Читать книгу Flenters - Paulina Carolina du Plessis - Страница 4

Voorwoord

Оглавление

Lina du Plessis is een van daardie juweelmense wie se vingerafdrukke lewenslank op jou hart bly. Sy is ’n merkwaardige dame: vol grasie, waardigheid, omgee, empatie, ontferming, blydskap … Jy noem daardie kosbare deugde, en Lina het dit. Haar lewe is ’n lewende simfonie van God se spesiale goedheid. In die jare dat ek Lina nou al ken, skitter haar liefde veral vir eenkantmense. Elke keer wanneer ek haar raakloop by ’n Bybelskool- of kuiergeleentheid volg daar ’n kuierkamer vol nuwe verhale oor die afvlerkvoëltjies oor wie sy haar ontferm. Wat ’n juweel in die koninkryk! Sy praat, leef en doen die Here se soort lewe dag ná dag.

Een van die merkwaardige dinge wat week ná week op my radar­skerm aanwesig is, is Lina se skryfkuns. Sy het ’n spesiale gawe om met ’n pen te kommunikeer; daarom is sy die afgelope paar jaar reeds ’n getroue medewerker van ekerk, ons groot webwerf/internetkerk en virtuele kuierplek vir derduisende mense wêreldwyd. Hier het Lina vir haar ’n fenomenale staanplek los geskryf. Nie net verstaan sy die moeisame roetes van skryf nie, sy begryp veral ook die roetes na mense se hart. Dis waarom sy so ’n geliefde en gewaardeerde medewerker van ekerk is.

Nadat Lina onlangs ’n belangrike stuk nagraadse studie afgehandel het (wat baie wyer as Suid-Afrika se grense erkenning gekry het), het sy haar hand aan die skryf van ’n boek gewaag. Jy het die eindproduk hier in jou hand. Dit vertel vanuit baie hoeke die aangrypende verhale van God se goedheid om by flentermense te kom kuier en vir hulle goed te wees. Hierdie boek bied nuwe insigte oor God wat jou sprake­loos gaan laat en wat jou gaan aanspoor om ons hemelse Vader op nuwe maniere te dien.

Stephan Joubert

Flenters

Подняться наверх