Читать книгу Flenters - Paulina Carolina du Plessis - Страница 20

Sandharte en ’n houtkruis

Оглавление

Ons het op ’n kampterrein by die see gebly. Ek het my eie kamer gehad – luuks! Die kleintjies is verbied om my te pla wanneer ek in my kamer is. Tog was dit nie lank nie of hulle het ’n plan uitgedink om in te kom. Hulle wil net gou vir my sê: “Antie Lina, die son skuim, ons moet gaan swem!”

Dis nadat ek verduidelik het hoe kosbaar sonskyn by die see is en dat ’n mens kort duskant sonde doen as jy nie dan strand toe gaan nie.

’n Ander strategie was om te sê hulle wil saam met my bid. Dit kom nadat ek een oggend vir Nathi gesê het ek is besig met stiltetyd of, makliker verstaanbaar, om te bid. Ek kon nie nee sê nie, so toe bid ons … gereeld en oor alles en nog wat!

So bid ons klompie een aand. Lensie begin: “Hele (sy kan nie ’n “r” sê nie), ek wil net sê baie, baie dankie dat ons by die see kan wees. Baie, baie dankie vi my ma wat vi my kom kuiel en my uitneem, en baie, baie dankie vi antie Lina wat ons gebling het, en baie, baie dankie vi die big fish in die see en vi alles, en vi antie en … Amen.”

Toe maak almal beurte en volg Lensie se voorbeeld. Ons bid en ons bid. Lizzy kry toe ’n beurt. “Hele, dankie vi my ma, en dankie dat my pa dood is …” lispel sy baie ernstig deur die opening van haar gewisselde voortandjies.

Terwyl sy ewe ernstig voortbid, kyk ek op en sien Mamsy, haar sussie, wil uitbars van die lag. Haar oë is groot en albei hande is op haar mond. Die ander sit vir my en kyk met vraagtekens, skok en verbasing op hul gesigte. Snork-snork lag, skuus, ek bedoel bid ons toe verder. Klein Lizzy is die enigste een wie se ogies styf toe is.

Ons moet kerk hou ook, besluit ons een Sondagaand. Met twee stukke hout wat ons opgetel het, bou ons ’n kruis op die verhoog. Ons hang een van die seuns se rooi T-hemp om die dwarsbalk. Dit stel Jesus se bloed voor wat ons silwerskoon was. So praat ek met hulle oor harte wat vuil is van verkeerde goed en lyk soos hul lywe wanneer hulle in die sand gerol het. Maar Jesus was ons skoon, dis soos om onder die shower (soos hulle sê) by die see te staan wanneer ons klaar geswem het om die sand af te spoel. Toe ek klaar is, sê ek as een van hulle wil hê ek moet vir hulle bid, moet hulle vorentoe kom. Die groot kinders het een vir een gekom om Jesus se skoon-was-bloed te ervaar, party het gehuil. Dit was so amazing! Ná hulle kom die kleintjies ook ewe ernstig. Dit was regtig baie spesiaal; die Here is mal oor kinders.

Jesus, dankie dat U ons sand- en klipharte silwerskoon was.

Flenters

Подняться наверх