Читать книгу Versamelde werk: Sheila Cussons - Sheila Cussons - Страница 17

Krokus

Оглавление

Toe die vleuels en golwe my los, voel ek my soos Ganymedes na sy lang vlug weer neergelaat, en ek bevind my op ’n brug oor ’n groot rivier. Van waar ek staan, kyk ek verheug op ontelbare dakke en ontelbare strate neer – en in die middel van die stad lê ’n tuin groter as enige wat ek nog ooit gesien het, in die silwer stilte van ’n eerste lentedag.

Deur die ontsaglike stad beweeg ek klein en ongemerk, en elke voetstap, elke verbaasde stilstand en uitroep herhaal my skugtere ontluiking uit God en die eerste trillings in my moeder se liggaam. Wat gedurende my bewuste lewe kortgekom het – die sintuiglike bevestiging van ’n jarelange vermoede – vind eindelik vinnig, oor­rompelend plaas.

Hier is ’n bekende boogdeur op twee wit pilare gestut: dit lei na ’n kerkportaal. ’n Geringe besonderheid boei my aandag: ’n geome­triese ontwerp soos ’n ketting of ’n sterresnoer versier die pilare. Daar is dit weer: die hek tot ’n paleis. Voor die ingang van ’n onder­grondse spoorwegstasie herken ek die boog, en nogmaals aan die swart skelet van ’n hoë venster nog staande tussen wankelende stawe.

Teen ’n muur vasgemessel is ’n tablet met woorde daarop: vyfhonderd jaar gelede het ’n brandstapel hier, waar die muur nou is, gestaan. Maar die saamgedronge verkeer van ’n menigte strate demp die geluid van sugte en knetterende vuur.

Waar die stad op ’n hoogte uitloop, tussen ontluikende bome, herken ek die plek waar ’n engel die eerste maal gejuig het en toe verheug om hom rondgekyk het na sy verdeelde vermoëns, na elke glinsterende talent se skielike gestalte. Hy het hom verlos in ’n veelvoudigheid van kleur en vorm en geur, en met elke hernieude kreet het ’n golf oor sy skepping geplooi en ander vermoëns tot vreemde voorwerpe laat bloei. Toe sing hy geweldig en die mens plooi uit om hom, en in die mens die siel se herinnering aan alles wat voorafgegaan het, maar die mense se bloed was sy eerste moeder en wou nie dat hy alles onthou nie.

Deur die innige bloed hoor ek hoe hy hom roekeloos uiteensplyt, en na elke oorstelpende skepping weer snel tot homself terugstroom. Hier is die eerste krokus, suiwer soos ’n vuur. Dit sal verwelk, want materie is wording en ontbinding, dog ’n tweede blom sal kom, en eendag iets meer as blom of mens of ster. Wat moet kom, sal uitgaan in die liggaam vol verlange en herinnering nog êrens in die soete swaar las van aardse wese verborge. Sal dit vlie soos ’n voël, ruim opwaarts lewe oor wolk en ongekaarte seë? Die voëls styg op uit die krokusveld en tuimel en sing. Orals is lied, ver en tuitend naby my, asof ’n siel hoog deur die ruimtes helder vreugdevonke afgee – borrels, vlamme – en elkeen soos dit kom, ’n voël.

Tussen son en reënvlae deur ervaar ek die aanvang van ’n nuwe stemming, die keerpunt van ’n gety. ’n Geheim waaraan ek deel mag hê, want ek het die krokus gepluk. Sy tere kelk vertel my weer eens wat die stad vertel het. Hy is strewe en verwondering, hierdie blom, tot enkele vege vereenvoudig. Om die meeldrade is die syige blare ’n intieme kanoop. O, eenselwige, afgetrokke blom, ek het net een teken dat jy my herken – iets fyner as ’n woord, maar vir die sintuig hoe simpatiek: jou tenger geur.

Wanneer ons in donker nagte ontwaak, volg ons ’n hunkering deur verwarde strate om te raai wat agter die dubbelsegging van steen en glas en yster lê. Die Gotiese toring vertel en ontwyk wat dit vertel, reik op met gebaar van gebeitelde vlerk en arabesk na wat ontembaar altyd buite gestalte bly. Maar soms besoek dit ons, plotseling, en wanneer dit weer terugkeer in helder triomfantelike vlug, is die hart ’n hoogte en ’n verdriet.

Beurtelings deur geboorte en sterwe, deur vergetelheid en herinnering, soek die mens sy ontwekene; maar weet hy hoe skoon hy is, in katedraal en verwoeste stad? Teen vuur en wolk staan somber die obeliske van sy oorwinninge en die brons perde op hulle agterpote wat runnikend sy angs onthou.

Versamelde werk: Sheila Cussons

Подняться наверх