Читать книгу Flenters - Paulina Carolina du Plessis - Страница 17

Die pop in die krip

Оглавление

Wat sal Kersfees wees sonder ’n konsert? Ek bedoel nou die stal, die krip, die diere, die herders op die ope velde, die wyse manne, Maria, Josef en die baba Jesus in doeke toegedraai … daai konsert!

’n Paar weke voor die tyd oefen die kleiner kinders saam met Christelle vir ’n konsert op Oukersaand. Tydens die oefensessies lê hulle lusteloos en sing op die mat in die snikwarm sitkamer. Dis Desember in Suid-Afrika en beslis nie die ideale tyd vir lang gewade en handdoeke vir kopdoeke nie. So af en toe is daar ’n onderonsie tussen die akteurs wat hoogs geïrriteerd is met dié wat nie wil of liewer nie kan stilsit of -lê om hul lewe te red nie.

Toe hou ons konsert. Dis maar ’n low budget-konsert, want dis ’n pleegsorghuis. Die enigste luukse is die stringetjies tinsel wat op die engele – en sommer almal – se koppe blink. Die herders wou ook stralekransies hê, hoe dan anders?

Alles is gereed en die skare van tien sit met afwagting en sweet op die banke in die sitkamer. Buite dreig ’n donderstorm en ons waag dit nie om die konsert soos beplan buite op te voer nie.

Die skuifdeur gaan oop en twee herders stap die vertrek kordaat binne. Die volgende oomblik kom die engel om die goeie tyding te bring. Die herders wat vir die engel moet skrik, vergeet om te skrik. Ná ’n rukkie onthou een van hulle skielik en val kaplaks op sy rug op die mat. Die gehoor skrik. Die ander een, met ’n Spider-Man-kamerjas aan, vergaap hom aan die engel wat ’n pienk rokkie met feetjievlerkies aanhet. “Val, val!” skree almal. Toe hy eindelik die boodskap kry, gaan lê hy onwillig op sy rug, maar net halfpad, want hy is te nuuskierig om heeltemal plat te lê. Die twee verskrikte herders staan op en strompel uit, hul hoofbedekkings sit windskeef geskrik. “My ding het afgeval,” roep die een om hulp toe hy agterkom hy het nie meer ’n stralekransie nie.

Toe kom Maria en Josef ingestap. Die gedeelte tussen die herbergier, die geboorte in die stal, en die besoek van die herders gebeur alles tegelyk. Daar was nie wyse manne nie, want daar was te min akteurs. Maar ons hou konsert. ’n Rukkie later sit Maria ’n toegedraaide pop saggies in ’n blou pastiekkrat neer.

Ná die tyd gaan staan ek by die blou plastiekkrip. Toe ek die lapkombersie oplig, sien ek hoe verniel die pop is. Dit is vuil en opgespeel, dit het nie klere aan nie en die een oog kan nie meer oopmaak nie.

Ek dink aan die regte Jesus-baba wat nie veel meer gehad het nie. Hy was bereid om alles koninklik in die hemel te los en om ’n kripkindjie te word wat later vir ons stukkend geslaan en verniel is. “Kom buig daar in aanbidding,” draai die lied wat die kinders nou net met soveel oorgawe gesing het in my kop.

Ja, kom buig voor Jesus die Here.

Flenters

Подняться наверх