Читать книгу Versamelde werk: Sheila Cussons - Sheila Cussons - Страница 6

Оглавление

Die kind het altyd ure voor haar ouers wakker geword. Eensame, skemerige ure. Die gordyne is nog toegetrek en sy wonder of dit al dag is.

Deur die tralies van haar bed soek sy na die persoonlikhede van vader en moeder, alhoewel sy weet dat hulle nog nie teruggekeer het nie. Kinders is bang dat hulle ouers hulle eendag vir die laaste keer sal verlaat. Kinders is bang vir stil kamers waarin ouers slaap; die afwesigheid van ouers: wie sal beskerm? Slapende liggame is so weerloos. Dog hulle is streng en stil. Tussen die ouers lê die skaduwees, en om hulle gesigte is dit nog nag. Soek na hulle gesigte: dalk is hulle nog dáár – die liggame is leeg soos huise waarin niemand meer woon nie. Is hulle oë nog toe of al oop? Is hulle vreeslike oë oop, of toe? Kyk hulle oë? Net die skaduwees kyk na die kind. Die skaduwees is stom. Hulle was nooit mense nie, hulle verstaan mense nie. Hulle staar; nie vriendelik nie, nie onvriendelik nie, maar afsydig. Daar is niemand agter die oë nie. Dit is lank, lank gelede toe daar nog niemand was nie, net leegte en stilte en skemering. Dis die ouers se skuld dat dit lank gelede is. Hulle slaap doen dit. Hulle wil weggaan van die kind, weg na ’n tyd lank voor die kind.

Die lakens is wit soos die maan en in die voue is dit swart. Daar is ’n geluid asof iets oor ’n vloer vee. Dit gaan só: vee, stil, vee . . . dit is die ouers se asem. Dit is die enigste ding wat in die kamer lewendig is. Dit is besig, dit werk in die ouers: vee, stil, vee, stil, vee . . . maar hulle weet nie wat dit doen nie. Hulle is te ver.

’n Snaakse lig, soos ’n lint, is nou in die kamer. Dit lê op die vloer met een punt tussen die gordyne gevang en die ander punt op die vader se regteroog. Nou kan die kind sien dat die oog tóé is. Dit is maar net ’n oog wat slaap.

Versamelde werk: Sheila Cussons

Подняться наверх