Читать книгу Versamelde werk: Sheila Cussons - Sheila Cussons - Страница 10

Wonde

Оглавление

My moeder is gewoond aan wonde. As verpleegster het sy gedurig met hulle kennis gemaak en geweet wat ’n mens in sulke gevalle moes doen. Snaakse medisynegeure, bruin jodium, ’n dun naald, katdermdraad, die watte soos wolkies. Ek het hulle vreesbevange waargeneem toe dit my beurt was. Want ek het geval en die hoek van ’n stoeptrap het my lip oopgeskeur. Op die gladgeskuurde sement het ’n paar helderrooi bloeddruppels bly lê, druppels uit my. Kinders is klein en sag, maar selfs die bloed van kinders is hartstogtelik. Kyk hoe blink dit, hoe rooi. Op die bleek steen hoe durwend, wat ’n stelling. Binne-in my is nog oneindig veel daarvan, maar daar woon dit nederig en gedwee. Buite op die steen is dit woedend.

Toe kom die pyn, maar my moeder werk vinnig en behendig met die naald en die hopies watte. Net ons hoor hoe ek skree en stik. Rondom die huis lê die laatmiddag. Kan die veld en die berge ook hoor? Die honde blaf.

Die oom is ’n jong, blonde opgeruimde man. Toe hy nog jonger was, het ’n koeël hom in die dy getref. En toe die pyn mettertyd van hom afskeid neem, het dit hom hierdie wonderlike wond nagelaat. En hy was trots daarop en met reg. Dit het só gelyk: ’n ronde duik in die vlees, die breë ent van ’n hoendereier sou daarin kon pas; glad en glinsterend; maar dis die kleur daarvan wat altyd in die kind se geheue sou bly: ’n diep, teer persblou, ’n duif se vlerk in sonlig, so ’n lewende, glansende kleur, en rondom die plomp, stil wit vlees.

Versamelde werk: Sheila Cussons

Подняться наверх