Читать книгу Versamelde werk: Sheila Cussons - Sheila Cussons - Страница 18

Gesprekke

Оглавление

Waar die tydelik-vermoeides gaan om die beweging en rumoer van die stad te ontwyk, bevind ek my nou weer eens in die groot park waarom die stad se breë sirkel lê. Ek neem op ’n bank plaas en vou my toebroodjies oop. Dit duur nie lank nie of iemand anders gewaar my en kom hier langs my op die bank sit. Versigtig vou hy ’n koerant, waarin sy toebroodjies lê, op sy skoot oop: wit brood met die fraiings van kropslaai tussen die snye sigbaar.

Terwyl hy eet, gesels hy, maar die kos in sy mond demp sy woorde nie. Hy praat helder en vinnig en die brood word al hoe minder. Aanvanklik vind ek dit vreemd dat hy met homself kan gesels, maar dan onthou ek dat dit lente is. Eers wanneer hy die koerant tussen sy hande opfrommel, begin ek hoor wat hy sê. Nou leun hy agteroor teen die bank en staar met ronde oë na ontelbare dakke en skoorstene buite die tralies, en ek begin begryp wat hy sê.

“Niemand weet wat ek vermoed nie. Hoe kan ek dit so geheim hou? En tog wys ek my hart soms skielik en geheel en al. Ek wys hulle my drome en pleit dat hulle moet verstaan. Ewig is ek wat droom, ouer as die wêreld. Ek wys my hart wanneer ek so swaar en helder van my droom geword het dat ek die ewige in my soos ’n toring in hulle moet opbou, woord vir woord. Wanneer ek kan sien hoe ek buite myself gestalte aanneem, belewe ek weer my geboorte in die wêreld. Ek moet lewe – kyk in my hart wanneer ek dit vra, maar wond my nie. Ken julle die pyn?

Die digter sê: ‘om elke engel is verskrikking’, omdat hy dit soms reggekry het om in ’n donkerte soos voor blinde oë, woord vir woord sy eie beeld op te bou, deurstraal soos glas, vreeslik. Weet hulle dat jy jouself moet vrees wanneer jy buite jouself so helder gestalte aanneem? Vrees is altyd: vrees dat ek my droom verydel omdat ek swyg, vrees dat ek sal sterwe sonder om te lewe.

Ek wys my hart en dan, terwyl ek pleit, verlang ek na die ver­nietiging van alles wat my tussen die groot, leë dae vasdruk. O droom, word helder soos die wassende maan in my en lei my tot kennis. En laat daar dan geen vrees wees wanneer ek my uiteindelik vry en skitterend sien nie. Niemand weet hoeveel ek sien nie. Hoe sal ek my droom vertel? My woorde is ’n leuen wat wonde toedien. Want, sien julle, wanneer ek na woorde moet soek, pynig ek my. Dan moet ons liewers komedie speel, soos die besielende harlekyn, maar om elke harlekyn is smart.”

Verwonderd het ek bly sit lank nadat hy die park verlaat het, en toe ek weer tot my omgewing kom, sit ’n tweede in sy plek. Hy is ouer as die eerste, maar aan sy gesig merk ek die tekens van ’n vroeë skoonheid. Sy hande is teer en hy breek vir die voëls wat kwetterend oor die grasperk wip, stukke van sy toebroodjies af. Nadat hy klaar geëet het, begin ook hy gesels en gesteurd kyk ek na hom, maar hy merk my nie en sy lippe is stil.

“Ek het die wellus geken en dit verklaar as ’n ydele koors wat mettertyd moet keer en ontlaai. So ook swel die botsel, deur sy sap geprikkel tot angs en die bloesem. Die blom is die rus.

Ek het begeerte geken, en dit was anders, want wanneer iets van die hart en siel met drif vermeng is, is dit nie meer bloed wat blindelings soek nie, maar die hele mens in sy volte.

Ek het ’n sterk rivier gesien, die gevangene van skepe en mure, en daarna dieselfde rivier in vrye vaart na die see. En toe gewaar ek die son in sy laaste, ontsaglike gloed: een oomblik ’n vlam waarteen die skerp, verstrengelde hoeke en spitse van ’n stad tot ’n woede van lig ontbrand.

Swaar wolke het gekom om die son uit te doof en ek moes sien hoedat die stad vergeefs na daardie laaste glans probeer soek – ’n groot grys stad: skielik vol letsels en oneindig vermoeid. Met ’n enkele dowwe lamp het hy gesoek en toe gewag, baie stil. Eindelik gewaar ek hoe hy hom orals met sy lampe bedek en daarna diep in die nag wegskuil, waar niemand sy oë sou sien nie. In my bed het ek omgerol, elke keer as hy sy vraag stel, hierdie omnagte stad.

Ek het gedroom en my weer as ’n jongeling ontmoet, een wat die wellus blymoedig gevolg het, keer op keer – en ná elke keer minder blymoedig, want die omhelsing was ’n klein vergetelheid waaruit ek elke keer tot myself teruggekeer het, nóg ryker nóg armer. Ek was ’n tempel waarin iets wonderliks sou gebeur, en dit het nie gebeur nie.

Toe is die begeerte in my gebore en strate en fonteine het met my gepraat, want stede bou hulle van voor af in ons op, steen vir steen, wanneer die hart se onrus in die bloed begin roer. Ná elke vervoering wil ons skoner verder gaan; as die buitengewone met ons gebeur, hoe kan ons daarna net soos vroeër handel en leef? Ná elke vervoering soek minnaars weer die eerste ontmoeting in mekaar se oë. Daarom was my beminde nêrens tot ’n bekende figuur verstrak nie. Uit die oë van vreemdelinge het sy my begroet, en elke wedersydse blik was ’n bekentenis voor ons weer uiteen moes gaan.

