Читать книгу Flenters - Paulina Carolina du Plessis - Страница 9

Liefde, hoop, geloof

Оглавление

Daardie middag op pad na die konferensie toe wonder ek hoe die saal gaan lyk. In my gedagtes sien ek ’n verwaarloosde saal met ou stoele en tafels, want ek het intussen geleer om baie dinge te herdefinieer. In hierdie stadium het ek nie meer illusies nie. Ons ry ’n hele ent uit die dorpie. Op pad besoek ons ’n projek van die kerk: Hulle is besig om ’n veeldoelige sentrum te bou wat ’n weeshuis, preprimêre, primêre en sekondêre skool, ’n kerkgeboutjie, ’n konferensiesaal, ’n gastehuis, ’n restaurant en ’n kliniek sal hê. Die weeshuis sal vyftig kinders huisves. Hulle het begin met die projek en vertrou op die Here vir geld om dit te voltooi. Hulle bid letterlik sinkplaat vir sinkplaat van die Here af. Die idee is dat die sentrum finansieel selfonderhoudend sal wees; daarom beplan hulle om van die geriewe aan die gemeenskap te verhuur. Ek bewonder hul geesdrif om self iets te doen.

Die volgende oomblik stop ons sommerso langs die grootpad by ’n strooidakgeboutjie waar daar groot bedrywigheid is. Nog familie en koue patats? Toe ons uit die motor klim, hoor ek hoe mense uit volle bors sing en op die ritme van tromme dans. Ons word met groot vreugde en opgewondenheid begroet. Dit is die konferensie! Die gemeentelede het langs die modderhutkerkie ’n konferensiesaal gebou van sonneblomstamme, veldgras, stokke en takke. In die dak is daar oral bossies bougainvillea-blomme as versiering opgehang en op ’n tafeltjie met ’n helderkleurige tafeldoek staan drie potjies blomme spesiaal vir ons. Ek staan met my tas en flip board-papier in my hande en verwonder my aan die prentjie voor my. Ek het nog nooit so welkom gevoel nie! Die opregtheid van die mense tref my in my hart. Ek beleef intense emosies en die tasbare teenwoordigheid van Jesus. Ek voel klein; hulle het soveel verwagtinge.

Hulle stel my aan die konferensiegangers voor as pastoor Lina van Suid-Afrika. Dis nog ’n verrassing, want ek is aanvanklik genooi om ’n spreker te wees by die konferensie. Dit het later verander na hoofspreker, maar toe ek weer sien, is ek die enigste spreker. Volgens die program preek ek sommer ook die Sondag tydens ’n doopdiens. Hulle doop groot. En om alles te kroon, het ek ’n tolk van wie ek nie geweet het nie. Ek maak vinnig somme: Dit beteken ek gaan twee keer langer neem om my lesings aan te bied en ek het net drie dae om dit te doen.

Ek plak die papier waarop ek geskryf het met Prestik tussen die gras op die dwarslatte van die stellasie vas. “Geloof”, “hoop” en “liefde” staan in groot letters op die wit papier geskryf. Hoe wonderlik is dit om te weet dat God ook hier in die veld sy liefde in strome van seën op ons kom uitgiet. Ek glo en ek hoop …

As tema gebruik ek die drie loodglasvensters van ’n kerkie in Duitsland waarop geloof, hoop en liefde binne die kerk van links na regs uitgebeeld is. Maar wanneer ’n mens van buite die kerk na die vensters kyk, staan daar “liefde”, “hoop” en “geloof”. Hoe transformeer ’n mens ’n gemeenskap? Die enigste manier is met liefde. Begin met praktiese liefde en omgee, want liefde gee hoop en hoop gaan oor in geloof.

Die “grootste hiervan is die liefde,” het Paulus mos gesê (1 Kor 13:13, 1983-vertaling). Ek begin ’n klein bietjie daarvan verstaan. Dankie, Jesus.

Flenters

Подняться наверх