Vreugde op vreugde. Ek het ’n klein bietjie ervaar van wat dit is om iets terug te gee … Ek het so baie ontvang. Ek moet net bely: Ek wou die klein rekenaartjie hou, want dis klein, plat en baie nuttig. “Gee alles,” kom dit toe helder by my op.

Op pad lughawe toe is ons stil. Die week se gebeure maal deur my kop. Hoe onmeetlik groot is God! By die lughawe gee ek al die kontant (kwacha) wat ek oorhet vir hulle om te gebruik, min wetend dat ek lughawefooie moet betaal voordat ek deur doeane gaan. MK4 700! My beursie was dolleeg.

Kredietkaart in die hand hardloop ek na die enigste kitsbank, maar dis buite werking. Ek bid: Here, help asseblief! Gelukkig is pastoor Salima-hulle nog by die uitkykpunt om vir my te waai voordat ek op die vliegtuig klim. Ons skraap sowaar uit almal se sakke en beursies die bedrag bymekaar en roep almal gelyk uit: “Praise the Lord. Thank you, Jesus!”

Aan die begin van my besoek lees ek iewers dat hul kerk se opdrag gegrond is op die volgende skrif: “Arise [from the depression and prostration in which circumstances have kept you – rise to a new life]! Shine (be radiant with the glory of the Lord), for your light has come, and the glory of the Lord has risen upon you!” (Jes 60:1, Amplified Bible).

Min het ek geweet dat ek in die volgende paar dae sou ervaar wat hierdie skrifgedeelte werklik beteken. Ek weet God is oral, maar ek het sy teenwoordigheid intens ervaar daar tussen die armste van arm mense wat blom van vreugde oor Hom. Ek het begin verstaan wat Jesus bedoel het toe Hy gesê het: “[O]ral waar Ek onder julle aan die werk is, is God aan die werk. Daar raak God se vinger grond” (Luk 11:20b).

Ons het ’n groot verantwoordelikheid om Jesus sigbaar te maak deur sy opdragte gehoorsaam uit te voer daar waar Hy reeds besig is om te werk, want Hy het vir die Vader gesê: “Ek stuur hulle met dieselfde doel en opdrag as waarmee U My gestuur het” (Joh 17:18b).

Gaan wees lig; die wêreld is donker! Dis ’n opdrag.

Flenters

Подняться наверх