Читать книгу Versamelde werk: Sheila Cussons - Sheila Cussons - Страница 12

Die see

Оглавление

Die moeder aan haar kinders: “Ek is so bly ons woon nou aan die kus. As ek ’n man kon gewees het, sou ek my lewe lank op die see wou vaar, soos ’n matroos, ’n swerwer. Nêrens sou ek lank wou gebly het nie. Ag, ’n mens wil altyd wees waar jy nie kan wees nie, doen wat jy nie kan doen nie. Daar is ook nie tyd vir alles nie. Ek wens ek het die tyd gehad om ure aaneen op die rotse in die wind en nattigheid te sit en droom soos julle pa. Hy is partykeer vir my die eienaardigste mens, maar moet nou nie vir hom gaan vertel nie! Ek vra hom juis gisteraand of hy dan nie moeg word van altyd een en dieselfde soort ontspanning nie. Daar sit hy wraggies byna elke uur van sy naweke met ’n visstok in die hand en die water in sy skoene. Maar ek glo nie hy kyk ooit na die see nie, net so min as wat ou Bartholomeus Dias se kruis na die see kyk. Ek hou oneindig baie van die see, maar as Pappie nie gou ophou met sy gedroom tussen water en wolke nie, gaan ek nog sorg dat ons binneland toe trek.”

Die twee kinders het ’n nuwe speletjie ontdek. Hulle het uitgevind dat ’n mens nie noodwendig onder water verdrink nie. Jy kan jou asem verbasend lank inhou, soos daardie seuns wat pêrels op die seebodem soek.

Die ideale seepoel moet diep genoeg wees vir ’n kind van tien jaar of so om heeltemal daarin te verdwyn. Ongelukkig is daar allerhande see-egels en anemone en dinge op die bodem van ’n diep poel tussen die rotse. Die naasbeste soort poel is dié waarin jy ten minste plat op jou rug op ’n sandvloer kan lê, sodat jy darem nog met oop oë deur die water kan opkyk.

Sy aan sy het hulle in die vlak poele sonder see-egels gelê en lank na die blou lug gestaar; met ’n soort sout gewig van die hele poel op hulle oë. Toe hulle weer orent kom, het al die kleur uit die landskap verdwyn, selfs die blou van die lug het vaalwit geword. Toe, stadig, kom dit alles terug.

Versamelde werk: Sheila Cussons

Подняться наверх