Читать книгу Versamelde werk: Sheila Cussons - Sheila Cussons - Страница 11

Tekens

Оглавление

Die vader het haar een middag saam met hom na ’n vriend se huis geneem om na ’n “draadlose toestel”, die enigste in die dorpie, te gaan kyk. Die vriend was baie in sy skik daarmee. Saam het hulle voor die voorwerp gesit en allerhande knoppies heen en weer gedraai. Hulle het vergeet dat die kind ook by hulle was, en toe het sy maar by die helder venster gaan staan, haar ken en elmboë op die onderste raam gestut. Groot blomme en blink bye het geskitter soos sonne, buite in die bewende hitte. Dit het ’n mens vaak laat voel, asof jy swewe.

Plotseling is daar duisende klanke in die stil, warm wêreld, soos ’n storm, soos mense wat oor mekaar spring en strompel. En binne-in haar ore en liggaam skud en tuit die musiek wat deur haar vader en sy vriend in die kamer verlos is. Buite draai die bye en blomme soos wiele, en myle blink hemel is nou vol van die klanke. Die groot musiek is orals. Dit sal altyd wees, want haar vader en sy vriend het dit vrygelaat en hulle sal dit nie weer vang nie.

Die kind is eensaam. Sy sou graag met iemand wou gesels, maar sy mag nie. Hier in die donker vrykamer moet sy lê en rus, terwyl die wêreld buite sy kleur en klank uitgelate vier. Tussen die hortjies van die luike lê blink geel strepe. Dis te koud in die kamer; dit het ’n donker reuk van motballetjies. Iets hou ’n mens se oë wyd oopgesper in ’n donker kamer wanneer jy weet dat dit nog middag is. Een van die dae sal dit Kersfees wees, maar die kind kan nie meer die vorige een onthou nie – dalk is hierdie een die eerste.

Sy het prente van ’n Vader Krismis gesien, maar in die prente was sy naam Sint Niklaas. Die kind sal graag nóú met hom wou gesels. Sy gaan dit probeer, want sy het alreeds ontdek dat jy mense en dinge kan maak as jy stip in die donker kyk en hard dink.

Nou draai sy op haar linkersy weg van die muur af, en kyk lank oor die swart vloer tot teenaan die klerekas waarin tant Hettie se hoede nog lê – sy het vergeet om hulle saam met haar terug te neem. Dit kom stadig, die iets wat jou laat weet dat jy nie meer alleen is nie; dan verdwyn dit weer. Haar oë word moeg en haar kop pyn al. Vanmiddag wil niks gebeur nie.

Vandag het hulle haar nie lief nie: die ander mense wat soms vir haar kom kuier as sy baie alleen is. Maar sy vra hulle om te help met die Vader Krismis – en, dáár verskyn die iets weer. Jy kan dit nie sien nie, maar jy moet dit glo, dan kom dit al nader en nader. As jy nie glo nie, haat hulle jou, daardie mense.

Die kind het Vader Krismis gemaak. Hy staan nou vlak by haar en hou sy arms oop. Maar sy is nie heeltemal tevrede nie, want sy sou hom graag wou sien net soos jy ’n vlees-mens kan sien. Tog moet jy glo, anders verdwyn hy heeltemal. Die kind staan regop in die middel van die bed en wankel effens. Sy strek haar hande uit na hom. Maak jou oë toe. Klim in sy arms. Maak jou oë toe. Klim in sy arms. Maak jou oë toe. Glo!

Dit kan gebeur! Dis nie net ek wat daaraan glo nie. Vandag het ou mnr. T.G. vertel dat dit met hom ook gebeur het. Dit moet waar wees, want anders sou hy nie so regop in sy stoel gesit het terwyl hy met sy teekoppie in die lug beduie het nie. Hy het vir Vader en Moeder vertel en ek het aandagtig geluister. Vader het vir mnr. T.G. iets opsy gesê, en na my kant toe geknik.

“Hmm?” vra mnr. T.G. Weer fluister Vader en kyk nou na Moeder. Moeder kyk na my. Mnr. T.G. kyk na my. Hy wys met sy koppie na my en sê skielik baie hard sodat ’n aar op sy nek uitstaan: “Luister na my, julle twee. Daardie kind verstaan my. Sy is die beste gehoor wat ek nog ooit gehad het!” Mnr. T.G. is baie oud en slim.

Die musiekonderwyser aan die kind: “Een, twee, drie – een, twee, drie – al-le ding-e het-’n plan! Nee wag, al-le ding-e het ’n-plan. Hm-hm. Sien? So! Jy moet altyd tel as jy speel. Dis nie sommer ’n klomp holderstebolder klanke nie; dis ’n patroon. Jy kan nie een noot wegvat of verander nie. Toe, nou weer! Dis beter, maar nog nie goed nie. Luister, kind, luister na die týd. Hier is ’n woordjie om te onthou: tyd, tempo. Sien? Nou kom ons begin weer van voor af. Van vóór af, sê ek. Speel dit deur terwyl ek luister, hier met my hand voor my oë soos een van die gehoor by ’n groot konsert. Ai, kyk hoe stil sit die spelers en wag; nie ’n hoesie nie; almal kyk net na daardie stok in die dirigent se hand. Daar begin dit nou effens te beweeg, stadig . . . die teken vir net twee instrumente om saggies te begin. Jy tel nie reg nie. Toe ek ’n kind in Salzburg was . . . dis reg, dogtertjie; nou gaan dit beter. Speel die hele ding vir my oor, dit kán so mooi wees. Dit word mooi, mooier, hm; tirra, tirra, tumpta . . . opgewekter darem: dis nie ’n gebed nie. So ja, dis nou genoeg, en jy is bly daaroor. Kyk tog watter snaakse ore het die meisie: staan so weg van die kop af, net soos ’n wisselkind s’n.”

Versamelde werk: Sheila Cussons

Подняться наверх