Dit was my eensame vreugde: om in die oë van ’n ander net een telling naak en verwonderd te staan. Maar soos destyds het ek aan my eie beeld in die spieël steeds die ou vertroude tekens gewaar, totdat wanhoop my later gelei het na een van hulle in wie ek myself herken het. Ons slaap was die laaste ontbinding. Ek kon haar nie meer herken nie, want haar gesig was sonder gelaatstrekke, en tussen ons het ’n woesteny, ’n stad in puin gelê. In die eerste lig van die dag het sy haar hand om myne gevou, en ook sy was droewig.

Waar is my beminde nou? Sy groet my naamloos uit vreemde oë. Begeerte is kosbaarder as vervulling. Voorwaar, hy wat geslote bly, en jou nie gering wil sien nie, hy is jou minnaar en jou broeder.”

Hy het langsaam opgestaan en uit sy sak ’n laaste korsie vir die voëls gehaal, en toe weer in die rigting van die naaste straat gestap. By die hek het hy opsy geswenk vir iemand wat op pad na die tuin was, en nuuskierig het ek op die bank gebly om te sien of hierdie derde persoon ook langs my sou kom sit. Toe hy nader kom, pluk hy ’n roos langs die weg – en verskrik deur sy beweging, vlie die voëls uiteen.

Moeg, soos iemand wat ver geloop het, sak hy langs my neer. ’n Ruk sit hy stil en asemhaal, dan trek hy sy skoene uit, kriewel met sy tone genotvol en leun eindelik agteroor met sy koerant oor die oë en die blom in sy hande. Agter die swart drukletters het sy gedagtes begin.

“Selfs die honde moet slaap, maar daar is so min verskil tussen ’n bewuste en ’n onbewuste hond, seker omdat hulle nooit heeltemal bewus óf onbewus is nie – so ’n tussen-lewe. ’n Hond se bestaan is ’n onderbroke droom. Met mense is dit anders. Hoe afsydig is slapende mense nie: sonder naam en rasloos. Die slaap verhef hulle tot die engele – en siel en liggaam is nooit so met mekaar vervloei wanneer ’n mens wakker en handelend is nie.

Bedags is hulle vormloos, asof woorde en blikke en lyfbewegings gedurig uiteensplyt – en wat versprei is, gaan tot niet. Daar is niks so dwingend soos die persoonlikheid van ’n slapende nie. Wat bedags in alle rigtings losgelaat is, het eindelik weer ’n geheel geword. Slapendes is oneindig meer as wakendes. Slapendes is geheel en al siel, onmiddellik en oral aanwesig, en daarom is die liggaam dan so skoon: dit rus weer volkome binne die siel, waar dit elke gewaarwording deel, en waar die weer herskep word, asof vir die eerste maal, ’n volmaakte, tydelike roos. Slaap is die siel se ontdekking, sy gawe aan die liggaam waardeur dit elke nag tydelik van die gebondenheid aan omgewing verlos word.

Slapendes is biddendes, hulle verkeer met God. Die kluisenaar en die heilige bid hulself los uit die wêreld soos elke besige stedeling dit snags onbegrypend doen. Toe ek ’n kind was, het die skielike ontmoeting met iemand wat bid my altoos verstom. Ek onthou die beeld van my vader op sy knieë: die stilte van sy liggaam, die onbekende uitdrukking op sy gesig. Dit was asof hy alreeds ’n geruime tyd ver reis en niks meer van die knielende liggaam onthou nie. Ek kon nie onthou dat kinders so lyk wanneer hulle bid nie, maar jong kinders is nooit geheel en al van die wêreld nie. Wanneer hulle bid, is hulle nie baie ver van hulself verwyder nie; my vader s’n was ’n veel langer reis as myne.

Tussen slaap en gebed is daar een verskil. Gebed begin met die gerigte wil, en slaap met die wil in beswyming. Mense is sonderling begenadig om die siel met twee weë te kan bereik. Slaap was die eerste weg waarlangs die siel na die eerste mens gereis het, en toe hy weer in sy paradys ontwaak, was hy nie meer alleen nie.

Ek is nie alleen in die vlees nie en hierdie roos is nie alleen in die vlees nie – maar ons is altyd eensaam soos in die begin. Met oë sien ek hierdie roos en hy ken die gevoel van my vel teen sy tere blad, maar wat weet ek van sy reis? Blom, waarom het jou siel jou so fyn en rooi en eienaardig gevorm? Is jy sy eerste skepping, of die opsomming waaruit alle onnodige besonderhede weggelaat is, van al sy vorige liggame? Jy praat nie soos ons nie, jy die mistikus, want jy het geen behoefte meer aan woorde nie. Nou weet ek hoe lank jy al reis, dit duisel my om daaraan te dink. Jy skep nie meer nie, want jy ís, en dit is genoeg. Vir my is dit nie genoeg dat ek is nie, en vir my tydgenote: ook hulle verbrei nog steeds die self wat hulle as kind ontdek het. Ons moet aan dit wat ons ontdek het, gestalte gee sodat andere ook mag weet.

In nagtelike drome sien ek vreemde vorms: onherkenbaar gebou, en soms – alleen met hulle – onthou ek iets. Maar wanneer ek ontwaak, het ek reeds lankal vergeet. Uit wat ek vergeet het, berym ek my lied.”

Meteens kom die spreker lenig orent, soos iemand wat sy tyd verspil het. Haastig trek hy sy skoene aan, en toe hy opstaan, steek ’n grashalm nog by een hakskeen uit. Neurieënde stap hy weg na die stad. En ek onthou dat ek van plan was om ’n sekere skildery in ’n gebou hier naby te besoek.

Versamelde werk: Sheila Cussons

Подняться наверх