Читать книгу Flenters - Paulina Carolina du Plessis - Страница 8

Ek is dors

Оглавление

Die grondpad Migowi toe kronkel deur landerye, strooidakhuisies, baie voetgangers en nog meer fietsryers wat onmoontlike bondels goed agter op hul fietse vasmaak. ’n Mens sien eers die bondel, dan die fiets en die persoon op die fiets. Die bondels is massief. Die fietse is oud en gehawend. Oral langs die pad is daar fietsherstelplekke. Dit lyk of almal nog leer fietsry, want die wiele is nie in lyn met mekaar nie en dit is byna onmoontlik om reguit te ry met ’n ongebalanseerde vrag op ’n ongelyk grondpad.

Al toetende (o ja, die toeter werk ook, want in Malawi moet ’n mens ’n toeter hê) en juigende kom ons teen middagete op die dorpie aan. Ons het die afstand van negentig kilometer in vier en ’n half uur afgelê. Behalwe dat ons teen gemiddeld vyf en twintig kilometer per uur gery het, het ons kort-kort afgedraai om gou ’n familielid te groet wat iewers in die bosse bly. Ons moes elke keer iets saameet, en al was dit net koue patats, was dit ’n fees. Om so saam te eet doen iets aan ’n mens. Dis seker hoekom Jesus so lief was daarvoor om saam met mense te eet, al was dit net brood.

Ons gaan in ’n lodge tuis. Ek herdefinieer die woord lodge. My kamer het ’n hoë sinkdak waaraan ’n kaal gloeilamp hang. Die kamer ruik soos blouseep. Dit moet van die toestaan wees, dink ek, en besluit om ’n venster oop te maak om vars lug in te laat. Toe ek die gordyn wegtrek om die venster oop te maak, sien ek dit is eintlik al klaar oop, want daar is nie ’n enkele ruit in die vensterraam nie. Ek sit die klip waarmee die gordyn vasgepak is terug op die vensterbank en begin lag. Net voordat ek weg is uit Suid-Afrika het ’n vriend my die goeie raad gegee om die lugreëling in my kamer aan te skakel terwyl ons by die konferensie is, want dan is die kamer lekker koel wanneer ons terugkom. Dit kan mos baie warm word in Afrika.

Daar is sowaar ’n en suite-badkamer. Ek sal alles gee vir ’n bad of ’n stort. Opgewonde draai ek ’n kraan oop, maar daar is nie water in die krane nie … nie vandag nie, nie môre nie en ook nie in die dae wat kom nie. Ek besef ek het net een botteltjie drinkwater by my. Ons het beplan om op die dorpie nog gebottelde water te koop, maar daar was niks. Ek moes twee keer, nee, drie keer dink voor ek ’n slukkie vat. Hoe vanselfsprekend aanvaar ek dit nie dat ek by die huis net ’n kraan kan oopdraai en kan drink soveel ek wil.

Daardie aand lê ek so vuil-vuil in die bed en sê vir die Here dankie dat ons veilig is en dat ek wens ek kon net bad. Dit is regtig my enigste begeerte. “Your every wish is my command,” hoor ek Hom sê. Die volgende oggend vroeg klop iemand aan my kamerdeur. Ek maak oop en daar staan ’n man met ’n groot glimlag. Hy vra in gebroke Engels of ek water wil hê om te bad. Asseblief! Ek dog hy gaan nou die stopkraan oopdraai, maar ’n rukkie later klop hy weer aan die deur, en daar staan hy met ’n klein halfgeroeste sinkbadjie vol troebel, warm water. Dankie, Jesus! roep ek spontaan uit. So “bad” ek toe in die piepklein sinkbadjie en loof die Here vir warm water en skoon wees.

Ek kan my net indink hoe Lewende Water moet smaak. “Almal wat dors is . . . (Jes 55:1, 1983-vertaling),” het Jesus gesê.

Flenters

Подняться наверх