Читать книгу Versamelde werk: Sheila Cussons - Sheila Cussons - Страница 5

Twee drome

Оглавление

Dit is ’n brandende see en ek is daarin, ’n klein geparaliseerde liggaam ongeveer ses jaar oud. Rondom my is dit donker, asof hierdie see aan die onderkant van die wêreld woed. Die vlamme is in die golwe; hulle knetter soos vuur agter glas maar het geen hitte nie, net ’n vreeslike kleur en klank.

Ek is, êrens in ’n helder kol binne my paniek, daarvan bewus dat die enigste lig in my spartelende liggaam gekonsentreer is, want alleen die vlamme wat die naaste aan my beweeg, is ’n donker en deursigtige rooi; dié wat buite hierdie woedende kolk vou en terugvou, is byna onsigbaar, en agter hulle strek ’n waterduisternis of ’n duisternis van vuur – ’n swart vuur met ’n rooi hart en binne die hart my blink sparteling terwyl ek herhaaldelik na my vader roep.

Dit is donkerder, maar diep en skoon. Dit is miskien vroeër of later as die swart vuursee. Ek is trots en vol verwondering en ek gehoorsaam ’n bevel: om effens vorentoe te stap en dan op te kyk. ’n Ligte wind begin waai, baie koel, en dit is die teken. Met my kop agteroor kyk ek op, na ’n wonderlike sterreboog. Links en regs van my op dieselfde vlak as dié waarop ek staan, spring twee wit pilare omhoog en oneindig ver bo my ontmoet hulle mekaar, vorm hulle die boog, eenvoudig, manjifiek.

Ek weet wat ek moet doen en beweeg nader: die sterre waaruit die geweldige argitektuur ontstaan het, is nou een vir een sigbaar, net soos die skakels van ’n ketting, dog verblindend. Ek is byna onder die boog.

Skielik, ’n nuwe kennis, dit is nog nie tyd nie. Iets is aan jou openbaar: jy sal dit onthou, lank na ander dinge vergeet is. Wat so pas gebeur het, moet nog gebeur. Verstaan jy?

Ek ontwaak, en lê stil omdat ek nie meer wil lewe nie. Smart begin, soos pyn in ’n nuwe wond, maar iemand, of liewer, ’n soort abstrakte verstand wat nie hier in die kamer hoort nie, redeneer rustig met my. Dit is nog nie tyd nie, dit is joue maar jy moet nog wag daarvoor.

Ek moes toe geslaap het. Twee dae lank is ek geseën. Ek weet, want daar was iets op my voorkop: ’n sagte drukking of ’n sensitiwiteit van die vel.

Versamelde werk: Sheila Cussons

Подняться наверх