Читать книгу Flenters - Paulina Carolina du Plessis - Страница 18

Ons gaan see toe

Оглавление

Ons was so bevoorreg om die kinders in ons pleegsorghuis see toe te neem. Ons het baie slapies geslaap en l-a-n-k voor die tyd begin pak en pak en pak. Toe ons op die Pretoria-stasie vir die bus staan en wag, lyk ons soos die Israeliete van ouds wat uit Egipte trek; ons het net heelwat meer bagasie. So klim ons op die City to City-bus vir ’n agttien uur lange rit na Groot-Brakrivier naby Mosselbaai waar ons twaalf dae lank vakansie sou hou. Ons was nog nie in Johannesburg nie, toe is al die padkos opgeëet.

Gelukkig het ons deur die nag gery en het almal geslaap. Die bus het nie ’n toilet gehad nie en elke keer wanneer ons stop, moet almal wakker gemaak word om ’n draai te loop. Ek is seker van die arme kinders het dit in hul slaap gedoen.

Daar is ’n paar van die kinders wat probleme het met swak blase en dit was nogal ’n storie. In ’n stadium het een van die seuntjies uit nood sommer in ’n leë waterbottel sy draai geloop. Die bottel het in die bus agtergebly … oeps!

So tussen al die pret deur moes ons soms ook ’n bietjie dissipline handhaaf. Daar was ’n baie groot pap-spoon in die kombuis, maar nou ja, die Kinderwet sê geen fisieke straf nie … Die heel beste straf was om by die huis te bly wanneer almal afgaan strand toe. So gebeur dit toe dat ek en Maxie die gooi-reël instel. As jy papiere, plastiekbottels, handdoeke, klere of speelgoed rondgooi, het jy moeilikheid. Of as jy sand in iemand se oë gooi, is dit verby met jou. En toe, op pad huis toe ná ’n swemsessie, gooi Nathi ’n lekker vloermoer teen die sandduin. Hy weier soos ’n held om verder teen die duin uit te stap en om die een of ander Griekse rede steek daai klein Zoeloetjie viervoet vas en gooi hom met mening op die sand neer.

Ons stap verder en ignoreer hom. Ek wag anderkant die duin, maar al wat kom, is Nathi. Die klein klits, dog ek, ek sal hom leer hoe dit werk. Ek stap terug en sê vir hom: “Die gooi-reël skop nou in. Jy bly vanmiddag by die huis.”

Hy kyk so skuins op na my en besef nou is dit nag; antie Lina van alle mense het hom vasgevat. Ná ’n rukkie verskyn hy onwillig op die duin, lekker dikbek, maar hy stap. Aspris stadig, maar hy beweeg darem. Hy en Lensie (sy het sand in iemand se gesig gegooi) moes toe tuis bly. Dit was die laaste gooi.

Die vasskop- en die vloermoer-gooi-ding van kinders laat my soms dink aan hoe ek partykeer ook wil vassteek en skop en skree, veral wanneer dit ’n bietjie rof gaan en ek dink die Here verwag darem nou te veel van my. Dis of ek soms soos Jesus wil bid: “My Vader, is daar enige kans dat Ek die pad wat vir My voorlê nie hoef te loop nie? Is daar ’n uitweg? Maar Ek probeer nie allerhande planne maak nie. Maak U die planne, asseblief! Doen wat U wil” (Matt 26:39). Sjoe!

Here, dankie vir u genade en leiding wat U aanhou gee, al steek ons soms viervoet vas.

Flenters

Подняться наверх