Читать книгу Flenters - Paulina Carolina du Plessis - Страница 7
“My petrol tank is dead”
ОглавлениеVroeg die oggend stop ’n blou stasiewa voor die deur om ons te kom oplaai vir die konferensie in ’n village iewers in die Malawi-bosse. Dit is ongeveer negentig kilometer of ’n rit van vier uur van Blantyre af. Ek is nie goed met somme nie, maar dit het vir my ’n bietjie onrealisties geklink. Ek sou egter later verstaan – baie goed verstaan.
Daar heers groot opgewondenheid in die motor; ons gaan konferensie toe! “Thank you, Jesus!” roep iemand kort-kort vrolik uit. Tom, die motorbestuurder, was gou die motor en laai ons bagasie in. (Hy het elke oggend die motor gewas; dis seker hoekom dit so geroes is.) Ek moet voor sit, want ek is belangrik, besluit hulle. So vertrek die ses van ons in Tom se blou stasiewa Migowi toe. Die motor val letterlik uitmekaar en ek bid saggies … Here?! Ons ry teen ’n slakkepas om en soms deur elke slaggat in die pad (die pad is letterlik een groot slaggat met ’n bietjie teer of grond hier en daar) en die motor skuur-skuur oor stukke rots waar daar eens op ’n tyd teer was.
Skaars twee kilometer van die huis af vrek die motor sommerso in die ry. Niemand is ontsteld nie. Die bestuurder klim rustig uit, maak die enjinkap oop, karring daar met iets en met ’n ligte stootjie deur ’n paar vriendelike verbygangers is ons weer op pad. Hy sê so ewe met ’n breë glimlag vir my: “Die motor is nog goed, die enigste probleem is dat dit nie ’n aansitter het nie.” Dit verklaar die feit dat ons elke keer teen ’n afdraand stilhou. Hy het die kuns om die motor so aan die gang te kry absoluut bemeester.
Later besef ek eintlik niks in die motor werk meer nie … net die radio waarvan die lugdraad aan die binnekant van die voorruit opkronkel, en die toeter. Ons maak beurte om ons vensters op en af te draai met ’n handvatsel wat die rondte doen.
Die stofpad kom lê laag op laag op my vel. Die groepie sing praise- en worship-liedjies en ons eet Malawi-koekies. Iewers langs die pad draai ons af en hou voor ’n winkeltjie stil om petrol in te gooi en koeldrank te koop. Coke en Fanta. Pastoor McMore loof die Here vir die persoon wat Coke uitgedink het. Dit is opvallend hoe spontaan hulle is in hul verhouding met die Here. “Wees in alles dankbaar,” het Paulus mos gesê (1 Tess 5:18, 1953-hersiening). Hulle weet hoe om te rejoice!
Ek kyk rond, maar sien nie ’n petrolpomp nie. Die bestuurder maak die enjinkap oop en gaan haal ’n kan petrol uit die kattebak. Wat nou? wonder ek. Uit nuuskierigheid klim ek uit en gaan staan langs Tom. Die volgende oomblik gooi hy die petrol oor in ’n plastiekkan wat in die hoek van die enjin staangemaak is. My hart gaan staan amper. Tom glimlag breed en sê laggend: “My petrol tank is dead.” Die motor het toe nie so iets nie!
Ons klim in en ry verder. Is daar nie ’n goeie rede waarom die petroltenk van ’n motor ver van die enjin af is nie? wonder ek in ongeloof. Sê nou net daar spat ’n vonk van die vonkproppe af na die petrolkan se kant toe … Here, bid ek, asseblief, hou net u hand oor hierdie motor. Dit sal net mooi niks help om daaroor te stres nie, besef ek, ons is al halfpad met die vyfliterplastiekkan in die enjin, en as die ergste gebeur … Wel, dan sal daar net een harde slag wees en die volgende oomblik sal die ses van ons in ’n stofwolk voor Jesus staan. Daarvan is ek seker, baie seker: Ons sal by Hom wees. Dit sal Hom dalk ’n rukkie neem om ons ná ’n ontploffing te herken weens al die stof en flenterklere, maar Hy sal weet dis ons, want Hy ken ons name.
Dankie, Jesus, U is die lewe en U ken my naam.